• Login
  • Search Icon

Wintergraantrust stel fondse vir navorsing beskikbaar

January 2012

AWIE COETZEE, ADMINISTRATEUR, WINTERGRAAN TRUST

Die raad van trustees van die Wintergraantrust het op ‘n vergadering gehou op 25 Oktober 2011, besluite geneem met betrekking tot die beskikbaarstelling van fondse ter ondersteuning van ‘n verskeidenheid van navorsingsprojekte wat op wintergraan betrekking het.

Toekennings ten opsigte van die onderskeie kommoditeite is soos volg:

Koring – R24 200 000
Gars – R2 585 992
Hawer – R351 800

Die fondse wat deur die trust beskikbaar gestel kon word, is fondse wat by wyse van statutêre heffings gevorder is tesame met die renteverdienste daarop.

Projekte wat vir die komende jaar finansiële steun vanaf die Wintergraantrust sal ontvang, is soos volg:

Koring

Universiteit van Stellenbosch

  • Identifikasie en beheer van toksienproduserende Fusarium-spesies in koring
  • Die doeltreffendheid van stikstoftoedienings in die koringproduserende gebiede van die Wes-Kaap
  • Voorteel-program vir die verbetering van roesweerstand in koring deur middel van herhalende massaseleksie
  • Russiese koringluis weerstandgenes in koring: Ontwikkeling van hoë-deurset merkerondersteunende seleksie

Pannar

  • Koringteelprogramme

Sensako

  • Koringteelprogramme

Universiteit van die Vrystaat

  • Biochemie van weerstand in koring teen biotiese stresfaktore
  • Ontwikkeling en aanwending van merkerondersteunde seleksiesisteme vir volwasse plantweerstand teen roessiekte in koring
  • Evaluering van koringkultivars en -lyne vir genetiese weerstand teen roessiektes
  • Reaksie van koringkultivars op Fusarium aarskroei
  • Merkerondersteunde terugkruising van verskillende roesweerstandsgene asook Fusarium aarskroei-weerstand na Suid-Afrikaanse koringkultivars

LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI)

  • Koringteelprogramme
  • Nasionale koringkultivar-evaluasieprogramme
  • Tegnologie-oordragprogram
  • Optimalisering van plantdigtheid en planttyd vir koringkultivars in Suid-Afrika
  • Beheer van Karnalbrand
  • Voorafteling vir Russiese koringluisweerstand teen Biotipe B
  • Luis-afweermiddels om die oordrag van die “Barley yellow dwarf”-virus deur luise in koring te beperk
  • Weerstandbiedende kultivars as alternatief in die koste-effektiewe bestuur van aarskroei in kleingrane
  • Evaluering van weerstand van onkruid teen onkruiddoder
  • Evaluering van vooroes uitloop in koring
  • Bepaling van ekonomiese drempelwaardes vir toediening van swamdoder op koring
  • Monitering van die voorkoms van roes in die koringproduksiegebiede
  • Ontwikkeling van roesweerstand-kiemplasma
  • Evaluering van koringteelmateriaal vir weerstand teen die Russiese koringluis
  • Gebruik van Russiese koringluis-weerstand kiemplasma vir die ontwikkeling van kultivars met weerstand teen die Russiese koringluis
  • Biologiese beheer van bolwurm op koring
  • Bestuur van biotipiese diversiteit van die Russiese koringluis
  • Optimalisering van die effektiwiteit van onkruiddoder
  • Die langtermyninvloed van grondbewerkingsmetodes op grond onder koringproduksie in die Oos-Vrystaat
  • Vestiging van direkte saadplasing en geenbewerkingspraktyke in die produksie van kleingraan in Suid-Afrika
  • Ontwikkeling van ‘n beheerstrategie vir die blaarmyner Agromyza ocularis in koring en gars
  • Die toepassing van weefselkultuurtegnieke in koring- en garsteelprogramme om komplekse genetiese eienskappe aan te spreek
  • Die toepassing van molekulêre en weefselkultuurtegnieke om probleme met siekteweerstand in koring en gars op te los
  • Versameling en instandhouding van kleingraankiemplasma
  • Introduksie en evaluering van nuwe internasionale kiemplasma
  • Seisoenale voorkoms van vals bolwurm in die besproeiingsgebiede van die Noord-Kaap

Universiteit van Johannesburg

  • Verhoging van die sistemies-geïnduseerde weerstand teen die Russiese koringluis in koringkultivars

