• Login
  • Search Icon

Watter rywydtes is die beste?

January 2015

KOBUS VAN ZYL, Omnia Kunsmis

Het jy jouself ook al afgevra: Watter rywydte is die beste? Die doel van dié artikel is nie om aan enige rywydte voorkeur te gee nie, maar om die praktiese besluit wat met 'n verandering geneem moet word, uit te lig. Solank as wat daar graan/rygewasse verbou word, sal daar altyd meningsverskille oor rywydtes wees.

image

In praktyk moet ’n stelsel gekies word wat die grondfisiese eienskappe (byvoorbeeld gronddiepte, klei-inhoud en grondtipe), wisselboustelsel, gewaskultivars, bewerking en reënval komplementeer. ’n Voor beeld hiervan is waar rywydtes nie die self de wydte is nie, maar breër is by die trekkerspoor om die trekkerwielkompaksie so ver as moontlik vanaf die mieliery te hou.

Hierdie tipe stelsel werk ideaal as ’n spoorverkeerstelsel met behulp van ‘n GPS-stuurstelsel. Die idee is om by standaardwerkswydtes van planters te bly en die bewerking en opvolgaksies by die stelsel in te pas. Om rywydtes te verander, gaan altyd met koste gepaard en dit kan ’n onnodige las op die boerdery plaas. Poog daarom eerder om elke aspek van jou bestaande stelsel te optimaliseer voordat groot koste aangegaan word om rywydtes te verander.

In teorie behoort nouer rye altyd ’n beter opbrengs te gee as wye rye; indien daar slegs na rywydtes gekyk word. Ons moet egter in gedagte hou dat rywydte een van vele agronomiese praktyke is wat ’n verskil in opbrengs kan maak. Daarom is dit belangrik, soos reeds genoem, dat die rywydtes die totale gewasverbouing ondersteun. Nouer rywydtes kan byvoorbeeld 'n beperking plaas op die bewerkingsdiepte en ’n potensiële oesverlies veroorsaak.

Nouer rywydtes het die voordeel dat plante beter versprei is in die ry as op wye rywydtes (sien Tabel 1). In Tabel 1 word die vergelyking getref tussen ‘n 2,1 m, 1,5 m, 0,9 m en 0,75 m rywydte teen verskillende plantestande van mielies.

image

Die vogverbruik van ‘n 2,1 m ry teen ’n stand van 20 000 sal dus heelwat hoër wees op die bewerkte (geripte) ry as ’n
20 000 stand op ’n 0,9 m ry. Op ’n meter is daar dus 4,2 plante per meter en op die 2,1 m rywydte en op die 0,9 m rywydte is daar 1,5 plante per meter.

Die verskynsel word dikwels opgemerk waar daar op die ry gerip word of met beitelploeë gewerk word. Vogverlies vanaf nat bogrond is gewoonlik ook hoër by wye rywydtes as gevolg van evapotranspirasie. Die onbedekte grond is dus blootgestel aan verdamping.

Die omgekeerde is waar op die nou rywydtes waar die blaredak die grondoppervlakte beskerm en sodoende verdamping vanaf die grondoppervlakte verlaag. Wanneer die grond droog is op die oppervlakte, kan die vogverliese op die nou rywydtes ook hoog wees as gevolg van ‘n groter blaaroppervlakte wat blootgestel is aan transpirasie, met ander woorde vogverliese vanaf die blaredak.

Die keuse van ’n rywydte moet die gewaskultivar en wisselboustelsel komplementeer. Indien gewasse, soos sonneblom, sojabone en grondbone geplant word, sal die wisselbou met mielies baat by ’n nouer rywydte van 0,9 m of nouer. Enkelkoppige mielies wat dikwels onder besproeiing of op hoëpotensiaal droëlande geplant word, moet verkieslik op ’n nouer rywydte geplant word, om te verseker dat daar genoeg koppe per hektaar is om die verlangde opbrengs te behaal.

Die opbrengs kan verder beïnvloed word deur die finale plantestand, plantspasiëring, hitte-eenhede, grondvog, bemesting, onkruiddruk, siektes en insekplae. Die gebruik van geneties gemanipuleerde gewasse het ’n besliste voordeel vir nouer rywydtes, aangesien onkruidbeheer met glifosaat effektief is.

Wyer rywydtes het ’n groot voordeel bo nouer rye wanneer gronde met ’n lae bogrondse vrugbaarheid geplant word omrede dieselfde massa kunsmis oor minder rye versprei word en die konsentrasie van die kunsmisband heelwat hoër is.

Die tipe kunsmis en hoeveelheid per hektaar moet dus oordeelkundig toegedien word om nie kunsmisbrandskade te veroorsaak nie. In Tabel 2 word die konsentrasie-effek van kunsmis op verskillende rywydtes aangedui.

image

Waarnemings oor die afgelope paar jare het wel getoon dat nouer rywydtes onder gunstige klimaat (goeie reënval) beter opbrengste oplewer as wyer rywydtes. ‘n Rywydte van 2,1 m wat met ‘n 1 m rywydte vergelyk is, het oor ‘n driejaar-periode van goeie reënval, tussen 1 ton/ha en 1,5 ton/ha swakker presteer, teen dieselfde plantestand. Die verskille tussen 1,5 m en 0,9 m behoort nie so drasties te wees nie.

Gedurende die 2011-seisoen het die westelike saaigebiede baie hoë reënval gekry en dit was opvallend dat die 2,1 m rye (sewe voete) die natter toestande beter hanteer het en dat die mielies vinniger herstel het in vergelyking met die nouer rywydtes.

Gedurende die 2012- en 2013-seisoene wat heelwat droeër was as 2011, het die 1,5 m rywydtes in die westelike saaigebied op die droër gronde nie swakker gedoen as die nouer rywydtes nie. Verminderde bewerking het ook redelik toegeneem, met hoofsaaklik nouer rywydtes as die voorkeur by produsente om so gou as moontlik stoppels/materiaal/bedekking op die grondoppervlakte te kry. Verder is die nouer rywydtes onder verminderde bewerking ook geskik vir die plant van gewasse soos sonneblom en sojabone.

Die volgende belangrike punte moet in ag geneem word voordat rywydteveranderings oorweeg word:

  • Stoppelbestuur en behou (veral op die sanderige watertafelgronde van die westelike saaigebied)
  • Bewerking en spoorverkeerstelsel
  • Wisselboustelsel
  • Bemesting
  • Kultivarkeuse
  • Onkruid- en plaagbeheer
  • Kapitale koste van verandering
  • Opleiding van personeel om die nuwe rywydtes te verstaan en deeglik te bewerk

Oorweeg verandering na ander rywydtes, maar doen dit vir die regte redes en sonder om enige van die basiese praktyke af te skeep.

Publication: January 2015

Section: On farm level

Search