• Login
  • Search Icon

WEGBREEKSESSIES sit koppe bymekaar oor aktuele sake in bedryf

April 2018

SA GRAAN/GRAIN REDAKSIESPAN

Die verhoging van opbrengste deur middel van nuwe tegnologie en die daarstelling van eindpunttantiemestelsels was een van die belangrikste besprekingspunte tydens die afgelope Graan SA Kongres se wegbreeksessies. 

Die wegbreekgroepe is dit eens dat die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA), wat geskep is om heffings vir alle oopbestuifde gewasse in te samel, die proses moet administreer. Alle oë is op die teling-en-tegnologieheffing vir sojabone, aangesien die aansoekproses tans aan die gang is, maar ook omdat dit ‘n paar uitdagings inhou – en daar selfs moontlike regstappe kan volg.

Die doel van die heffing is om saadmaatskappye en tegnologie­verskaffers te vergoed volgens hulle markaandeel in die mark, juis as aansporing om nuwe tegnologie die land in te bring – wat weens die terughouding van saad tans nie die geval is nie.

By verskeie werksessies is daar konsensus bereik oor die afskaffing van liggingsdifferensiale. Produsente is dit eens dat hulle spesifieke markte volwasse genoeg is om hul eie premies te bepaal. Dit is ook duidelik gemaak dat dit nie noodwendig gaan gebeur nie; ‘n magdom voorbereiding en oorreding is nodig om dit te laat realiseer. Indien nie, moet daar alternatiewe geskep word.

Mielies

Mnr Jaco Minnaar (voorsitter: Mieliespesialiswerkgroep) het as voorsitter opgetree.

Alternatiewe beurse
Die uitdaging wat met alternatiewe beurse gepaard gaan, is by die Mieliewegbreeksessie bespreek. Daar is bevind dat alternatiewe beurse voorsiening kan maak vir fisiese verhandeling, maar nie vir termynkontrakte nie. Dit maak dit moeilik om nou te verskans vir lewering in die toekoms omdat daar nie termynkontrakte beskikbaar is nie. 

‘n Termynkontrakmark kan slegs op die stelsel geplaas word as daar ‘n klaringshuis is wat risiko’s beskerm. Tans is die JSE die enigste klaringshuis in die land, daarom word daar slegs ‘n aandelebeurs op alternatiewe beurse gefasiliteer.

Die moontlikheid om ‘n klaringshuis tot stand te bring, is baie duur en kan ook nie geskied sonder goedkeuring van die Reserwebank nie. Daar is reeds gesprekke met die Reserwebank aan die gang om te bepaal hoe ‘n addisionele klaringshuis in die land tot stand gebring kan word. ‘n Groot aantal van die landboubesighede het reeds stelsels in plek waar fisiese verhandeling kan plaasvind.

Dienslewering op die platteland
Dienslewering op die platteland het onder die soeklig gekom en Graan SA het die saak met Agri SA opgeneem. Dienslewering van meganisasie-afdelings is ook hanteer. Planttye is die drukste tyd vir Suid-Afrikaanse produsente en dit is ook wanneer die groot meerderheid Suid-Afrikaners op vakansie gaan. 

Force Majeure-kontrak
Graan SA is weer opnuut in gesprek met versekeringsmaatskappye, die regering en georganiseerde landboustrukture om te bepaal hoe ‘n oesversekeringskema in die land op die been gebring kan word. Force Majeure is uit die Suid-Afrikaanse Graan en Oliesade (Sagos)-kontrak uitgeskryf omdat dit ‘n moeilik-bestuurbare begrip is. 

Force Majeure gaan dus nie in kontrakte realiseer nie, maar eerder in ‘n alternatief soos ‘n oesversekeringskema. Die wegbreeksessie is dit eens dat, gegewe Suid-Afrika se klimaat, so ‘n skema uiters noodsaaklik is – veral wat buitelandse mededingendheid betref. Internasionale landbouers word reeds in die vorm van ‘n subsidie met oesversekering bygestaan. 

Spekulasie en verhandeling
Om te kan bepaal wie watter posisie in die mark beklee, is dit nodig om te weet wie is verskansers en wie is spekulante. Hoewel die JSE daarop wys dat dit ‘n groot uitdaging is dit om te bepaal, het Graan SA steeds aangedring op ‘n Commitment of Traders Report. Só ‘n verslag sal ‘n goeie idee kan gee van die verskillende posisies binne die mark, maar nie noodwendig wie spekulante en verskansers is nie.

