• Login
  • Search Icon

Wat om alles te oorweeg by die oorskakeling van saai na vee

October 2013

image

IZAK DU PLESSIS, VEEKUNDIGE, SENWES

Is oorskakeling van saai na vee die antwoord? Hierdie is nie ‘n maklike vraag om te antwoord nie, siende dat die besluit nie ligtelik geneem kan word nie.

Die twee boerderybedrywighede lê wêrelde uit mekaar. Dit verg verskillende insette en bestuursvaardighede. Dit is onderhewig aan verskillende markkragte en lewer verskillende opbrengste.

Alhoewel veeboerdery allerweë as minder riskant as saaiboerdery beskou word, is dit nie uitgesluit van risiko nie, soos vanjaar duidelik bewys is. In groot dele van die sentrale streke van die land is ‘n droë seisoen ervaar. Dit het vleisprodusente gedwing om hul veekuddes te verklein, wat veepryse onder druk hou.

Wanneer ‘n ingrypende verandering in die boerderystelsel, soos die oorskakeling van saaiboerdery na veeboerdery oorweeg word, moet ‘n paar belangrike dinge in gedagte gehou word:

Bestuurstyl

Is jy werklik bereid om elke dag aandag aan jou vee te gee? Vee vra nie soos saaiboerdery net op sekere piektye bestuursinsette nie, maar elke dag. Veeboerdery het nie verskansingsopsies nie. Jy is heeltyd uitgelewer aan die markkragte. Die enigste besluit wat in die produsent se hande is, is die besluit van wanneer om te verkoop of nie. Meestal neem die beskikbaarheid al dan nie van voer die keuse ook uit die besluit.

Verandering in leefstyl

Indien 500 ha mielies geplant word, kan ‘n marge van ongeveer R1 084 500 gerealiseer word. Indien dieselfde oppervlakte na weiding omgeskakel word en korrek bemes word, kan ongeveer 250 koeie op die oppervlakte onderhou word en kan ‘n marge van R481 643 gerealiseer word. Hierdie situasie sal noodwendig drastiese aanpassings in leefstyluitgawes tot gevolg hê.

Skuld

Uit bogenoemde syfers is dit duidelik dat die inkomste wat met vee gegenereer kan word, nie voldoende sal wees om saaiboerdery se skuld te kan delg nie. Sorg dus dat die boerdery se saaiskuld eers uit ander bronne gedek word alvorens na ‘n veeboerdery oorgeskakel word. Voorts moet in gedagte gehou word dat saai- en veeboerderye ver skillende skuldlaste kan diens. Alhoewel saaiboerdery tot 40% skuld kan hanteer, kan veeboerdery nie meer as 15% skuld hanteer nie.

Kontantvloei

Meeste veeboerderye se hoofinkomste word uit een of twee bemarkingsaksies verkry en tesame met die kleiner inkomstestroom, is dit duidelik dat kontantvloeibestuur ‘n redelike groot prioriteit in ‘n veeboerdery moet geniet.

Indien vrede gemaak kan word met hierdie groot aspekte rakende veeboerdery, is die kanse groot dat die veeboerdery suksesvol bedryf kan word. Daar is egter nog ‘n aantal kleiner, maar nie minder belangrike aspekte nie, wat ook aan aandag gegee moet word. Hierdie aspekte handel grotendeels oor die beplanning en bestuur van die veeboerdery. Indien die basiese dinge reg gedoen word, raak die bestuur van die vee baie makliker.

image

Proses

‘n Omwentelende verandering van die boerderystelsel kan nie oornag gebeur nie. Dit is ‘n proses wat noukeurig beplan en uitgevoer moet word. Weidings moet eers gevestig en vee aangekoop word. Verder gaan inkomste uit die veeboerdery eers ongeveer ‘n jaar ná die aankoop van die vee realiseer, afhangende van die produksiestatus van die diere wat ingekoop word.

Dit is dus duidelik dat omdraai nie ligtelik gedoen kan word nie. Daar is vir ‘n saaiprodusent geen lekkerder reuk as wanneer ‘n ploeg vars, nat grond omkeer nie, maar onthou baie tyd en geld word in die omskakeling van saaiboerdery na veeboerdery bestee. Dit gaan altyd weer geld kos om die veeboerdery te verklein of toe te maak, sou daar later weer van plan verander word.

Hulpbronontleding

Selfs met vee begin alles by die primêre hulpbron, naamlik die grond. Deur die grond te karteer word riglyne vir die onttrekking en omskakeling van lande geskep.

Aldus Johan Mouton (2007) is hierdie nie ‘n nuttelose oefening nie, want weiding is ook gewasse wat verbou word met sekere akkerboukundige  vereistes. Die bemestingsvereistes asook die drakrag van die weidings kan met behulp van hierdie kaarte bepaal word.

image

Hulpbronaanwending

Die as waarom ‘n veeboerdery draai, is voervoorsiening. Dit is dus kritiek belangrik om vir die veevertakking ‘n voervloei saam te stel.

Begin deur die maandelikse droëmateriaalbehoefte van die vee te bepaal. Dit sal afhang van die grootte van die kudde, die produksiestelsel asook die reproduktiewe siklus van die vroulike diere (sien Grafiek 1).

Sodra die droëmateriaalbehoefte gekwantifiseer is, moet die hoeveelheid droë materiaal wat maandeliks geproduseer word, bereken word. Onthou om al die droëmateriaalbronne in te sluit (sien Grafiek 2), byvoorbeeld veldweidings met verskillende drakragte, oesreste, aangeplante weidings en wintervoerlande.

