• Login
  • Search Icon

Werking van die Suid-Afrikaanse Graan en Oliesade Vraag en Aanbod Projeksiekomitee onder die loep

April 2014

CHRISTO JOUBERT, Nasionale Landbou Bemarkingsraad

Gesien in die lig van die belangrikheid van voedselsekerheid, on bestendige graanpryse en onvoldoende inligting aangaande toekomstige voorraadvlakke, het Graan SA en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Graan- en Oliesadehandelaars (SACOTA) ooreen gekom dat daar ‘n spesifieke behoefte vir inligting met betrekking tot bogenoemde bestaan.

Daar is ‘n behoefte vir ‘n amptelike vraag en aanbod-projeksie vir graan en oliesadegewasse, naamlik wit- en geelmielies, koring, sonneblom, sojabone en sorghum.

Bogenoemde behoefte het gelei tot die ontstaan van die Suid-Afrikaanse Graan en Oliesade Vraag en Aanbod Projeksie Komitee (V&APK). Die eerste amptelike vraag en aanbod-projeksieverslag is aan die einde van Junie 2013 gepubliseer. Die Nasionale Landbou Bemarkingsraad (NLBR) huisves die inisiatief en is verantwoordelik vir die funksionering van die komitee.

Agtergrond

Graan SA het in 2011 aansoek gedoen vir die instelling van ‘n statutêre maatreël vir die rapportering deur graanhandelaars tydens die sluit van in- en uitvoerkontrakte. Soortgelyke praktyke word algemeen in die VSA gebruik.

Die aansoek is teengestaan deur SACOTA. Met verdere samespreking is ‘n Vraag en Aanbod Projeksie Skakelingskomitee (V&APSK) op die been gebring. Die komitee het ten doel gehad om ‘n middeweg te vind sonder statutêre inmenging. Die volgende voorstel is ter tafel gelê: “‘n Onafhanklike komitee moet op die been gebring word om vraag en aanbod-projeksies te doen.”

Die komitee is die Vraag en Aanbod Projeksie Komitee (V&APK) genoem. Hul primêre doelwit is om op ‘n maandelikse basis ‘n vraag en aanbod-projeksie van graan en oliesade vir Suid-Afrika te doen.

Bogenoemde vind plaas deur middel van:

  • Inligting aangaande in- en uitvoer en verbruik wat ingesamel word deur ‘n beampte van die NLBR. Die inligting word verwerk en op ‘n spesifieke wyse gerapporteer tydens die V&APK-vergaderings, sonder om die bron van inligting (in hierdie geval die handelaar) te identifiseer.
  • Historiese syfers van die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) word in berekening gebring en ook geëkstrapoleer indien nodig.
  • Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se inligting aangaande die oesskatting word ook in berekening gebring in terme van aanbod/produksie.
  • Op grond van bogenoemde maak die komitee ‘n amptelike projeksie van graan- en oliesadevoorrade vir ‘n spesifieke bemarkingsjaar.

Werking en publikasiedatums

Elke V&APK-vergadering vind maandelikse plaas; ongeveer drie tot ses werksdae ná die NOK se vergadering. Hierdie vergaderings word gehou op ‘n lock down beginsel. Tydens die vergadering word vraag en aanbod-projeksies gedoen en ‘n verslag opgestel. Ná aftekening van die voorsitter, word die verslag op die webwerf van die NLBR gepubliseer. Die V&APK is by geen magte om enige aanbevelings aangaande prys te doen nie. Die komitee rapporteer direk aan die V&APSK.

Die publikasietyd vir die verslae is tussen 12:00 en 16:00 op dieselfde dag van die vergadering.

Publikasiedatums vir 2014 is soos volg:

  • 31 Januarie 2014
  • 4 Maart 2014
  • 1 April 2014
  • 30 April 2014
  • 30 Mei 2014
  • 1 Julie 2014
  • 1 Augustus 2014
  • 2 September 2014
  • 3 Oktober 2014
  • 31 Oktober 2014
  • 28 November 2014

Verslae is beskikbaar by http://www.namc.co.za/pages/research--publications/publications/supply--demand-estimates.

Mededingendheidskwessies

Die NLBR het op 16 Augustus 2012 ‘n opinie vanaf die Mededingingskommissie versoek aangaande die voorneme om die inisiatief in terme van die Bemarking van Landbou Produkte, Wet 47 van 1996 (die MAP Wet) te implementeer.

Aangaande die wetgewing op die uitruil van inligting is dit belangrik dat die Mededingingskommissie ‘n opinie lewer in terme van die wettigheid van die inisiatief. Die uitslag van die opinie was gunstig, maar met sekere voorwaardes.

Die slotopmerkings van die Mededingingskommissie op 8 Maart verlede jaar was soos volg: “The Commission is concerned that unintended outcomes of the proposed exchange may be price
stability coupled with price increases, due to co-ordination, or increased price volatility due to increased manipulation of the market by traders through the exchange. However measures such
as the implementation of a review to check for bias and assuring the independence of the S&DEC may lessen the risk of manipulation.

“In view of the above and having regard to the information exchange framework already in place within the market, the Commission does not anticipate that the proposed exchange is likely to result in a substantial lessening of competition.

“Kindly note that this opinion is provided entirely on the basis of the information provided to the Commission, in order to provide guidance for compliance with the Act. It is not binding on the Commission or the parties requesting it. Should the information provide for purposes of this opinion change, this opinion shall not apply to such changed facts.”

Samestelling van die komitee

Die V&APK is soos volg saamgestel:

  • Drie onafhanklike graanmarkkundiges aangestel deur die industrie: Naamlik dr Andre Jooste (voorsitter), dr Anton Lubbe en mnr Dawie van Straaten.
  • ‘n Verteenwoordiger van SAGIS, naamlik mnr Nico Hawkins.
  • ‘n Verteenwoordiger/s van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) en Oesskattingskomitee- (NOK) lede, naamlik me Rona Beukes en me Marda Scheepers.
  • ‘n Verteenwoordiger van die NLBR vir die insameling en verwerking van data en inligting en ook verantwoordelik vir verslagkommunikasie, naamlik mnr Christo Joubert.
  • ‘n Verteenwoordiger/s van die NLBR, verantwoordelik vir die organisasie, administrasie en sekretariële dienste aan die V&APK, naamlik me Lizette Mellet en me Rika Verwey.

Befondsing

Daar is oorspronklik deur die lede van die Skakelingskomitee ooreengekom dat ‘n versoek vir befondsing aan al die verskillende Graan & Oliesade Trusts gestuur moet word vir 50% befondsing van die inisiatief. Die NLBR het ooreengekom om die ander 50% van die inisiatief te befonds.

Laastens

Die funksionering van die V&APK word as baie suksesvol gesien. Die beginsels van die inisiatief is eie in sy soort in die wêreld, deurdat die deelnemers inligting op ‘n vrywillige basis voorsien. Die inisiatief word deur baie rolspelers op nasionale, sowel as internasionale vlak ondersteun en verwelkom.

Baie goeie terugvoer is ontvang vanaf die Agricultural Market Information System (AMIS), Famine Early Warning Systems Network (FEWS NET), the United States Department of Agriculture (USDA), the Economic Research Service (ERS), die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) en vele ander organisasies en rolspelers.

Verder beoog die NLBR ook nog om ‘n graanspesialis aan te stel wat op bogenoemde inisiatief moet fokus om sodoende die volhoubaarheid van die inisiatief te verseker.

Publication: April 2014

Section: Other Articles

Search