Spekulante het tog nog steeds ‘n rol om te speel. Weens onsekerheid rakende posisies in die mark en as gevolg van die invoertarief het ‘n groot aantal spekulante uit die koringbedryf onttrek. Dit het tot gevolg gehad dat die koringbedryf se verhandeling min of meer stil gaan staan het. Die wegbreekgroep is dit eens dat spekulante ‘n groot rol in die posisie in die mark speel ten einde moontlike kontrakte in die mark te kry, met die voorwaarde dat dit ‘n beheerde rol binne die verhandelingsreëls is.

Fisiese lewerings en rapportering
Die verbruiker se verwerkingsyfers, wat nie by die Mededingings­kommissie verkry kan word nie, was verlede jaar ‘n groot frustrasie. Die kommissie was van mening dat die mark reeds die nasionale syfers kry en wou dit nie verder in provinsiale syfers afbreek nie.

Daar moes aan hulle verduidelik word dat daar ‘n witmielie- en ‘n geelmieliemark met verkillende konsentrasies binne Suid-Afrika is. Die Mededingingskommissie het na dese bekend gemaak dat die verwerkingsyfers wel provinsiaal afgebreek gaan word. Die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) sal maandeliks rapporteer waar mielies en koring verwerk word. 

Om verwerkers binne die Mededingingswet te beskerm, is bepaal dat daar ‘n minimum van vyf verwerkers in ‘n gebied moet wees. Provinsies is saamgevoeg om die groeperings moontlik te maak en ‘n drie maande-gemiddeld is geneem.

Uitvoer van surplus mielies
Hoewel daar reeds voor die aanvang van die seisoen planne gemaak is om die uitvoer van surplus mielies te hanteer, het uitvoere nie plaasgevind nie. Die prys van mielies was van so ‘n aard dat dit uitvoere gekelder het.

Die prysverskil tussen die twee seisoene het dit bekostigbaar gemaak om die surplus mielies te stoor en later te verkoop. Verder was produsente ook nie bereid om die oes teen so lae prys te verkoop nie. Termynkontrakposisies is ingeneem en kunsmatige vraag is in die mark geskep. Die wisselkoers wat versterk het, het ook probleme geskep in terme van die mededingendheid van uitvoere.

Om die surplus te kan uitvoer, moet pryse tot uitvoerpariteit daal. Die vooruitsig is dat pryse moontlik kan daal wanneer die nuwe oes in silo’s gelewer word. Die silo’s het reeds voorraad in en as dit vol word, gaan lewering op verdere punte moet plaasvind. Dit sal pryse onder druk plaas. Dit is uiters belangrik dat die uitvoerpariteit van gebied tot gebied verskil: Nader aan die hawens is die uitvoerpariteit hoër as in die binneland. 

Uitvoermarkte
Daar word tans onderhandel om nis- en premiemarkte oop te kry om hoër opbrengs sodoende uit te voer. Iran is tans ‘n gunstige mark vir mededingende uitvoere weens ‘n mededingende vervoervoordeel. Suid-Afrika voldoen nog nie aan al Iran se invoerprotokolle nie en Graan SA het by die Mielietrust befondsing gevra om sodoende ‘n kundige persoon op ‘n deurlopende basis aan te stel om die bedryf met die aansoeke en navorsingsanalises behulpsaam te wees. 

Winsgewendheid
Die wegbreekgroep is dit eens dat winsgewendheid verhoog word deur opbrengste te verhoog. Droogte- en hitteweerstandige kultivars is deur SIMMIT ingebring en word tans getoets. Die effek van grondgedraagde siektes en maniere waarop dit beter bestuur kan word om opbrengs te verhoog, word ook tans ondersoek.

‘n Beskrywingspunt spesifiek oor die liggingsdifferensiaal is ingedra deur mnr Kerneels Claasen (afgevaardigde van Reitz) wat aandui dat die huidige stelsel uitvoere nie bevorder nie en dat alternatiewe oorweeg moet word. Verskillende voorbeelde van alternatiewe is bespreek en die voorstel was dat ‘n komitee saamgestel moet word om alternatiewe te ondersoek en sodoende voorstelle aan die JSE te maak. 

Voorstelle en nuwe knelpunte
Verskeie sake word onder hierdie tema geopper en sal na die Graan SA-werkgroepe verwys word:

  • ‘n Alternatiewe mark – dat die nodige owerhede genader word oor ‘n ontwikkeling van addisionele klaringshuis.
  • Waardetoevoeging met mielies om op dié manier te kan uitvoer en ‘n mark te skep.
  • Samewerking om die uitbreek van listeriose hok te slaan.
  • Dieselkwaliteit – ondersoek hoeveel paraffien in diesel ingemeng word.
  • Balans moet gevind word tussen gewasse om sodoende druk vanaf hektare wat met mielies beplant is, te verwyder.
  • Bevordering van industriële bedryf – kyk na alternatiewe gewasse.
  • ‘n Moniteringsprojek rakende chemie en die kwaliteit, inhoud en ook kombinasies van onkruiddoders.

