• Login
  • Search Icon

Wes-Kaap: Bewaringslandboutoer en simposium 'n reuse-sukses

October 2014

LIANA STROEBEL, provinsiale koördineerder, Graan SA

imageOp 5 en 6 Augustus vanjaar, het die Bewaringslandbou Wes-Kaap vereniging (BLWK), wat deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou onderskryf word, in samewerking met die Biodinamiese Landbou Assosiasie van Suid-Afrika, ‘n bewaringslandboutoer onder leiding van dr Johann Strauss, in die Suid-Kaap en Swartland aangebied.

Die toer het op 5 Augustus by Spier naby Stellenbosch afgeskop waarna die groep mnr Heinrich Schonfeld in die Caledon-area besoek het. Die Suid-Kaap-toer is afgesluit met 'n besoek aan die Tygerhoek-navorsingsplaas naby Riviersonderend.

Besoeke aan die Swartland het op 6 Augustus by mnr Danie Rossouw, op die plaas Vryguns buite Malmesbury, voortgegaan waar na besoek aan die Langgewens-proeflaas asook aan mnr Kobus Bester se plaas buite Moorreesburg afgelê is.

Die twee dae se plaasbesoeke is baie goed bygewoon (75 mense en 50 mense onderskeidelik) en het aan produsente die geleentheid gebied om eerstehands te sien waarmee die voorlopers in bewaringsboerdery besig is en het lig gewerp op verskeie wisselbou- asook bewerkingspraktyke in die verskillende streke wat besoek is.

Elke besoek, hetsy daar navorsingsproewe of bestaande bestuurstyle bespreek is, was insiggewend en het produsente met baie gelaat om te oorweeg. ‘n Aspek wat opvallend van hierdie toer was, is dat hoewel meeste van die produsente wat die toer bygewoon het, daar was om te leer en om nuwe inligting te bekom om terug te neem na hulle plase, hul dieselfde persone is wat reeds bewaringslandbou tot ‘n sekere mate toepas en die voordele en langtermyn-effek daarvan verstaan en graag hulle praktyke nog verder wil verbeter.

image

imageHierdie produsente vind tans baie baat by navorsing wat prakties en behoeftegedrewe is. 'n Boodskap wat baie duidelik deurgekom het, is dat bewaringslandbou ‘n proses is wat aanhoudende aanpassing, verbetering en nuwe inligting benodig en geen eindpunt het nie.

Die toer is op 7 Augustus met ‘n simposium oor grondgesondheid by die Durbanville Renbaan afgesluit. Ongeveer 300 produsente en bedryfsrolspelers is daar ontvang waar plaaslike asook internasionale spesialiste hulle kennis gedeel het.

Mnr Barry Fisher, ‘n grondgesondheidspesialis en graanprodusent van Indiana in die VSA, het ‘n voorlegging gedoen oor die ontwikkeling van ‘n bewaringswisselboustelsel wat op grond-gesondheid fokus. Fisher het ook die toer op 5 en 6 Augustus bygewoon en is die geleentheid gebied om sy kennis en benadering tot bewaringsboerdery met ons plaaslike produsente te deel.

Verdere sprekers by die simposium het nog twee internasionale sprekers van die VSA, naamlik dr Kristine Nichols (‘n grondmikrobioloog) en dr Rick Haney (‘n weiding, grond en waternavorser) via ‘n “webinar” ingesluit.

Dr Pieter Swanepoel (Wes-Kaapse Departement van Landbou) het gepraat oor die resultate van sy doktorale studie op aspekte van grondgesondheid binne aangeplante weidings in die Suid-Kaap en mnr Peter Greeff het uitgebrei oor die Wes-Kaapse perspektief ten opsigte van bewaringslandbou.

Dit is bemoedigend om te sien hoe bewaringslandbou amper ‘n nuwe kultuur geword het in die Wes-Kaap. Produsente is besig om hulself op te skerp en om self verskeie praktyke, stelsels en bewerkingsmetodes op hul eie plase te toets. Hulle deel ook graag hul resultate met medeprodusente om volhoubare landbou te promoveer.

Drie produsente uit die Suid-Kaap het selfs sover gegaan om saam te werk om 'n geenbewerkingsplanter vanaf Australië in te voer om hier op van ons harde gronde te toets! Dit is die Tobin-geenbewerkingskyfplanter (of disc planter) en behoort teen Oktober 2014 in die land te wees.

Graan SA het ook van hierdie geleentheid gebruik gemaak om ‘n uitstalling tydens die simposium te behartig wat ‘n goeie platform geskep het om met produsente en rolspelers te skakel en verhoudinge te bou.

Ons wil graag die BLWK asook die Wes-Kaapse Departement van Landbou gelukwens met die suksesvolle inisiatief om plaaslike en internasionale navorsing asook produsente op grondvlak bymekaar te bring om saam te besin en saam te werk om gesonde en volhoubare graanproduksie te bevorder.

Publication: October 2014

Section: On farm level

Search