• Login
  • Search Icon

Nuusflits | Mieliesomme

12 Sep 2017

Alternatiewe om te oorweeg vir die nuwe seisoen

Die nuwe seisoen lê voor en produsente moet alweer begin beplan daarvoor. Die huidige seisoen se rekord mielieoes van 16.4 miljoen ton plaas die pryse onder druk en dus ook die winsgewendheid van produsente. Die hoof fokus in die markte is tans op die tempo van uitvoere en dit sal ʼn groot rol speel in die eindvoorraad van mielies aan die einde van die bemarkingseisoen. Daar is tans al ongeveer 1.2 miljoen ton mielies uitgevoer terwyl daar ʼn uitvoerbare surplus van ongeveer 4.2 miljoen ton beskikbaar is vir die seisoen. Die optimale venster vir uitvoere is ook al besig om verby te gaan met die Amerika wat eersdaags begin stroop. Die gevolg is dat daar waarskynlik aan die einde van die bemarkingseisoen groot oordragvoorraad van mielies sal wees wat die pryse onder druk behoort te hou vir die volgende seisoen wat die beplanning vir die nuwe seisoen uitdagend maak. Daar is verskeie alternatiewe wat produsente oorweeg vir die volgende seisoen en van hierdie strategieë word vervolgens bespreek.

Koop “futures” vir lewering in Julie 2018

Hierdie is ʼn strategie wat in baie gevalle maklik oorweeg word deur produsente en dit klink aanloklik. Die strategie behels dat die produsent nie mielies plant vir die komende seisoen nie, maar eerder van die insetkostes wat spandeer sou word gebruik om mielies op die SAFEX termynmark te gaan koop vir lewering in Julie 2018. Die redenasie is dat indien die produsent nie mielies plant nie volgende seisoen se aanbod laer gaan wees wat die pryse kan ondersteun. Die kostes om dieselfde hoeveelheid mielies te koop is aansienlik laer as om die hektare te plant wat die strategie in baie gevalle ook aanloklik maak. Daar is egter verskeie risiko’s wat die produsente in gedagte moet hou wanneer hulle van hierdie strategie gebruik maak. Die feit dat jy net mielies op die mark gaan koop en nie die fisiese mielies gaan plant nie plaas die produsent in ʼn spekulatiewe posisie wat kan lei na ernstige negatiewe finansiële nagevolge. Indien die produsent die mielies op die mark gaan koop beteken dit dat die pryse gaan moet toeneem vanaf die datum wanneer die kontrakte gekoop word tot en met Julie 2018. Die huidige mieliepryse vir lewering in Julie 2018 is ongeveer R2 000-R2 100 per ton terwyl die uitvoerpariteitsprys vir lewering in Julie 2018 ongeveer R1 600-R1 700 per ton is. Die waarskynlikheid is egter baie groot dat die pryse gedurende Julie 2018 nader aan die uitvoerpariteitprys behoort te verhandel.

Plant slegs die beste hektare en verskans

Met hierdie strategie moet die produsent slegs sy beste hektare aanplant waar die waarskynlikheid hoog is om bogemiddelde opbrengste te verkry vir die seisoen. Dit sal die produsent in die posisie plaas om ʼn gedeelte daarvan met meer gemak te kan verskans teen die huidige prys vir lewering in Julie 2018. Die gedagte met die gebruik van hierdie strategie is ook om die kostes te sny asook die risiko’s en moontlike verliese te beperk.

Plant beste hektare en koop put-opsies

Met hierdie strategie moet die produsent ook oorweeg om net die beste hektare te plant, maar in plaas van te verskans met ʼn vaste prys kontrak kan die produsent put opsies op die SAFEX mark koop vir lewering in Julie 2018. Dit sal die produsent die geleentheid bied om vir homself ʼn minimum prys vas te stel waarteen hy sy mielies kan verkoop wanneer hy dit stroop, maar steeds kan deel sou die pryse sterker verhandel in Julie 2018.

Ten slotte

Hierdie seisoen wat voorlê gaan vir die produsente heelwat uitdagings inhou en die produsente sal goeie beplanning moet doen vir die komende seisoen. Die waarskynlikheid dat die pryse volgende jaar weer teen ʼn uitvoerpariteit kan verhandel is ʼn realiteit en dus moet produsente hulle berekeninge en besluite daarvolgens baseer. Dit gaan belangrik wees vir produsente om in hierdie seisoen goeie finansiële besluite te neem en dat hulle vertroud is met die risiko’s wat die verskillende alternatiewe inhou. Produsente moet sover moontlik wegbly van onbekende strategieë wat nie algemeen gebruik word nie, maar moet eerder fokus op die goeie finansiële bestuur om te verseker dat hulle die jaar deurgaan en hul risiko’s en verliese sover moontlik te probeer beperk.

Om die inligting volgens jou eie syfers te voltooi, klik op hierdie skakel

 

Tabel 1: Vraag en aanbod scenario’s volgens verskillende uitvoere

Tabel 2: Verskillende verskansings scenario’s en opsies rakende nuwe seisoen (Toets ook jou eie syfers deur op hierdie skakel te klik)