Sojabone

Mnr Ralf Küsel (Graan SA-hoofbestuurlid vir Streek 14) het as voorsitter opgetree.

Markaangeleenthede
Plaaslike vraag en aanbod van sojabone
Mnr Corné Louw (senior ekonoom: Insette, Graan SA) het deur middel van ‘n voorlegging terugvoer oor die vraag en aanbod van sojabone gegee. Hy het getoon hoe die onverwerkte sojaboonvoorrade sedert 2012 gelyk het en gewys dat die onverwerkte voorraad in die 2017/2018-bemarkingseisoen aansienlik toegeneem het. Dié hoë oordragvoorraadsituasie het die plaaslike Safex-prys van sojabone weg van die afgeleide sojaboonprys laat beweeg.

Hy het verder genoem dat daar verwag is dat die totale produksie in die vorige produksiejaar van so te sê 1,3 miljoen ton verwerk sou word, maar dat daar slegs ‘n beraamde 890 000 ton vir sojaboon­oliekoek gepers is. 

Hierdie lae perssyfer kan veroorsaak dat die land met 324 000 ton se surplus voorraad kan sit. Die vraag bestaan, waarom slegs 890 000 ton se sojabone vir sojaboonoliekoek verwerk is, terwyl die geskatte perskapasiteit vir sojabone tussen 1,8 miljoen en 2,2 miljoen ton is?

Gebruik van ingevoerde oliekoek
Dr Erhard Briedenhann het ‘n voorlegging oor die kwaliteit van sojaboonoliekoek, die gebruik daarvan, sowel as die verskillende liggings waar sojaboonoliekoek verwerk en ook gebruik word, gedoen. Hy het genoem dat daar in wese nie ‘n kwaliteitsprobleem met plaaslike sojabone- en oliekoek is nie en dat dit beter of gelykstaande aan Argentynse kwaliteit is. Die meeste van die plaaslike sojaboonoliekoek word deur die pluimveebedryf verbruik. 

Die totale invoere van sojaboonoliekoek het die afgelope seisoen 590 916 ton beloop, wat gelykstaande is aan 777 521 ton sojabone. Graan SA onderneem om met maatskappye oor hul weiering om plaaslike sojaboonoliekoek te gebruik, in gesprek te tree.

Mnr Jozeph du Plessis (Graan SA-hoofbestuurlid vir Streek 2) stel ook voor dat Graan SA, gegewe die potensiële hoë oordragvoorraad, moet seker maak dat kanale en markte oop is vir uitvoere.

Louw noem dat buitensporige goedkoop sojaboonoliekoek die land vanaf Zambië binnekom.

Hy meld dat Graan SA reeds hieroor met die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) in gesprek getree het en dat ‘n teenstortingsmaatreël tans ondersoek word.

Statutêre markinligting en produsentelewerings
Louw noem dat daar goedkeuring van die Sonneblom-en-Sojaboonforum en Olie- en Proteïensade-ontwikkelingstrust (OPOT) verkry is om weeklikse produsenteleweringsinligting vir sojabone en sonneblom via SAGIS in te samel. Goedkeuring is ook verkry om weeklikse in- en uitvoerdata vir sojabone en sonneblom in te samel. 

Daar sal by die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) aansoek gedoen word om van die genoemde versameling van leweringsinligting ‘n statutêre maatreël te maak. Daar is versoek dat Graan SA deur die forum aansoek moet doen dat sojaboonoliekoekin- en -uitvoere ook deel moet vorm van weeklikse rapporteringsinligting.

Liggingsdifferensiaal op sojabone
Louw noem dat alle ander gewasse tans die Safex-liggingsdifferensiaal dophou en dat daar sekere aanbevelings aan die groter Kongres daaroor gemaak behoort te word. Die Sojaboonwegbreeksessie is dit eens dat daar nie ‘n Safex-liggingsdifferensiaal vir sojabone moet wees nie en dat die vryemark die vraag en aanbod moet beheer.

Produksie/Inset-aangeleenthede
Tantiememodel
Louw herinner die vergadering aan die aansoek vir die teling-en-tegnologieheffing vir sojabone, wat einde 2016 by die NLBR ingedien is. Hy noem dat die Minister van Landbou op 14 Februarie vanjaar die heffing goedgekeur het, maar dat hy eensydig aan die bedrae en die voorwaardes verander het. Die oliesadebedryf en Graan SA is in ‘n proses om dit reg te stel. Die doel van die model bly om saadmaatskappye vir nuwe tegnologie-ontwikkeling volgens hul markaandeel te vergoed, weens die verliese wat hul ly as gevolg van terughouding van saad deur produsente.