Waar die droëmateriaalvoorsiening laer is as die droëmateriaalbehoefte, kan dit aangevul word uit voerbronne wat tydens die produksieseisoen ‘n oorproduksie van droë materiaal toon, byvoorbeeld: Rus gedeeltes van die weidings tydens die somer om gedurende die winter te benut, of baal en stoor van die weidings.

Voerbank

Veeboerdery is nes saaiboerdery van reën afhanklik. Indien die reën wegbly, sal daar ‘n voerskaarste ontstaan. Daar is net een sekerheid in boerdery en dit is dat die droogte gaan kom, as dit nie hierdie jaar is nie, gaan dit volgende jaar wees.

Die beplanning en opbou van ‘n groot genoeg voerbank is dus noodsaaklik. Die kleinste voerbank waarmee begin moet word, is genoeg voer om die diere vir ‘n maand lank te kan onderhou, maar die uiteindelike oogmerk moet wees om genoeg voer vir vier maande te berg.

‘n Voerbank is in die verlede beskou as hooi wat in store of miedens geberg word. ‘n Mens sien kwalik nog voerbanke van die omvang van die sestigerjare. Daar is egter ook ander maniere om reserwevoer te berg, soos om veld te spaar. Die spaarveld kan dan met die aanvang van die somer benut word. Indien die reën laat kom, is daar tot die nuwe gras groei, voer beskikbaar vir die diere. Uit ervaring wil dit voorkom asof dit voldoende is om ongeveer ‘n derde van die beskikbare weiding as voerbank te laat rus.

Produksiestelsel

Daar moet reeds voor die oorskakeling besluit word op die tipe produksiestelsel wat gevolg gaan word. Die produksiestelsel bepaal die getal diere wat aangehou kan word asook die inkomste en uitgaweprofiel van die veeboerdery.

Met enige stelsel waar koeie aangehou word, word die teeldiere slegs een keer op groot skaal aangeskaf. Indien speenkalwers verkoop word, gaan die diere ná ongeveer een jaar begin inkomste lewer. Met tollie- en osstelsels neem dit twee tot drie jaar. Die bemarking van tollies en osse bring meer plooibaarheid in die stelsel in. Met droogtes kan jonger diere ook verkoop word en daar hoef meestal geen of min teeldiere verkoop te word nie.

Inkoopstelsels is ook produksie-opsies. Kalwers kan gedurende Junie/Julie ingekoop word en weer in Februarie verkoop word. Met hierdie stelsels is dit baie belangrik om konstant op hoogte van die kalf- en vleispryse te bly.

Omdat kalwers vier tot ses maande later verkoop word, moet prysvooruitskattings ook gedoen word. Hierdie stelsels het die voordeel dat daar slegs gedurende sekere tye van die jaar diere op die plaas is, terwyl daar ander tye geen diere is nie.

Kuddebestuur

Kuddebestuur moet daarop gemik wees om die reproduksie van die diere so hoog as moontlik te kry en te hou.

Maak seker watter weiding in die omgewing aard en goed doen. Bestuur die weidings ná vestiging behoorlik (bemes en beheer onkruid). Hierdie aksies verhoog die weiding se produksie en verseker dat die weiding lank oorleef sonder dat dit nodig is om dit weer te vestig; gewilde weidings is Smutsvinger, ouland- en bloubuffelsgras.

Met koeistelsels moet vooraf besluit word op ‘n dekseisoen, want dit bepaal die kalfseisoen asook die bemarkingstyd. Dit moet net in gedagte gehou word dat die meeste veeprodusente met goeie rede hulle diere in die lente laat kalf.

Afhangende van die produksiestelsel wat gevolg word, moet ‘n deeglike kuddegesondheidsprogram ook deel uitmaak van ‘n veeprodusent se aktiwiteite. Siektes is naas voeding seker die grootste oorsaak van verlaagde reproduksie. Maak seker vir watter siektes geënt moet word en op watter tydstip van die jaar dit moet gebeur. Die plaaslike veearts weet dit die beste.

Ten slotte

Om ‘n totale verandering aan die boer derystelsel te maak, kan nie ligtelik oor besluit word nie. Al die voor- en nadele moet teen mekaar opgeweeg word.

Maak seker dat die nuwe boerderystelsel by jou pas en dat jy met die nuwe bestuursvereistes wat dit aan jou stel, kan saamleef. Sorteer ook presies uit wat jy met die nuwe boerderystelsel wil produseer en hoe jy daarby gaan uitkom.

Onthou kort paaie lei gewoonlik reguit tot mislukking. Moenie huiwer om raad by kundiges te kry nie. Vermy dit om elke Jan Rap en sy maat vir raad te vra. Gewoonlik het elke mens sy eie opinie wat dikwels strydig met ander opinies is. Hierdie praktyk lei gewoonlik tot verwarring en ongeordende fokus.

Indien vas besluit is om na vee oor te skakel, weet dat omdraai moeilik en duur gaan wees. Wees egter gerus, want alhoewel veeboerdery nie die piekinkomste van saaiboerdery gaan lewer nie, is dit ‘n baie meer stabiele boerdery met heelwat minder risiko’s as saaiboerdery. Selfs al word nie volledig na vee oorgeskakel nie, sal vee bydra tot groter stabiliteit in die boerdery.

Vir meer inligting, kontak Izak du Plessis by izak.duplessis@senwes.co.za.

Publication: October 2013

Section: Input Overview

Search