• Login
  • Search Icon

Wat staan in die groenskrif oor grondhervorming?

December 2011

JANNIE DE VILLIERS, UITVOERENDE HOOFBESTUURDER, GRAAN SA

Die regering het in September ‘n groenskrif vir grondhervorming vir kommentaar gepubliseer. Graan SA het via georganiseerde landbou (Agri SA) aan die proses deelgeneem. Die kommentaar moes teen 30 November 2011 ingestuur word.

Dit was vroeg in die proses baie duidelik dat daar na ‘n nuwe plan gesoek word wat later geïmplementeer kan word en beslis ook om die grond wat oorgedra word, in produksie te hou.

Daar is ses werkgroepe wat oor die verskillende elemente in die groenskrif met mekaar onderhandel:

  • Waardeerder-Generaal;
  • Grondbestuurkommissie;
  • Grondregtebestuursraad en verblyfskwessies;
  • Wetswysigings op die Restitusiewet en die Wet op Gemeenskaplike Verenigings;
  • Drie-vlak besitregstelsel; en
  • Kommunale grond.

Elk van hierdie groepe poog om oplossings te kry vir die mislukkings van die huidige beleid. In Agri SA se gesprek met minister Gugile Nkwinti (die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming), het hy duidelik aangedui dat hierdie ‘n proses van onderhandeling is en nie net bloot ‘n saak van konsultasie nie.

Met die oog hierop het Graan SA se Hoofbestuur besluit dat die uitvoerende hoofbestuurder saam met die voorsitter, mnr Neels Ferreira, meer tyd aan hierdie saak kan bestee en albei het deel geword van die Agri SA onderhandelingspan. Graan SA se bydraes is veral gefokus om praktiese alternatiewe op die tafel te sit waarin die mandate en beginsels waarop daar ooreengekom is, vervat is.

Die ononderhandelbare beginsels is die volgende:

  • Behoud van die markmeganisme;
  • Beskerming van privaat eiendomsreg;
  • Behoud van Artikel 25 van die Grondwet in terme van die waarde van grond;
  • Voedselsekerheid (hou grond in produksie);
  • Grondhervorming is ‘n nasionale doelwit en moet nasionaal (nie deur produsente alleen nie) befonds word;
  • Gewillige koper, gewillige verkoper beginsel; en
  • Geen maksimum hektare bepaling op privaatbesit nie.

Hierteenoor is daar voorstelle op die tafel soos ‘n persoon/instansie van die staat wat grondwaardes bepaal, ‘n beperking op die aantal hektare wat elke individu mag besit en allerlei verblyfregprobleme.

Die staat het ook alreeds geluide begin maak om die hele kwessie van grondeise weer eens te open. Die gedagte om ‘n hele paar statutêre liggame te stig om met die implementering van grondhervorming te help sonder om klinies na die huidige probleme te kyk, is ook aspekte waaraan aandag gegee word. Die blote stig van meer organisasies is nie noodwendig die oplossings vir die huidige mislukkings nie.

Ander kwessies wat ook baie dringend aangespreek moet word en deel van die toekomstige oplossings moet wees, is die volgende:

  • Uitwis van korrupsie;
  • Afhandeling van ‘n grondoudit;
  • Vennootskappe om begunstigdes produktief te hou; en
  • Om kommunale en staatsgrond in produksie te kry.

Graan SA se voorstelle oor alternatiewe planne word tans binne Agri SA bespreek en vind beslag in die onderhandelinge en kommentaar. Graan SA het beslis ‘n rol te speel om te help verseker dat grondbegunstigdes volhoubaar kan produseer.

Laastens is hierdie onderhandelinge ook ‘n geleentheid om bietjie vooruit te kyk na ‘n periode wat ons die “nuwe normaal” noem. ‘n Periode waarin die regstellings en inmenging van die regering gebaseer op ras, ook tot ‘n einde kom.

Ons onderhandelaars werk hard daaraan om die beste moontlike oplossings daar te stel wat sal meebring dat produsente billik en regverdig volgens die land se Grondwet hanteer sal word, dat grond in produksie sal bly en voedselsekerheid gehandhaaf sal word.

Dit is geen maklike taak nie. Produsente se deelname aan georganiseerde landbou maak dit vir ons moontlik om nie net aan die proses deel te neem nie, maar ‘n verskil aan die uitkoms te maak. Dankie daarvoor.

Die volledige kommentare en insette is by Graan SA se kantoor in Pretoria beskikbaar. Kontak ons gerus by (012) 807-6023 indien jy meer inligting benodig.

Publication: December 2011

Section: Other Articles

Search