Die wegbreekgroep is dit eens dat SACTA, wat geskep is om teling-en-tegnologieheffings vir alle oopbestuifde gewasse in te samel, die heffing moet administreer, sodat kostes so laag as moontlik gehou word en dat daar een administrasiestelsel vir al die oopbestuifde gewasse is.

Nuwe knelpunte
Mnr Gerrit Roos versoek dat daar meer aandag aan Sclerotinia gegee moet word, aangesien hulle hierdie jaar weer groot verliese as gevolg van Sclerotinia gely het. 

Die voorsitter gee kortliks terugvoer oor die Sclerotinia Research Network, wat juis op onder andere Sclerotinia fokus. Die vergadering stel voor dat chemiese en saadmaatskappye by navorsing oor Sclerotinia betrek moet word. Die vergadering stel verder voor dat ‘n lessenaarstudie deur ‘n kundige persoon oor navorsing wat reeds oor die bestryding van Sclerotinia in die res van die wêreld gedoen is, gedoen moet word.

Sonneblom 

Mnr Willem Groothof (voorsitter: Sorghumwerkgroep) het as voorsitter opgetree.

Liggingsdifferensiaal 
Mnr Jozeph du Plessis meld dat die liggingsdifferensiaal al ‘n geruime tyd ‘n belangrike besprekingspunt is en dat dit ook so ‘n paar jaar gelede tydens Kongres bespreek was. Spesifiek uit die weste het dit ter sprake gekom dat die liggingsdifferensiaal op sonneblom nie reg funksioneer nie en dat sonneblom dieselfde roete as sojabone moet gaan. 

Hy meld dat produsente van mening is dat hulle deur die stelsel uitgebuit word, aangesien daar menige persaanlegte regoor die land is en dit nie Randfontein toe aangery word nie. 

SAGIS-syfers dui aan dat daar ‘n verskuiwing in verwerking is – en nie noodwendig na Randfontein nie. Daar is ook ‘n verskuiwing tussen wit- en geelmielies. Graan SA is voorbereid om produsente met die bes moontlike inligting te bedien om premies in die mark te beding. Die organisasie sal voortgaan om alles moontlik te doen om die mark so deursigtig moontlik te maak en so goed moontlik te laat funksioneer en alle bestaande gebreke aan te spreek.

Die wegbreekgroep besluit eenparig dat die differensiaal afgeskaf moet word. Du Plessis gee ‘n kort oorsig oor die moontlike gevolge en verduidelik dat indien die differensiaal verwyder word, elke produsent self ‘n premie gaan moet beding. 

Mnr Jaap van der Westhuizen (Graan SA-hoofbestuurslid vir Streek 16) noem dat sojabone sowel as sorghum sonder ‘n differensiaal funksioneer, wat wys dat dit moontlik is. 

Alternaria op sonneblom
Graan SA het twee navorsers van die Instituut vir Bosbou- en Landboutegnologie (FABI) by die Universiteit van Pretoria (UP) genooi om terugvoer oor navorsing op Alternaria te gee. 

Die genus Alternaria word as ‘n ernstige patogeen van sonneblom, wat saailing en blaarroes veroorsaak, beskou en dit veroorsaak ‘n vermindering van tot 80% in opbrengs. Saadtoetse wat by UP se Grondkundedepartement (Plantpatologie) op sonneblomsaad en graan gedoen is, het getoon dat Alternaria alternata tot 82% (n = 7 600) van ‘n saadlot kan besmet. 

Dit kan verder tydens standaard ontkiemingstoetse saailingroes op tot en met 31,74% van die ontkiemde saailinge veroorsaak. Hierdie bevindings impliseer dus dat Alternaria alternata in sonneblomlande deur besmette gekoopte saad ingebring kan word. Die omgewing waarin die saad geproduseer is, speel ‘n belangrike rol.

Daar is tans geen geregistreerde swamdoder vir die bestuur van Alternaria blaarroes van sonneblom in Suid-Afrika nie. Daarom is die doeltreffendheid van ses saadbehandelingswamdoders en drie spuitswamdoders by die LNR-Graangewasse getoets. Saadbehandelings wat beduidend effektief in die vermindering van Alternaria blaarroes was, is Dynasty en Celest, terwyl die effektiewe spuitswamdoders Abacus (wat ook help om blaarveroudering te vertraag), AmistarTOP en Duett is. 

