• Login
  • Search Icon

Wortelvrot: Uit die oog, uit die hart?

September 2014

MARYKE CRAVEN, LNR-Instituut vir Graangewasse

As plantpatoloog het ek die voorreg gehad om ‘n geruime tyd op die wortel- en kroonvrot van mielies te werk. Oor die jare was ek dus gereeld in gesprek met produsente en is die indruk by my geskep dat menige produsent oortuig is dat wortelvrot nie op sy plaas ‘n probleem is nie.

Wanneer ‘n mens dan vra of daar gereeld plante uitgespit word om spesifiek die siektegraad te bepaal, erken meeste produsente dat dit dalk nie so gereeld gedoen word nie, maar dat die plante op die oog af “mooi” lyk.

Sou daar dan ‘n kwart of ‘n half ton minder per hektaar in vergeleke met die vorige seisoen gestroop word, sal die laer reënval byvoorbeeld die skuld kry. Nou ja, dit is dalk so, maar dit is alombekend dat elke plant in elke seisoen een of ander graad van wortelvrot sal hê en ongelukkig sal die plant se sigbare voorkoms nie altyd verklap as daar iets fout is nie.

Wanneer plante swak groei, of vroegtydig vrek, is dit relatief eenvoudig. Plante sal uitgeskoffel word en die wortelvrot ondersoek word. Planne sal dan inderhaas gemaak moet word om te keer dat die volgende seisoen nie ook so traumaties eindig nie. Die vraag wat egter bly opkom, het te doen met die grys areas van wortelvrot.

Watter invloed sal daardie “minder ernstige” grade van wortel- en kroonvrot hê wat nie in die plant manifesteer nie? Anders gestel, as jy die simptome nie op die bogrondse plantdele sien nie, maak dit dan enigsins saak?

In ‘n LNR-studie in die Vaalharts-omgewing waarvan die resultate in 2011 gepubliseer is, is ‘n opbrengsverlies van 1,8 ton/ha ervaar vir ongeveer elke 25%-toename in wortelvrot. In 'n verdere studie in die Ventersdorp-omgewing (droëland) kon die opbrengsverlies vir elke 5% toename in kroonvrot gedurende die 2012/2013-seisoen bepaal word.

Om die implikasie van laasgenoemde waarnemings dus te vereenvoudig, kan ons soos volg daarna kyk: 5% vrot sal nie die groei van die plant tot so ‘n mate aantas dat daar visuele simptome in die bogrondse plantdele manifesteer nie, maar desnieteenstaande is ‘n geskatte opbrengsverlies van R600/ha reeds gely (droëlandopbrengspotensiaal van 3 ton/ha teen R1 800/ton). Wortel- en kroonvrot (Foto 1 en Foto 2) kan dus ongesiens winste wegdra sonder dat enige iemand iets vermoed.

image image

Soos reeds genoem, sal elke plant ‘n graad van wortelvrot hê – dit is so te sê onvermydelik. Die hoofrede hiervoor is dat wortelvrot in werklikheid ‘n siektekompleks is met verskeie swamme wat betrokke is oor tyd.

Bakterieë, aalwurms en wortelvoedende insekte vorm ook deel van die kompleks. Die aantal swamme wat op ‘n spesifieke stadium op wortels voorkom, verskil volgens groeistadium van die gasheerplant, omgewingstoestande, genotipe asook voorafgaande gewas.

Verder verskil die swamme ook in hul vermoë om plante te infekteer. Hulle vermoë om te kan infekteer is ook gekoppel aan hul klimaatvereistes. M. phaseolina (wat houtskoolvrot veroorsaak) infekteer baie goed onder droë, warm toestande, terwyl F. graminearum (veroorsaak Gibberella wortel-, kroon- en stamvrot) weer beter vaar onder meer vogtige toestande.

Beide die swamme lê dus in die grond en wag vir toestande waarvan hulle hou, om te kan infekteer. Wortelvrot sal dus voorkom, maar die swam wat dit uiteindelik sal regkry om te infekteer asook die graad van infeksie, sal verskil na gelang van die seisoen.

Om egter die probleem van wortel- en kroonvrot net te ignoreer omdat dit so onmoontlik klink om op te los, is nie die antwoord nie. Vir elke 5%-vrot wat voorkom kan word, is daar 'n persentasie potensiële wins waarby gebaat kan word.

Deur praktyke toe te pas wat byvoorbeeld poog om die inokulumvlakke van die swamme te verminder en wat ook sal voorkom dat plante onder stremming verkeer gedurende die seisoen, kan daartoe bydra dat potensiële wortel- en kroonvrot beperk word.

Die eerste stap is om presies te weet wat besig is om op die lande te gebeur. Dit is moontlik deur die lande op ‘n gereelde basis dwarsdeur die hele seisoen te monitor. Deur gedurende ‘n spesifieke jaar noukeurig op te let, kan ‘n produsent beter bestuursbesluite neem wat betref die komende seisoen.

Verskillende siektes sal verskillende beheerstrategieë vereis. Kennis rakende watter siekte ‘n probleem is, hoe wydverspreid die probleem is asook die siektegraad, moet dus verkry word.

Die volgende stap is wisselbou. Wisselbou is een van die mees praktiese strategieë vir siektebeheer, maar word die meeste oor die hoof gesien. Baie mieliesiekteprobleme kom voor wanneer mielies in mono kultuur verbou word.

Meeste van die swamme wat mielies aanval, is slegs in staat om op die gewas of sy reste te oorleef. Deur ‘n mieliegewas dus uit die stelsel te haal, word ‘n bepaalde swam afgesny van sy hoofbron vir oorlewing.

Sommige siektes kan egter by meer as een gewas voorkom. Korrekte identifikasie van die swamme is dus noodsaaklik.

Volgende op die lys is onkruidbeheer. Onkruide kan dien as gashere vir swamme, virusse en insekdraers van plantsiektes. Saadbehandeling is ook ‘n belangrike faset om veral saailinginfeksies te onderdruk.

Laastens moet produsente alles in hul vermoë doen om te verhoed dat plante onder stremming verkeer, byvoorbeeld deur blaarsiektes doeltreffend te beheer, by aanbevole plantestand te hou en gewasse of kultivars te kies wat goed aangepas is vir die omgewing waarin dit geplant word.

Produsente is welkom om die LNR-Instituut vir Graangewasse te kontak by 018 299 6100 met enige verdere navrae.

Publication: September 2014

Section: Focus on

Search