• Login
  • Search Icon

Wes-Kaapse graanproduksie kry ‘n hupstoot met navorsing

August 2017

Dr Johann Strauss, Direktoraat Plantwetenskappe, Navorsing en Tegnologie Ontwikkelingsdienste,Wes-Kaapse Departement van Landbou

Volhoubaarheid, voedselsekerheid en klimaatsverandering is gonswoorde wat amper elke dag gehoor word. Vir die landbousektor is hierdie woorde egter ‘n daaglikse realiteit. Die droogte in die noordelike dele van ons land voor-verlede jaar en die afgelope twee seisoene se ondergemiddelde reënval in die Wes-Kaap, asook die huidige waterskaarste het net soveel meer klem kom lê op die dringendheid om antwoorde vir hierdie uitdagings te vind.

Navorsing speel ‘n integrale rol in die soeke na antwoorde en praktiese oplossings. Dit is egter nie moontlik om hierdie tipe navorsing in isolasie te doen nie. Om ander moontlikhede binne hierdie stelsel-benadering na te vors, vereis ‘n multidissiplinêre benadering wat nuwe toerusting-tegnologie insluit.

Die insluiting van hierdie nuwe tegnologie help om die bestaande navorsing te bevorder en daarom is navorsing ook afhanklik van
die bedryf. In die Wes-Kaap is navorsers baie bevoorreg dat die bedryf en produsente in die navorsing van die Direktoraat Plantwetenskappe van die Wes-Kaapse Departement van Landbou inkoop.

Dit is weer vanjaar die geval met besondere skenkings van Equalizer en X-Farm. Hierdie skenkings volg op soortgelyke sken­kings deur Rovic Leers en Piket Implemente.

Hoe pas die planters in by die huidige navorsing?
Om die skenkings van hierdie maatskappye in konteks te plaas, moet ons die agtergrond van die navorsing skets. Die langtermyn-volhoubare produksiestelselproewe van die Direktoraat Plant­wetenskappe (Wes-Kaapse Departement van Landbou) word op sy eie navorsingsplase en by produsente, in beide die Swartland (Langgewens) en Suid-Kaap (Tygerhoek, Napky en Riversdal), op bewaringslandboubeginsels bestuur en is gemik op die verskaffing van praktiese bestuursoplossings vir volhoubare produksie in ‘n veranderende klimaat.

Bewaringslandbou berus op drie basiese beginsels: Minimale versteuring van grond, diversiteit deur wisselbou en ‘n permanente bedekking bo-op die grond, hetsy deur plante of plantreste.

Wanneer al drie hierdie beginsels as ‘n holistiese stelsel bestuur word – met of sonder vee – word klimaatsverandering teengewerk deurdat minder koolstofdioksied vrygestel word en meer van die koolstof in die grond vasgevang word.

Minder wind- en watererosie is ook van die voordele wat uit hier­die manier van produksie geput kan word. Oor tyd wys die stel­selbenadering sy staal in volhoubaarheid van voedselproduksie en dra dit sterk by tot voedselsekerheid. Bewaringslandbou is ook een van die vyf strategieë wat deel uit maak van die Smart-Agriplan wat die Wes-Kaapse Departement van Landbou opgestel het vir die landbousektor om klimaatsverandering in die provinsie te bekamp.

Soos reeds genoem, is minimale versteuring van grond ‘n belangrike bousteen van die bewaringslandboustelsel. Die stelsel doen weg met die nodigheid van ‘n ploeg om ‘n saadbed voor te berei en maak van gespesialiseerde planttoerusting gebruik om die saad in die grond te plaas.

Dié spesialisplanters word geenbewerkingsplanters genoem en kan van tande (Foto 1) of skywe (Foto 2) gebruik maak om die saad­voor in die grond te maak. Die tandplanters versteur die grond bietjie meer as skyfplanters en daarom word die Engelse terme eerder gebruik om die masjinerie te beskryf. Tandplanters staan bekend as no-till-planters en skyfplanters as zero-till-planters.

Tot op hede is daar van tandplanters in die proewe gebruik gemaak en het dit uitstekende resultate gelewer en daarom maak die oorgrote meerderheid van graanprodusente in die Wes-Kaap van hierdie tipe planters gebruik. Die strewe na die behoud van bedekking bo-op die grond om as beskerming teen die wind, son en verliese in grondvog te dien, het egter ‘n probleem begin skep in die gebruik van die tandplanter.

Die tandplanter maak ‘n groef in die grond oop, wat ‘n minimale oorgooi van grond veroorsaak om sodoende ‘n perfekte saadbed vir die plasing van die saad in die groef te bewerkstellig. Sodra daar baie plantreste bo-op die grond is, kan dit tussen die planter se tande vashaak en probleme met die saadplasing en effektiwiteit van die planters veroorsaak.