Die wegbreekgroep besluit dat ‘n versoek aan saadmaatskappye gerig moet word om saad voorkomend te behandel, om die verspreiding van siektes te beperk. Onbehandelde saad moet wel vir navorsingsdoeleindes beskikbaar wees. Verder word versoek dat die effektiwiteit van saadbehandeling nagevors moet word en dat die minimum ontkiemingspersentasievereiste van sonneblomsaad ondersoek moet word. Ook dat Graan SA die erns van biosekuriteit op saad met Sansor sal bespreek en uitvind of hulle ‘n protokol in plek het om die verspreiding van siektes te beperk.

Sonneblomgradering: Monsterneming
Me Petru Fourie (navorsingskoördineerder en produksiekoste-analis, Graan SA) noem dat produsente die afgelope seisoen bekommerd was oor die graderingsproses van sonneblom. Sy meld dat die gradering nie die probleem was nie, maar dat die uitdaging by monsterneming lê – met ander woorde hoe die monster geneem word, asook die monsternemingsinstrument. Sy noem dat Agbiz Grain tans besig is met ‘n studie om die beste instrument vir monsterneming te identifiseer, sodat hierdie verskille in gradering nie voorkom nie. Sy sê die resultate sal deur middel van Graan SA se kommunikasiemiddele versprei word. 

Sorghum 
Mnr Willem Groothof gee terugvoer oor ‘n besoek aan die vernaamste vyf sorghumverwerkers, waarmee gepoog is om uit te vind waarom daar nie ‘n sterk vertrouensbasis tussen sorghumprodusente en -verwerkers is nie. 

Die grootste knelpunt is die bemarking van sorghum. Hoewel die produk glutenvry en daarom betreklik gesog in die gesondheidsmark kan wees, beland sorghumprodukte heel dikwels op die heel agterste of onderste rakke, waar verbruikers dit nie raaksien nie. Hy meld dat die verwerkers onderneem om aandag daaraan te gee en dit op meer sigbare ruimtes te plaas. Meer aandag sal ook geskenk word aan die advertering van die produkte as inisiatief om die kwynende mark by te staan. 

BTW op sorghum 
Fourie meld dat Graan SA al menige kere vantevore aansoek gedoen het om belasting op toegevoegde waarde (BTW) op sorghum te skrap, maar dat dit elke keer deur die Tesourie van die hand gewys is. 

Graan SA gaan egter weer eens aansoek doen omrede minister Malusi Gigaba, Minister van Finansies, BTW tydens die begrotingsrede met een persentasiepunt, na 15%, verhoog het. Sy sê sorghumprodukte kan weens die BTW wat daarop gehef word, nie met produkte in die waardeketting, waarop daar geen BTW gehef word, kompeteer nie.

Safex-kontrakte 
Fourie noem dat daar tydens die laaste werkgroepvergadering verskillende opinies onder produsente oor die behoud van die sorghum-Safex-kontrak was. ‘n Tekort aan deursigtige markinligting bring verwarring mee en veroorsaak dat produsente en verwerkers mekaar nie vertrou nie. 

Hoewel sekere produsente van opinie is dat die sorghum-Safex-kontrak die enigste meganisme is waarmee pryse bepaal kan word en dit dus daarom wil behou, is die oorgrote meerderheid dit eens dat die sorghumkontrak op Safex verwyder moet word. 

Kultivarproewe 
Fourie gee terugvoer oor Graan SA se sorghumkultivarproef en noem dat hierdie projek tans in sy derde jaar is. Groothof noem dat hy positief oor die toekoms van sorghumproduksie is en alhoewel die Graan SA-proef tans hoofsaaklik ou kultivars evalueer, lyk dit uiters belowend dat nuwe genetika volgende jaar in die proewe ingesluit kan wees. Hy verwag dat opbrengste binne die volgende paar jaar kan verhoog, wat winsgewendheid kan verbeter.

Invoerpariteitsberekeninge 
Fourie meld dat die besluit om die sorghumkontrak by Safex te verwyder, dit essensieel maak dat die sorghuminvoerpariteitsberekeninge akkuraat is. Terugvoer van handelaars is dat SAGIS se invoerpariteitsbekeringe met hul bekeringe tot by Durbanse hawe redelik ooreenstem en betreklik akkuraat is. 

Die groot verskil is egter te bespeur in Randfontein se vervoerkoste. Handelaars meld dat vervoer – afhangende van die ligging – tussen R230/ton en R280/ton kan wees en nie R460/ton soos deur SAGIS vermeld nie. Dit wil voorkom asof die huidige mees akkurate invoerberekeningsom “kusinvoerpariteit” + R230/ton - R280/ton kan wees. Daar is tans ‘n ondersoek om te bepaal wat die beste indikasie daarvan is, om sodoende verwarring tussen produsente en verwerkers uit te skakel.