Departement van Landbou: Wes-Kaap

  • Evaluasie van koringkultivars in die winterreënvalstreek
  • Ondersoek na die produksiedinamika van agt wisselboustelsels insluitende koring, kanola, lupiene en weidingspesies in die Swartland
  • ‘n Ekonomiese en biologiese evaluasie van kort- en langrotasie graan- en graan/weiding-produksiesisteme in die Suid-Kaap
  • Die identifikasie van grondparameters as indikators vir volhoubare droëland-gewasproduksiesisteme vir die skaliegronde van die Wes-Kaap

CenGen

  • Vestiging van ‘n roetine molekulêre merkerdiens vir Suid-Afrikaanse koringteelprogramme

LNR-Instituut vir Plantbeskerming

  • Geïntegreerde bestuur van Fusarium kroonvrot en vrotpootjie by koring en gars in bewaringsbewerkingsisteme in die Wes-Kaap

SABS Kommersieel

  • Ontledings vir die teenwoordigheid van insekdoderresidu’s in koring en verwante verwerkte produkte

SA Graanlaboratorium

  • Bepaling van die Cadmium- en loodinhoud van plaaslike en ingevoerde koring

Gars

LNR-KGI

  • Garsteelprogram
  • Bepaling van ekonomiese drempelwaardes vir toediening van swamdoders op gars

SA Barley Breeding Institute (SABBI)

  • Garsteelprogram

Universiteit van Stellenbosch

  • Ondersoek rakende die optimale organiese stikstofprofiel vir gis in garswort

Universiteit van die Vrystaat

  • Besproeiingskedulering van gars
  • Invloed van genotipe, temperatuur, vog en gasvervanging op die dormansie van gars vir die broubedryf

CenGen

  • Omvattende siektebestuurstrategie vir moutgars

Hawer

LNR-KGI

  • Hawerontwikkelingsprogram

Opsomming

Die totale toekennings aan die onderskeie organisasies betrokke by die projekte wat gefinansier sal word, word in Tabel 1 weergegee.

image

Voorwaardes vir befondsing

Soos in die verlede, sal slegs 80% van die fondse wat aan elk van die projekte toegedeel is, onmiddellik betaal word terwyl die oorblywende 20% betaal sal word ná ontvangs van ‘n verslag ten opsigte van die betrokke projek wat bevredigende vordering toon.

Die raad van trustees het weer fondse beskikbaar gestel vir die opstel van ‘n verslag omtrent die kwaliteit van die plaaslike koringoes. Hierdie verslag sal deur die SA Graanlaboratorium saamgestel word, wat ook ‘n opname sal maak van die kwaliteit van ingevoerde koring. Ondersteuning aan hierdie opnames word gebaseer op werklike koste aangegaan.

Fondse is ook bewillig vir ‘n opname deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde om die teenwoordigheid, al dan nie, van insekdoderresidu’s op koring en verwante verwerkte produkte te bepaal.

Betaling van fondse ten opsigte van alle kultivarteelprogramme sal onderhewig wees aan die ondertekening van ‘n ooreenkoms rakende die eienaarskap van kiemplasma, sou die betrokke organisasies besigheid staak of onttrek aan teelaktiwiteite.

Transformasie

Die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye het die heffings as statutêre heffings afgekondig op voorwaarde dat 20% van die heffingsinkomste gebruik word vir die ontwikkeling van opkomende swart produsente. Die raad van trustees het hulself ten volle verbind om aan hierdie voorwaarde te voldoen en reserveer jaarliks 20% van die heffingsinkomste (vir die betrokke finansiële jaar) vir transformasiedoeleindes. Aansoeke om steun aan verskeie transformasieprogramme is oorweeg. Die volgende programme sal deur die trust ondersteun word:

LNR-KGI

  • Kleinboerontwikkelingsprogram
  • Identifisering van geskikte kultivars vir produksie deur opkomende produsente
  • Monitering van die vrugbaarheidstatus van opkomende produsente se grond

Graan SA

  • Kommersialisering van koringproduksie onder ontwikkelende produsente in die Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap
  • Skole-opleidingsprogram

SAB Barley Farm

  • Mentorskap aan afgestudeerde landboustudent uit “voorheen benadeelde” sektor

Fondse wat gereserveer is vir transformasiedoeleindes word ook beskikbaar gestel aan produsente-ontwikkelingsprogramme wat tans deur OVK Bedryf en VKB Bpk geadministreer word. Fondse vir hierdie projekte word deur die Grain Farmer Development Association (GFADA) gekanaliseer.

Streng kriteria word toegepas in die keuring van opkomende produsente wat aan die gemelde programme kan deelneem. Die doel met hierdie intensiewe ontwikkelingsprogramme is om produsente by te staan wie die potensiaal het om deel te kan word van die kommersiële stroom.

Publication: January 2012

Section: Input Overview

Search