Dit kan sodoende vertragings in planttyd veroorsaak – veral as die materiaal klam is. Hoe nou gemaak? Ons wil graag die materiaal behou en dit is waar die skyfplanters die moontlike antwoord kan wees. Hulle word ontwerp om materiaal te kan hanteer deurdat die skywe deur die plantreste sny en die saad nog steeds in die grond plaas.

Om die navorsing van die departement relevant te hou, is daar besluit om die inskakeling van skyfplanters te oorweeg. Na ‘n uitnodiging aan die bedryf om by hierdie navorsing betrokke te raak, het die vier bogemelde maatskappye, wat plaaslik planters vervaardig, aangedui dat hulle bereid is om by hierdie navorsing betrokke te raak.

Die eerste twee vervaardigers se skyfplanters is alreeds met sukses gebruik op Langgewens Navorsingsplaas (Swartland) en op Riversdal by ‘n proefarea op ‘n produsent se plaas. Alhoewel beide Equalizer en X-farm se skyfplanter-eenhede op daardie stadium reeds ontwikkel was, moes daar eers nuwe rame wat klein genoeg is om maklik tussen proeflokaliteite geskuif te kon word, ontwerp en gebou word.

Die kampe wat in die proewe geplant word, is nie so groot soos kommersiële plaaskampe nie en wissel tussen ‘n kwart en 2 ha in grootte. Dit is om hierdie rede dat beide maatskappye se planters eers hierdie seisoen in gebruik geneem is.

Die plantkonsepte van die twee nuwe planters verskil van mekaar, aangesien die Equalizer ‘n enkelskyf gebruik teenoor die dubbel­skyf van die X-Farm eenheid.

Meer oor die plantermodelle
Equalizer

Die Equalizer 2500DS (Foto 3) beskik oor twaalf enkelskyf-plant­eenhede met ‘n ryspasiëring van 203 mm. Die enkelskyf maak die groef vir beide die saad en die kunsmis oop en plaas die saad, waarna daar ‘n drukwiel volg om die saad in die groef vas te druk sodat daar goeie saad-grondkontak is.

Hierna volg ‘n wiel wat ontwerp is om die groef liggies toe te maak (Foto 4). Die model is vanjaar op Tygerhoek Navorsingsplaas (Riviersonderend) ingespan om die stelselproewe te plant en het uitstekend deur kampe met baie materiaal (gars- en medic-weiding), asook erg klipperige areas, geplant (Foto 5). Daar was ook geen ophoping van materiaal tussen die plantarms nie.

X-Farm
Die X-Farm NTXtream (Foto 6) beskik oor 14 dubbelskyf-plant­eenhede met ‘n ryspasiëring van 175 mm. Die dubbelskyf planter is só opgestel dat die groef deur die twee skywe oopgemaak word en die saad tussen die twee skywe in die grond geplaas word,
waarna die saad in die groef deur middel van ‘n drukwiel in goeie kontak met die grond gebring word (Foto 7).

Ook hierdie model is vanjaar op Tygerhoek ingespan om van die proewe te plant en het ook uitstekend gevaar (Foto 8).

Rovic Leers
Die Kuhn Neo beskik oor 13 dubbelskyf-planteenhede met ‘n ry­spasiëring van 170 mm. Die skywe word gevolg deur ‘n drukwiel (Foto 9).

Piket Implemente
Die Hydraulic geenbewerkingsboor (no-till drill) beskik oor 20 dubbel­skyf-planteenhede met ‘n ryspasiëring van 254 mm. Die dubbelskywe word voorafgegaan deur ‘n regop snyskottel en ge­volg deur drukwiele (Foto 10).

Samevatting
Die Direktoraat Plantwetenskappe is besonder beïndruk met hier­die nuwe planters, aangesien dit plaaslik vervaardig word en die ontwerpers ons plaaslike toestande ken. Die grond in die Wes-Kaap is altyd ‘n uitdaging omdat dit so vlak en klipperig is.

Daar is groot planne met die twee nuwe modelle en ons maak alreeds planne om van volgende jaar af ook in die Swartland- en ander Suid-Kaap-areas daarmee te plant. Daar gaan ook later vanjaar ‘n “loop en gesels”-sessie op Tygerhoek gehou word, so­dat produsente kan kom kyk hoe die gewasse lyk wat met hier­die planters geplant is.

Die Wes-Kaap Departement van Landbou is trots daarop dat vennote soos hierdie deel van sy navorsingspoging is en wil weer eens hierdie maatskappye bedank vir hul bereidwilligheid om in vennootskap met die departement na nuwe oplossings vir ons kleingraanprodusente te soek.

Verder dra hierdie navorsing ook by tot die deurlopende ontwikkeling en aanpassing van hierdie planters vir die ondersteuning van optimale en volhoubare produksiepraktyke.

Vir meer inligting, kontak dr Johann Strauss by johannst@elsenburg.com

Publication: August 2017

Section: Focus on

Search