Wintergraan

Mnr Andries Theron (voorsitter: Wintergraanwerkgroep) het as voorsitter opgetree. 

Teling-en-tegnologieheffing
Die nuwe aansoek vir die koringeindpunttantiemeheffing (EPR) moet weer ingedien word. Daar is tans ongemaklikheid oor die metodiek en die owerheid is nie altyd gemaklik met die SACTA-model nie. Die aansoek vir sojabone is ook ingedien, maar soos vermeld is daar ongemaklikheid en is die bedryf tans in proses om beter uitkomste te vind. Die uitkoms sal waarskynlik die proses vir koring in die toekoms bepaal.

Die wegbreekgroep het ook aan die leierskap duidelike riglyne gegee oor wat die doel van die heffing is en hoe dit aangewend en bestuur moet word. Daar is goeie riglyne verskaf in terme van die hernuwing van die aansoek en die moontlike bedrae wat gehef kan word.

Dr Marinda Visser (bestuurder: Graannavorsing en Beleidsentrum, Graan SA) beklemtoon die belangrikheid van die EPR-stelsel en verduidelik dat maatskappye soos Pannar, die LNR en Sensako reeds bestaande teelprogramme het, maar dat die ideaal sal wees dat ander maatskappye met nuwe tegnologie genader word om parallel te loop met die reeds bestaande saadmaatskappye. Die program veroorsaak dat bestaande maatskappye en nuwe maatskappye voordeel kan trek. Produsente is dit eens dat die teling-en-tegnologieheffing die behoud van die kleingraanbedryf is.

Sy noem ook dat R21,3 miljoen vir die voorteelprogram vanaf die Staat ontvang is en dat dit reeds in werking is; teling is egter 
ongelukkig ‘n tydsame proses. 

Terugvoer van spesialiskomitees
Kanola 
Kommer word uitgespreek oor die beskikbaarheid en prys van kanolasaad en daar word gemeld dat die beste moontlike kultivars geplant moet word ten einde winsgewendheid te verseker. 

Produsente noem dat daar ‘n groot behoefte aan Round-up Ready-gewasse en onkruidbestuursprogramme is. Dit is ook belangrik dat saadmaatskappye inkoop in die bedryf.

Gars 
Mededingendheid van garsbedryf
Die mededingendheid van die garsbedryf is erg in gedrang en sal via gesonde debat en of dan alternatiewelik deur ‘n regsmening uitgeklaar moet word ten einde die produsent, wat onder geweldige finansiële druk is, se volhoubaarheid te verseker.

Die wegbreekgroep het die feit dat die garsprysformule verander het, bespreek – wat na mening buite die SAB/ABInbev-samesmeltingsooreenkoms van die Tribunaal val.

Graan SA het ‘n skrywe aan ABInbev gerig om die ongelukkigheid in die verband te verduidelik. Verder is die Mededingingskommissie ook genader vir hul opinie rakende die verandering in die prysformule. In die samesmeltingsooreenkoms van ABInbev en SAB is duidelik gemaak dat die prysformule nie mag verander as dit ‘n produsent in ‘n minder gunstige posisie plaas nie.

Dit bly ook belangrik dat die garsindustrie deur een kommunikasiekanaal bedryf word, om sodoende binne die Mededingingswet op te tree. 

Die produsente is ook ongelukkig omdat die graderingsvereistes gereeld sonder konsultasie verander word. Met die eerste fase van kontraktering vir die 2018-oes was die ontnugtering groot toe daar bloot per skrywe te kenne gegee is dat die afgeleide prysformule verander is – by implikasie sal die produsent as gevolg daarvan ongeveer ‘n verdere R80/ton swakker af wees.

Garsprodusente kan by implikasie nie met bemarkers op hul eie ‘n ooreenkoms sluit nie, maar word beperk deur een diensverskaffer – die voorkeurverskaffer van ABInbev.

Ondersoek na struktuur van landbouchemiese bedryf aangevra
Daar is versoek dat die struktuur van die landbouchemiese bedryf ondersoek word – spesifiek ten opsigte van die koste-effektiwiteit van die voorsieningsketting vanaf die vervaardiger/invoerder na die plaashek. Indien die voorsieningsketting van die landbouchemiese bedryf in Suid-Afrika met dié van Australië en die VSA vergelyk word, lyk die Suid-Afrikaanse model verouderd en oneffektief. 

