• Login
  • Search Icon

Wegbreeksessies werp soeklig op vraagstukke

April 2016

SA GRAAN/GRAIN REDAKSIE

Die impak van die droogte en drastiese dalings in oesskattings het heelwat aandag geniet op al die wegbreeksessies van vanjaar se Graan SA Kongres. Die impak hiervan op invoere van verskeie graansoorte en veral die prys van sulke invoere, is ook uitgelig.

Daar was egter een stukkie goeie nuus toe daar by al die sessies inligting deurgegee is oor die Suid-Afrikaanse Inkomstedienste (SAID) se jongste konseplogboeke vir dieselkortings. Die nuwe logboeke is in Februarie beskikbaar gestel en geaffekteerde partye het tot einde Februarie tyd gehad om kommentaar daarop te lewer.

Hoewel die inligting en die frekwensie daarvan wat bygehou moet word, heelwat meer prakties is, stel SAID voor dat daar steeds twee logboeke gehou moet word: Een vir die stoor van diesel en een vir die gebruik van diesel per voertuig.

Graan SA en Agri SA het in hul kommentaar standpunt ingeneem dat net een logboek, naamlik die stoorlogboek, voldoende is om dieselverbruik op die plaas aan te dui.

Produsentelede wat sukkel om hul BTW en dieselkorting terug te kry, kan gerus met Graan SA in verbinding tree. Graan SA het ‘n ooreenkoms met SAID se hoofkantoor dat waar vertragings met uitbetalings ervaar word, dit op ‘n weeklikse basis aan hulle deurgegee moet word.

Die inligting is op al die sessies verwelkom.

Mielies

DIE ONDERVOORSITTER VAN DIE MIELIEWERKGROEP, MNR CHRIS SCHOONWINKEL, HET AS VOORSITTER OPGETREE.

Tariefaansoek

Mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) meld dat ‘n nuwe aansoek oor die aanpassing van die invoertarief weer gedurende Augustus verlede jaar ingedien is. Die huidige beskermingsvlak is R2 661/ton op Safex en met indiening in Augustus 2015 was die verwysingsprys en tien jaar gemiddeld, R4 706/ton. Met die huidige berekening en wisselkoers was die verwysingsprys in Maart vanjaar R3 546/ton.

Daar word nou op kommentaar en terugvoer gewag.

Oesskatting

Me Rona Beukes (Nasionale Oesskattingskomitee [NOK]) het terugvoer gegee oor die huidige seisoen se syfers. Daarvolgens is die skatting vir witmielies in Februarie vanjaar op 3 195 800 ton gestel, wat 71 200 ton minder is as die skatting in Januarie vanjaar.

Geelmielies word op 4 059 950 ton geskat, wat 111 300 ton minder is as ‘n maand tevore. Die totale skatting is dus 182 500 ton minder. Totale hektare van aanplantings het ook aansienlik gedaal. Dit is ook die eerste keer die afgelope 15 jaar dat aansienlike laat aanplantings waargeneem is. Dit bemoeilik opbrengsbepalings.

De Villiers meld dat die Vraag- en Aanbodkomitee goed werk, maar dit blyk dat daar nie voldoende en gereelde deelname van handelaars is nie. As gevolg daarvan het Hoofbestuur besluit dat aansoek gedoen moet word vir ‘n statutêre maatreël wat handelaars sal verplig om die syfers aan die Vraag- en Aanbodkomitee deur te gee.  Die sessie steun die besluit en versoek dat alle transaksies (invoere en uitvoere) ook verklaar moet word sodra die transaksies gesluit word en nie net wanneer dit in Suid-Afrika aankom nie.

Navorsing

De Villiers noem dat Graan SA ‘n konsortium van kundiges saamgeroep het om gefokusde navorsing op grondgedraagde siektes te doen. Aalwurms en rooispinmyt, wat tans van die grootste probleme is, vorm deel hiervan. Die Departement Wetenskap en Tegnologie befonds hierdie projek grotendeels met ‘n bydrae van die Kommersiële Mielie Produsentenavorsingstrust.

