• Login
  • Search Icon

Wetenskaplike kry erkenning vir haar werk

November 2012

ELMARIE SCHOEMAN, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

Professor Maryke Labuschagne is as 2012 se Graanwetenskaplike aangewys; vernaamlik weens haar betrokkenheid by en aktiewe bydrae tot die graanbedryf en haar fokus op die kwaliteit van kultivars.

“Dit is voorwaar ‘n voorreg om vanaand hier te staan. Dankie vir hierdie erkenning en veral dankie aan die produsente, wat die pilare in die graanbedryf is. Mag die graanbedryf in Suid-Afrika van krag tot krag gaan,” het Labuschagne tydens haar bedankingstoespraak gesê.

Labuschagne het in 1985 haar BScAgricgraad, en in 1986 haar BScAgric honneursgraad in Genetika aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Sy begin daarna haar landbouloopbaan by die LNR-Kleingraaninstituut as ‘n lentekoringteler.

Vanaf 1989 sit sy haar loopbaan voort as dosent aan die Universiteit van die Vrystaat en behaal die grade MScAgric en PhD onderskeidelik in 1989 en 1994 aan dieselfde universiteit. Sy is sedert 2003 professor en hoof van die afdeling Planteteelt in die Departement Plantwetenskappe.

Labuschagne doen reeds 20 jaar navorsing oor die faktore wat die gluten- en bakkwaliteit van Suid-Afrikaanse en verskeie ander Afrika-koringkultivars beïnvloed. Die effek van veral droogte, siektes en siekteverdraagsaamheid op die bakkwaliteit van koringkultivars, is gekwantifiseer.

Sy was ook betrokke by die teling van die sagtekoringkultivar, “Snack”, en het navorsing gedoen oor die kwaliteit van verskillende mieliekultivars, veral dié wat op klein skaal in Afrika, meestal sonder enige bemesting, verbou word. Sy is mede-outeur van ‘n hoofstuk in ‘n boek wat aspekte van hierdie navorsing behandel. Labuschagne is tot op datum outeur of mede-outeur van 129 artikels in erkende wetenskaplike joernale en was die aanbieder of mede-aanbieder van 66 kongresreferate.

Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) het hom tydens die oorhandiging van Labuschagne se toekenning, uitgespreek oor die belangrikheid van nuwe tegnologie, veral in landbou. Hy het ook gepraat oor die belangrike werk wat Labuschagne gedoen het om die land se kultivars te verbeter.

Publication: November 2012

Section: Other Articles

Search