Die werksgroep het ooreengekom dat produsente hulself só sal moet organiseer dat hulle ‘n geakkrediteerde AVCASA-persoon onder hulle het, sodat hulle gesamentlik direk by vervaardigers kan aankoop. Die saak is verwys na die Produksie/Insetwerkgroep, om aandag daaraan te gee.

Koring
Die produsente het al die probleme binne die bedryf gelys en bespreek om moontlike oplossing te vind. Die grootste uitdaging is dat die prys van plaaslike koring nie die kwaliteit reflekteer nie. Die kosteknyptang groei al hoe meer en die groei in koringopbrengste is nie genoegsaam om dit teen te staan nie. Markkragte skep ‘n onregverdige mededingende omgewing. Die tekort aan alternatiewe gewasse is ‘n wesenlike uitdaging en beperk risikobestuur. 

Die EPR-stelsel is die oplossing vir ‘n groot aantal van die probleme binne koring en alternatiewe gewasse. Ongelukkig is dit nie ‘n korttermynproses nie, maar meer ‘n langertermynproses. Dit is verder uiters belangrik om alternatiewe gewasse te ontwikkel.

Prof Ferdi Meyer van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het ‘n voorlegging oor internasionale mededingendheid gedoen. Prof Meyer het deur middel van ‘n kaart, waar koring onderskeidelik tussen 2007 en 2014 geproduseer is, die langtermyn-dalende fase in reële pryse uitgewys. 

Hy het verduidelik dat stygende koringpryse vir die afgelope tien jaar ervaar is en produsente gemaan om opbrengste te verhoog en uitgawes te verlaag, om sodoende volhoubaarheid te verseker.

Mnr Divan van der Westhuizen het by prof Meyer aangesluit en ‘n voorlegging getiteld “Koringopbrengs regoor die wêreld” gedoen. Hy het gewys dat plaaslike produksiekostes in vergelyking met die res van die wêreld betreklik hoër is. Plaaslike opbrengste is ook nie in ‘n wenslike posisie nie en dus sal daar heelwat meer op groei in opbrengste gefokus moet word. Wat wel positief is, is dat stikstof effektief benut word in vergelyking met ander lande, maar dat dit nog steeds een van die duurste komponente binne die kostestruktuur is.

Liggingsdifferensiaal
Dr Dirk Strydom (bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA) doen ‘n voorlegging oor die liggingsdifferensiaal na aanleiding van ‘n versoek vanaf die streeksvergaderings om die liggingsdifferensiaal te verwyder.

Hy verduidelik dat indien die liggingsdifferensiaal weggevat word, die produsent sy eie premies gaan moet beding. Die wegbreeksessie bereik konsensus dat die liggingsdifferensiaal moet wegval en die besluit word na hoofkongres verwys.

Produsente voel dat koring nie onder dieselfde kam as die ander kommoditeite geskeer kan word nie – veral rakende die liggingsdifferensiaal. ‘n Groot aantal meen dat die mark volwasse genoeg is om sonder die liggingsdifferensiaal te funksioneer. Indien die liggingsdifferensiaal nie weggeneem word nie, is die voorstel dat daar as alternatief na leweringspunte gekyk word.

Ongelykheid in koringbedryf
Mnr Mike Day doen ‘n voorlegging getiteld “The inefficient farmer = The inefficient value chain!”

Sy studie bewys dat daar ‘n goeie balans in die stelsel rakende algehele ondersteuning en mededingendheid is. Tog is dit duidelik dat kopers ‘n positiewe voordeel geniet en die produsente ‘n negatiewe syfer beleef wanneer dit by die waardeketting kom. 

Dit affekteer produsente en verbruikers negatief en die vraag word gevra of die stelsel werklik mededingendheid bevorder.

Graan SA onderneem om die nodige strukture te raadpleeg om die regverdigheid van die waardeketting te herstel.

Grondbone

Mnr Gerhard Bruwer (voorsitter: Grondbonewerkgroep) het as voorsitter opgetree.

Nat gradering van grondbone-projek
Mnr Neels Wegner van die Bederfbare Produkte Uitvoerbeheerraad (PPECB) gee ‘n oorsig oor hulle rol in die grondboonbedryf. Hy verduidelik dat resultate van hul navorsingsprojek ‘n riglyn vir aftrekkings aan produsente bied wanneer grondbone op ‘n nat basis gelewer word.

Die voorlegging het heelwat vrae opgelewer rakende die proef en die berekening van die massaverlies vanaf ‘n nat na ‘n droë basis. Oor die algemeen wou produsente weet hoe dit prakties toegepas gaan word, aangesien die gradering slegs ‘n riglyn is en nie ‘n regulasie nie. Daar is vrae uit die vergadering of die proef die kultivars met verskillende dopdiktes ook in ag neem en wat die moontlike impak daarvan op die persentasie gewigaftrekking sal wees. 