Twee navorsingsprojekte op nagmuise wat drie jaar gelede afgeskop het, het nie belowende resultate opgelewer nie en daar word aanbeveel dat die projekte gestaak word. De Villiers versoek dat navorsing op kultivars wat hittebestand is, gedoen moet word.

Mark

Huidige aanduidings is dat 1,1 miljoen ton witmielies en nagenoeg 2,7 miljoen ton geelmielies ingevoer sal moet word. Indien die oesskatting verlaag word as gevolg van die voortslepende droogtekan ‘n groter vermindering in witmielies gesien word as dié in geelmielies.

Kunsmispryse

As gevolg van dalings in die olieprys, is daar die afgelope jaar grootdalings in internasionale kunsmispryse waargeneem, maar plaaslike pryse het weens die wisselskoers verswakking weer gestyg. Só het ureum en kaliumchloried internasionaal met 12% en byna 19% gedaal, maar as gevolg van die verswakking in die wisselkoers het dit plaaslik onderskeidelik met meer as 1% en 7,6% toegeneem.

Invoere

‘n Versoek kom uit die vergadering wat die beskikbaarheid van inligting oor invoere betref – in besonder die hoeveelhede wat ingevoer word. De Villiers onderneem dat Graan SA die inligting sal kry en produsentelede ingelig sal hou.

Nuwe knelpunte

Haweverwysingspunt vir Safex
Mnr Bart Harmse (Graan SA-hoofbestuurslid vir Streek 11) noem dat die meeste mielies deur die Kaapstadse en Durban-hawens ingevoer word. Hy vra wat die moontlikheid is dat die sentrale leweringspunt die Durban-hawe sal wees vir mielies en die Kaapstadse hawe vir koring. Die sessie besluit dat dié kwessie na die Mieliespesialiswerkgroep verwys word.

Chemiese middels
Mnr Derek Mathews (Graan SA-hoofbestuurslid vir Streek 5) meld dat hy hierdie jaar probleme ervaar het met onder meer die verspreidingsnetwerk en onvoldoende advies en inligting. Die voorsitter onderneem dat Graan SA die kwessie met CropLife sal opneem.

Wegbreeksessies werp soeklig op vraagstukke


Sorghum

MNR LOUIS CLAASSEN HET AS VOORSITTER OPGETREE.

Kultivar-evaluasieprojek

Die projek, waarby drie saadmaatskappye betrokke is, naamlik Pannar, Agricol en K2 Agri, is geloods en strek oor ‘n tydperk van vyf jaar. Die hoofdoel is om opbrengsplafonne van sorghumproduksie te lig en saadmaatskappye toets hul beste kultivars (genetika) daarvoor. Die proewe lyk op hierdie stadium weens die droogte nie belowend nie.

Swamdoders

Dr Maryke Craven (LNR-IGG) doen ‘n voorlegging oor navorsing wat gedoen is op die evaluering van swamdoders. Swamdoders wat geëvalueer is, sluit in azoxystrobin/difenoconazole (200/125 g/l) en epoxiconazole/pyraclostrobin (62,5/62,5 g/l) en vyf behandelings plus ‘n kontrole is toegepas. Die bevindings is in lyn met internasionale navorsingsresultate, wat uitwys dat groeitoestande die waargeneemde effekte oorheers, asook dat die toediening van swamdoders om voordeel te trek op hulle groeiregulerende eienskappe, bevraagteken moet word.

Mark

Graderingsregulasies
Dr Hendrik Smith (bewaringslandboufasiliteerder: Graan SA) meld dat Graan SA versoeke ingestuur het dat die regulasie slegs voorsiening moet maak vir twee grade: ‘n Tannien-vry graad (GM) en ‘n tannien-bevattende graad (GH). Graan SA se voorgestelde veranderinge is aanvaar en die aanpassings is in die Staatskoerant afgekondig.

