• Login
  • Search Icon

Wat skat die Oesskattingskomitee?

September 2012

RONA BEUKES, OESSKATTINGSKOMITEE

Ofskoon die meeste rolspelers ‘n goeie begrip het van wat die Oesskattingskomitee skat, vind ons gereeld dat daar wanbegrippe voorkom.

Die Oesskattingskomitee skat die totale oes, ongeag:

  • Of die produsent die graan oes en lewer aan ‘n kommersiële struktuur vir verkope/berging/storing (byvoorbeeld aan ‘n landboubesigheid/ koöperasie, meulenaar, verwerker of handelaar);
  • Of die produsent die graan oes en lewer aan ‘n kommersiële struktuur vir klandisiemaal/omruilmaal;
  • Of die produsent die graan oes en verkoop aan sy medeprodusent(e) om aan te wend vir sy voerkraal, melkery, meule of pluimvee;
  • Of die produsent ‘n deel daarvan op sy plaas vir eie verbruik/verwerking terughou; en
  • Of die saad vir plantdoeleindes aangewend gaan word al dan nie.

Metode van hoe ‘n oesskatting gedoen word?

Die inligting wat gebruik word om ‘n oesskatting op te baseer, word geklassifiseer volgens ‘n orde van belangrikheid deur middel van die tipe metodiek wat gevolg word, naamlik opnames, modellering, persoonlike kontak met produsente/studiegroepe/landboubesighede asook maandelikse verslae deur verskeie rolspelers.

Sien die voorstelling in Tabel 1 as illustrasie hiervan. Die insette, soos gespesifiseer in die A-lyn, is bepalend tot die oppervlakte en produksie/ opbrengs en ‘n gewig van 90% word hieraan toegeken. Hierdie insette is objektief, wetenskaplik en statisties van aard. Die insette in die B- en C-lyn word hoofsaaklik gebruik om die insette in die A-lyn te evalueer of verifieer en is subjektief van aard.

image

Hoe word die totale oes aan die einde van die seisoen bereken?

Aan die einde van ‘n produksieseisoen word inligting van fisiese produsentelewerings aan kommersiële strukture, tesame met fisiese terughoudings op plase, gebruik om die grootte van die oes te bepaal. Produsentelewerings, wat gewoonlik tussen 95% en 97% van die totale oes uitmaak, word deur die Suid-Afrikaanse Graan Inligtingsdiens (SAGIS) gemonitor.

Terughoudings op plase om later te lewer en/of om self te gebruik, word aan die einde van die stroopproses beraam deur middel van opnames wat deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Nasionale Oesskattingskonsortium onder neem word. Hierdie terughoudings word bereken en by SAGIS lewerings getel ten einde die werklike grootte van die mielie-oes te kan bepaal.

Inligting rakende saad word vanaf die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR) verkry. Dus, ter opsomming: Totale oes = SAGIS produsentelewerings plus terughoudings op plase plus saad. Uit die voorafgaande inligting is dit dus duidelik dat die skatting van die Oesskattingskomitee en SAGIS se produsentelewerings nie versoenbaar is nie.

Hoe akkuraat is die oesskatting?

In Grafiek 1 word aangedui hoe die Oesskattingskomitee oor die afgelope 16 seisoene gevaar het met sy finale skatting teenoor die werklike oesgrootte vir mielies. Die komitee het oor ‘n periode van 16 seisoene, die mielie-oes slegs vier keer hoër geskat as waarop die oes gerealiseer het. Die komitee neig dus om die oes meer gereeld te onderskat as oorskat.

image

Produsente se rol

Hoe meer produsente per gebied (landdrosdistrik) akkurate insette aan die Oesskattingskomitee lewer, hoe beter kan die uiteindelike skatting wees.

Die redes hoekom produsente gereeld hulle inligting aan die Oesskattingskomitee moet stuur, is as volg:

  • Oppervlakte-inligting is, naas die inligting soos verkry vanaf die konsortium, die belangrikste inset;
  • Opbrengsinligting dien as die enigste inset aan die begin van die seisoen asook aan die einde van die seisoen;
  • Die voorneme van produsente om gewasse te plant word slegs gebaseer op insette van produsente;
  • Groter deelname lei tot beter verteenwoordiging;
  • Beter verteenwoordiging lei daartoe dat produsente se inligting ‘n groter gewig dra in die bepaling van die skatting;
  • Verskille/afwykings kan gouer uitgewys word; en
  • Opbrengsinligting op landdrosdistriksvlak kan akkuraat bereken word.

Resultate van produsente se inligting

Die huidige seisoen (2012) se opbrengs vir Bothaville (Grafiek 2), naamlik 4,81 ton/ha is die hoogste oor die tydperk van agt seisoene en 0,81 ton/ha hoër as die vorige seisoen se gemiddelde opbrengs van 4,00 ton/ha. Die huidige seisoen (2012) se opbrengs vir Middelburg (Grafiek 3), naamlik 5,30 ton/ha is bykans dieselfde as die vorige vyf jaar se gemiddelde opbrengs van 5,23 ton/ha, maar effens hoër as die vorige seisoen se gemiddelde opbrengs van 5,20 ton/ha.

image

Die huidige seisoen (2012) se opbrengs vir Lichtenburg (Grafiek 4), naamlik 2,77 ton/ha is naas 2007 die laagste opbrengs oor die tydperk van agt seisoene. Dit is ook aansienlik (1,73 ton/ha) laer as die vorige seisoen se gemiddelde opbrengs van 4,50 ton/ha. Die inligting wat die komitee vanaf produsente ontvang, word ook gebruik om die oppervlakte onder besproeiing (Grafiek 5) te bepaal.

image

Sedert 1996, het die oppervlakte beplant met mielies onder besproeiing met 194,4% toegeneem, vanaf  81 530 ha tot 240 000 ha in 2012. Sedert 2000, het die oppervlakte beplant met koring redelik stabiel gebly (Grafiek 6). Inaggenome dat die totale oppervlakte beplant met koring sedert 1996 afgeneem het vanaf 1,294 miljoen ha tot 604 700 ha in 2011, het die persentasie van koring beplant onder besproeiing toegeneem vanaf 13,53% (1996) tot 24,23% (2011) van die totale oppervlakte beplant.

image

Laastens wil die Oesskattingskomitee graag die produsente wat getrou deelneem en bydra tot die sukses van die oesskattingsproses, hartlik bedank. Ons wil terselfdertyd die hoop uitspreek dat meer produsente voortaan sal saamwerk om die komitee behulpsaam te wees in die uitvoering van hierdie belangrike taak.

Vir enige navrae kan Rona Beukes, lid van die Oesskattingskomitee, gekontak word by (012) 319-8032 of RonaB@daff.gov.za.

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search