Wegner noem dat daar ‘n groot verskeidenheid monsters van verskillende kultivars in die proef gebruik is en dat dit ‘n gemiddeld van die proef weerspieël. Daar is egter nie riglyne vir verskillende kultivars nie, maar die gemiddelde is ‘n goeie verteenwoordigende syfer en die afwykings behoort minimaal te wees.

Die wegbreeksessie het na die voorlegging gevra dat die proef herhaal moet word om ten minste twee seisoene se data met mekaar te kan vergelyk.

Graderingsreëls van grondbone
Moontlike veranderinge in die graderingsreëls van grondbone is bespreek, wat beter vergoeding vir die kwaliteit van grondbone sal bewerkstellig. Hierdie veranderinge sal ‘n toevoeging van ‘n eerste en tweede graad tot beide die keurgraad en persgraad wees. Dit sal dan bekend staan as ‘n keur 1 en keur 2, terwyl die persgraad sal bekend staan as ‘n pers 1 en pers 2. Hoewel die addisionele grade soos uiteengesit, tans nog nie deel van die graderingsregulasies is nie, sal dit weer voorgestel word.

Grondboonkultivarevaluasie
Die kultivarevaluasieprojek het ten doel om jaarliks resultate rakende die prestasie van geregistreerde kultivars beskikbaar te stel. Dit is belangrik dat die bedryf gesamentlik ‘n reeks onafhanklike boeredae hou, waar die produsente die proewe in hul gebied sal kan bywoon. Daar moet verder gepoog word om alle maatskappye se kultivars in die evaluasieproewe te plant.

Kultivarevaluasie is met twaalf geregistreerde kultivars van drie maatskappye (LNR, Trio Trade en Golden Peanut) op agt verskillende lokaliteite gedoen, waarvan vyf in droëlandgebiede en drie in besproeiingsgebiede gedoen is. 

Wat die vyf droëlandstreke (Bultfontein, Setlagole, Hoopstad, Bothaville en Schweizer-Reneke) betref, het die LNR se SelliePlus-kultivar die beste gevaar, met ‘n gemiddelde opbrengs van 3,75 t/ha. Die gemiddelde opbrengs wat oor al die kultivars en lokaliteite heen verkry is, was 3,18 t/ha. Die beste kultivar in die besproeiingsgebiede was die GP023 met ‘n gemiddelde opbrengs van 3,34 t/ha.

Eindpunttantieme (EPR)-stelsel
Kommer is uitgespreek oor die gebrek aan nuwe kultivars in die bedryf. Die huidige kultivars kom nog uit ou genebanke. Graan SA ondersoek tans die moontlikheid van ‘n eindpunttantieme (EPR)-stelsel in die grondboonbedryf. Die stelsel moet as aansporing vir maatskappye dien om nuwe kultivars in Suid-Afrika, wat toegang tot nuwe tegnologie en moontlik beter volgehoue opbrengste sal gee, te registreer.

Grondboonprysmodel
‘n Grondboonprysmodel is weer bespreek. Die doel van so ‘n model is om ‘n meer deursigtige produsente-in- en -uitvoerpariteitsprys daar te stel.

Alhoewel die pariteitsprys vir lewering in Durban ‘n goeie aanduiding is waarteen die grondbone in die hawe gelewer moet word, is die uitdaging steeds om ‘n deursigtige produsenteprys as verwysingsprys te kry. 

‘n Opsie is om die geweegde gemiddelde pryse van die verskillende lande volgens die laaste drie jaar se in- en uitvoere, te gebruik. Die kompleksiteit van die grondboonmark en die feit dat verskillende grade (keur/divers/pers) in- en uitgevoer word, maak egter van hierdie berekening ‘n uitdaging.

Die ander alternatief is om soveel moontlik inligting oor kostes vanaf verskillende verwerkers in te samel om ‘n gemiddelde kostestruktuur vir uitvoere te bereken – vanaf plaasaankope tot en met die lewering van die grondbone in die Durbanse hawe. Daardeur kan ‘n beter produsente-in- en -uitvoerpariteit bereken word, wat sal dien as ‘n beter verwysingsprys ten einde hopelik meer deursigtigheid in die mark te kry.

Graan SA sal egter steeds voortgaan om ondersoek in te stel watter moontlikhede beskikbaar is om die beste en mees deursigtige verwysingsprys vir grondbone te kry.

Publication: April 2018

Section: Review on Congress

Search