Oesskattings

Smith meld dat daar ‘n duidelike afname in die aanplantingstendens van sorghum sedert 1990 is. Die sorghumoppervlakte vir die 2015/2016-produksieseisoen is 22 000 ha of 31,2% minder as die vorige jaar se 70 500 ha, terwyl die tweede produksieskatting van sorghum 93 400 ton is, wat 27 100 ton of 22,49% minder as die 120 500 ton van die vorige seisoen is.

Wegbreeksessies werp soeklig op vraagstukke

Sonneblom

MNR JOHN RANKIN HET AS VOORSITTER OPGETREE.

Mark

Sonneblomolie-inhoud
Me Petru Fourie (navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis: Graan SA) voorsien inligting oor sonneblomolie-inhoud na aanleiding van uiteenlopende data. Volgens die jongste data wat van die Suid-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) verkry is, was die gemiddelde olie-inhoud oor die afgelope drie seisoene tussen 37,2% en 37,9% (teen 9% voginhoud). Sy meld dat verwerkers bereid is om ‘n premie vir ‘n olie-inhoud bo 40% te betaal – onderhewig aan hoeveelheidsvereistes.

Gradering
‘n Versoek op verlede jaar se wegbreeksessie dat sifsels onder die sif bygetel kan word as deel van die massabepaling vir sonneblom, is nie deur Direktoraat: Voedselveiligheid en Kwaliteit toegestaan nie – hoofsaaklik weens die feit dat klein sonneblompitte minder olie produseer, die proteïeninhoud van die oliekoek negatief beïnvloed kan word en probleme in die voerbedryf kan veroorsaak.

Navorsing
Dr André Nel (LNR-Instituut vir Graangewasse [LNR-IGG]) gee terugvoer oor die navorsingsprojekte wat op sonneblom gedoen word. Die projek oor sonneblomkultivarevaluasie het bevind dat die opbrengs van sonneblom vanaf 1976 tot 2015 met slegs 1% per jaar toegeneem het, teenoor mielies se toename van 2,5%.

Oesskatting
Die jongste produksieskatting beraam die sonneblomoes op 687 150 ton, wat 3,64% meer is as die 663 000 ton van die vorige seisoen. Data dui ook aan dat die oppervlakte onder sonneblom vanjaar die grootste is sedert die 828 000 ha in 1999. Na bespreking spreek die sessie kommer hul kommer uit oor oes skattings – veral in die lig van die impak van die droogte.

Wegbreeksessies werp soeklig op vraagstukke


Wintergraan

MNR ANDRIES THERON HET AS VOORSITTER OPGETREE.

Omdraaistrategie

Die proses is steeds goed aan die gang en goeie vordering word gemaak met sekere aspekte soos die verwydering van die kultivarlys, hersiening en verslapping van die vrystellingskriteria se toleransievlakke.

Navorsing

Voorteelprogram en befondsing
Graan SA het met die Departement van Wetenskap en Tegnologie ooreengekom om ‘n nasionale voorteelprogram te befonds. Befondsing van R15 miljoen oor die volgende drie jaar is toegestaan. Die kiemplasma wat só ontsluit word, sal tot voordeel van die drie saadtelers aangewend word.

Karnal Brand
Die sessie word ingelig oor ‘n vergadering wat op 24 Februarie vanjaar op Groblersdal gehou is om die produsente in die Marble Hallproduksiegebied toe te spreek. Produsente spreek hul kommer uit dat die proses om die produksiegebied onder kwarantyn te plaas, groot bottelnekke kan veroorsaak, maar drs Francois Koekemoer (Sensako) en Marinda Visser (bestuurder: Navorsing en Skakeling met Owerhede, Graan SA) maan dat die proses gevolg moet word, want dit het groot implikasies vir die mieliehandel internasionaal en op koringinvoere plaaslik.

