• Login
  • Search Icon

Wat kan ons ná die verkiesing verwag?

May 2014

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek het die ander dag gesit en kyk na wat dit was waaraan ek die meeste van my tyd spandeer het die afgelope ses maande. Ek wou weet of is ek nog met die regte goed besig en waar ek insette lewer om die graanprodusent se saak te dryf?

Ná Graan SA se Kongres moet die verkose leierskap weer onder ‘n boom gaan sit en die pad vorentoe bedink. Waar moet ons verstellings aanbring en waar moet ons nuwe grond gaan breek om ‘n oes vir ons kinders in die toekoms te verseker?

Terwyl die politikusse besig is met die werf van stemme (en geld uitgee), is die amptenary aan die woel. Party is doodbang om besluite te neem omdat hulle dalk hulle werk kan verloor as hulle nou ‘n fout maak, maar dan is daar dié wat nou absolute chaos veroorsaak om punte te verdien sodat hulle dalk bevorder kan word. Dit is asof hulle van selfvertroue oorloop en so irrasioneel raak en brûe oral verbrand asof daar nooit weer ‘n dag van môre gaan wees nie. Ai!

Ná 20 jaar het ons ‘n jong demokrasie, ‘n nuwe kultuur en ‘n nuwe verstaan van wat demokrasie beteken, maar ons het ook ‘n infrastruktuur wat verkrummel en wankelende (tot geen) dienste deur plaaslike regerings. Die lys van probleme en verval is baie lank, maar soos my oorlede ma gesê het: “‘n Onderhandelde demokrasie is steeds beter as ‘n burgeroorlog”. Ons moet dus ons situasie eerder met ‘n Mosambiek of Angola vergelyk in plaas van met die nuwe Suid-Afrika.

‘n Konsep wat my steeds bybly, is dit wat iemand die ander dag so terloops genoem het: Dit is tyd vir die land om aan te skuif na die ware Suid-Afrika. Die ou Suid-Afrika was nie aanvaarbaar nie, maar die nuwe Suid-Afrika is beslis ook nie aanvaarbaar nie. Dit is tyd om te begin werk aan die ware Suid-Afrika. Waar redelikheid, rasionaliteit en regverdigheid die beginsels en waardes is. Ons is moeg vir korrupsie, oneffektiwiteit en flou verskonings. Ek vermoed dat die uitslag van die verkiesing wel ‘n skuif in beleid gaan veroorsaak. Watter kant toe, weet ons nog nie.

Die hele saak oor grondhervorming sal beslis in die volgende vier jaar op die spits gedryf word. Dit was alreeds duidelik voor die verkiesingsveldtogte afgeskop het. Die oplossing van die probleem lê egter nie net voor die regering se deur nie en die tyd is verby waar ons net kan kritiseer en met geen voorstelle van ons eie vorendag kom nie. Die vrese vir voedseltekorte of hoë voedselpryse kan in die nuwe administrasie tot inmenging in die mark lei.

In die proses om na die ware Suid-Afrika te werk, sal daar nog ‘n paar dinge moet gebeur waar Graan SA privaatinisiatiewe moet loods om dinge te maak werk. Ek sien ook dat ons swart kommersiële graanprodusente ‘n groter rol in ons leierskap sal moet speel om die landbou-omgewing te verbeter.

Die finansiering van produksie op kommunale gronde is beslis ‘n reuse-uitdaging wat tussen die rolspelers uitgesorteer moet word. Tydens Graan SA se Kongres is genoem dat van ons buurlande in Afrika alreeds verder hiermee gevorder het as ons. Die nuwe Suid-Afrika is besig om agter te raak om nuwe beleggings in landbou te lok. Die risiko vir nuwe beleggings in Suid-Afrika en die risikoprofiel van die res van Afrika is aan die vernou. Dit gaan beleggers beslis beïnvloed.

Ek droom dus van ‘n ware Suid-Afrika ná die verkiesing waar voedselsekerheid so ‘n hoë prioriteit is dat grondhervorming op ‘n rasionele wyse afgehandel sal word en die landboubeleid effektief geïmplementeer sal word tot voordeel van almal in die land.

Publication: May 2014

Section: Editorial

Author: JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Search