• Login
  • Search Icon

Welkom op "vlug" GB-321! Jou roete na suksesvolle grondboonproduksie

September 2012

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Dit is tyd om in te boek vir dié seisoen se grondboonproduksievlug. Jou hande is ywerig om hierdie taak aan te durf, maar jou gedagtes bly denkbeeldig die lysie nagaan om seker te maak jy het reg gepak vir die “vlug”.

Daar is die landvoorbereiding wat in plek moet wees. So plat soos ‘n tafelblad is die korrekte saadbedvoorbereiding. “Het jy ‘n goeie wisselboustelsel?”, is die vraag wat maar elke keer bly knaag.

Grondbone is nou maar ‘n gewas wat korrekte beplanning en baie aandag verg. ‘n Goeie wisselboustelsel is kritiek aangesien dit die voorkoms van siektes en onkruide beïnvloed wat gevolglik ‘n uitwerking het op die opbrengs van die gewas.

Die aanbeveling is ‘n vierjaar-wisselboustelsel, waar daar die vorige jaar ‘n grasgewas aangeplant is op die beplande land, óf dat die land ter sprake ‘n oorlêland was. Daar moet egter gewaak word teen die praktyk om te dink dat vier gewasse (grondbone, koring, mielies en koring) ‘n voldoende wisselboustelsel is. Daar moet ‘n minimum van drie jaar verloop voordat grondbone weer op dieselfde land aangeplant word.

Tans is die grondbewerking by grondbone nog baie intensief aangesien die gewas ‘n gelyke saadbed benodig om eweredige ontkieming te bewerkstellig. Verder is goeie bewerking noodsaaklik om te verseker dat enige beperkende ploeglae opgehef word sodat die plante goeie wortelstelsels kan ontwikkel om strestoestande beter teen te staan.

Daar is gereeld vrae aangaande bemesting by grondbone. Hier moet in gedagte gehou word dat grondbone die beste reageer op bemestingtoedienings wat reeds tydens die vorige seisoen gemaak is. Die grondboonwortelstelsel is so ontwikkel dat dit die plant in staat stel om die nodige voedingstowwe uit die laer grondvlakke te benut aangesien dit reeds vir ander gewasse ontoereikend geraak het. Wanneer stikstoftoedienings tydens planttyd gemaak word, hou in gedagte dat die stikstoftoediening die ontwikkeling van stikstofnitrifise rende bakterieë benadeel.

Kalsium is die belangrikste voedingstof wat jaarliks toegedien moet word. Dit geskied in die vorm van gipstoedienings aangesien die kalsium vinniger beskikbaar gestel word as in die geval van kalk. Gipstoedienings word gewoonlik gedoen met die aanvang van blomtyd. Gedurende die groeiseisoen is dit ook raadsaam om slegs mikro-elemente waarvan boor, sink, magnesium en koper die belangrikste is, toe te dien. Moenie jou ore uitleen aan verkeerde raad nie. Onnodige blaarvoedingbespuitings veroorsaak net dat die grondboonplant geil groei en geen drag maak nie.

Die wag is verby en dis tyd om aan boord van die grondboonvlieg tuig te gaan, maar daardie lysie maal en maal steeds deur jou kop: “Wat van kultivarkeuse en plantdigtheid? Hoe moet die saad fisies lyk wat jy gaan plant?” Dit is juis hier waar noukeurige aandag gegee moet word.

Dit is uiters belangrik om te weet hoe lyk die aangekoopte saad voordat dit geplant word. Begin die gebruik aanleer om uit elke sak saad ‘n handvol terug te hou om seker te maak jy het ‘n monster van die saad wat geplant word vir terugverwysing indien iets sou skeef loop.

Die fisiese kwaliteit van die saad moet van so ‘n aard wees dat jy bereid sal wees om dit net daar en dan te eet. Swak saad beteken swak opkoms en moeilikheid aan die einde van die dag. Saadgrootte van 70/80 en groter is die beste vir aanplantingsdoeleindes.

Wat nog beter sal wees, is om ‘n mengsel van al die saadgroottes bó die 6,75 mm graderingsif aan te plant. Hierdie praktyk kan net tot voordeel strek vir jou oes.

Daar is deesdae vyf kultivars om uit te kies. Maak gebruik van data beskikbaar in die nasionale grondboonkultivarverslae en eie ondervinding om die regte kultivarkeuse te maak. Moet ook nie al jou eiers in een mandjie pak nie. Net soos daar nie net op een mieliekultivar besluit word nie, moet produsente wat kommersiële aanplanting doen ook kyk om eerder twee kultivars aan te plant.

Geen kultivar produseer elke jaar presies dieselfde as al die vorige jarenie. Plante bly plante en word deur ‘n wye reeks faktore beïnvloed gedurende die seisoen.

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search