Koringtarief
In ‘n kort aanbieding noem mnr Wandile Sihlobo (ekonoom: Graan SA) dat daar groot voorrade koring in die wêreldmark is en dat die wêreld se koringproduksie in 2015/2016 na verwagting 731,8 miljoen ton kan wees. Hy dui aan dat plaaslike koringinvoere in 2015/2016 sowat 2 miljoen ton kan beloop, waarvan 43% reeds ingevoer is. Lae internasionale koringpryse kan plaaslike pryse afwaarts druk, maar dat die huidige koringinvoertarief plaaslike pryse kan bevoordeel.

Produksie/insette

Tantiememodel
Graan SA is in die proses om ‘n stelsel te ondersoek om ‘n statutêre heffing in te stel om fondse vir telers te bekom en dit te verdeel op so ‘n basis dat die telers wat die meeste kultivars in produksie het, daarvoor vergoed word. Die voorneme is dat dit 0,5% van die koringprys of R19/ton sal wees. Daar word beoog om die hele proses in Oktober vanjaar in werking te stel.

Wegbreeksessies werp soeklig op vraagstukke

Sojabone

MNR JAN GREY HET AS VOORSITTER OPGETREE.

Produksie/insette

Tantiememodel
Mnr Corné Louw (senior ekonoom: Graan SA) gee terugvoer oor die vordering wat gemaak word met die implementering van ‘n tantiemestelsel vir oop-bestuifde gewasse. ‘n Aansoek vir ‘n statutêre heffing kan binnekort ingedien word. Die voorgestelde stelsel het ten doel om die negatiewe impak wat die terughou van saad op investering in die saadbedryf het, teen te werk. Die heffingsvoorstel beloop tans 1,2% van die sojaboonprys.

Grey noem dat tegnologie in die sojaboonsaadbedryf, soos die Roundup Ready 2 en die Dicamba-gene, tans nie vir Suid-Afrika beskikbaar is nie juis omdat saadmaatskappye nie hul investering terugkry as gevolg van terughou van saad nie.

Die wegbreeksessie ondersteun die heffingsvoorstel.

Beskikbaarheid van saad
Louw noem dat as gevolg van die droogte, saadmaatskappye die afgelope seisoen tussen 20% en 35% van hul saad nie verkoop het nie. Sojaboonsaad kan nie oorgedra word na ‘n volgende seisoen nie, daarom moes die saad as graan verkoop word. Volgens ‘n opname wat onder saadmaatskappye gedoen is, sal daar genoeg gesertifiseerde saad vir die aanplant van ongeveer 200 000 ha vir die 2016/2017-produksieseisoen beskikbaar wees.

Oesskatting
Louw noem dat volgens die oppervlakteskatting van die NOK 519 800 ha sojabone in die 2015/2016-produksieseisoen aangeplant is.

Die tweede skatting van die NOK dui aan dat ‘n oes van 724 600 ton verwag kan word, wat 32% laer is as verlede jaar se oes. Die impak van die droogte is duidelik aangesien die verwagte opbrengs van 1,4 t/ha heelwat minder is as die langtermyn-gemiddelde 1,67 t/ha.

Gradering
Grey verduidelik dat die graderingsdispensasie vir die komende bemarkingseisoen verleng is. Onder die 4,75 mm rondegatsif, word ‘n 1,8 mm gleufsif gebruik vir die bepaling van vreemde voorwerpe. Die vreemde voorwerppersentasie word van 4% na 5% verhoog en gevolglik die kombinasie van vreemde voorwerpe en Sclerotinia van 6% na 7%.

Navorsing

Grondgedraagde siektes
Louw gee terugvoer oor die konsortium vir navorsing oor grondgedraagde siektes wat deur Graan SA in die lewe geroep is. Die konsortium word gelei deur dr Sandra Lambrecht van die LNR-Plantbeskermingsinstituut op Stellenbosch en goeie vordering is reeds gemaak.

Hy noem ook dat dr Driekie Fourie van die Noordwes-Universiteit goeie werk doen op aalwurmnavorsing en die bestandheid van kultivars.

Nuwe knelpunte

Versekering
Kommer word uitgespreek oor die toenemende koste verbonde aan oesversekering. Louw noem dat die risiko vir hael op sojabone volgens versekeringsmaatskappye uitermate hoog is en dat hul in verskeie gebiede groot verliese ly as gevolg van hoë eise.

Die sessie besluit dat Graan SA hierdie en ander probleme, soos die sewe dae-wagtydperk vir die aktivering van die polis, met versekeraars moet opneem.

Wegbreeksessies werp soeklig op vraagstukke


Grondbone

MNR FRANS MINNAAR HET AS VOORSITTER OPGETREE.

Invoertarief

Minnaar meld dat Graan SA deur kopers genader is om te help met die afskaffing of uitstel van die invoertarief rakende geblansjeerde en rou grondbone. Die versoek is gerig in die lig van moontlike tekorte vanjaar. Graan SA is van mening dat die afskaffing of uitstel daarvan nie ondersteun kan word nie, aangesien dit nie tot voordeel van die produsent sal wees nie, onder meer omdat ingevoerde geblansjeerde grondbone direk met plaaslik-geproduseerde rou grondbone kompeteer.

Nieteenstaande die bogemelde standpunt, is Graan SA van mening dat SAID ‘n grasie- of kennistydperk vir handelaars moet toestaan om te beplan vir die veranderde tarief.

Navorsing

Dr Graham Thompson (LNR-IGG) lig die vergadering in dat ‘n grondboonteler binne die volgende twee tot drie maande aangestel behoort te word. Met die aanstelling van die nuwe teler sal die druk vir eksterne befondsing meer word. Die LNR-IGG het ‘n versoek aan Graan SA gestuur vir eksterne befondsing van die teelprogram. Die LNR-IGG het ook ‘n voorstel om weer ‘n nasionale proeweprogram vir grondboonkultivars op die been te bring aan Graan SA gestuur.

Die vergadering besluit dat ‘n lys van prioriteite opgestel moet word waarop die LNR-IGG met hul teelprogram kan fokus.

Kultivarevaluasie

Me Loureine Salomon (LNR-IGG) gee terugvoer oor die Elite-kultivarevaluasie. Vanjaar is daar twee proewe op Potchefstroom en een op Hartswater geplant. Die proewe op Potchefstroom sukkel met die beskikbaarheid van water en die besproeiing is in die weegskaal. Sy wys op die belangrikheid daarvan om gehalte en opbrengs saam te ontwikkel in teel- of evaluasieprogramme.

Gradering

Mnr Lourens de Kock (Stella) verduidelik aan die vergadering dat die huidige graderingsriglyne hoofsaaklik vir droë grondbone opgestel is. Met die lewering van nat grondbone het daar ‘n behoefte ontstaan om ‘n toevoeging tot die riglyne vir gradering op te stel. PPECB is besig om die opstel van sodanige riglyne te ondersoek.

Die voorsitter wys daarop dat grondbone tot 8% - 9% gedroog word, dan eers gegradeer en ‘n vogaanpassing na 7% gemaak moet word. Dit is belangrik dat produsente op hoogte moet wees van die riglyne wat vir gradering gebruik word.

Produksie

Me Landi Kruger (datawetenskapkoördineerder: Graan SA) lig die ver gadering in dat verwerkers en verskaffers van grondboonsaad terugvoer gegee het dat tussen 57 900 kg en 65 000 50 kg sakkies vir die komende seisoen beskikbaar sal wees.

Grondboonbedryf

De Kock, ook ondervoorsitter van die Grondboonforum, gee ‘n voor legging rakende die bedryfsplan wat die SA Grondboonforum opgestel het om die volhoubaarheid en vooruitgang van die grondboonbedryf te verseker. Die raamwerk vir die plan sluit in aspekte soos ‘n deursigtige prysmeganisme, produksiepraktyke, kultivars en opbrengs en regulatoriese nakoming.

Wegbreeksessies werp soeklig op vraagstukke

Publication: April 2016

Section: Grain SA

Search