• Login
  • Search Icon

Wat is slanggif? Moenie in dié strik trap nie!

September 2012

CORNÉ LOUW, SENIOR EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

 

Daar is al hoe meer middels op die mark wat deur hul vervaardigers en verspreiders as ‘n wondermiddel bestempel word. “As jy hierdie middel aanwend, gaan jou opbrengs met soveel persent toeneem en jy gaan nie eers nodig hê om kunsmis te gebruik nie,” is wat menigmaal aan produsente vertel word wanneer hierdie tipe middels bemark word.

Grondverbeteraars, blaarvoedings en organiese middels kan baie keer in hierdie beskrywing van “slanggif” val. Vir die onthalwe van middels wat werklik werk (en daar ís van hulle), is dit belangrik om te kan onderskei tussen “slanggif” en middels wat kan bydra tot volhoubare produksie.

Let op die volgende wanneer hierdie middels by produsente bemark word of daar oorweeg word om so ‘n middel te gebruik:

  • Maak seker die middel is onder Wet 36 van 1947 geregistreer;
  • Dring aan op statistiese en verkieslik onafhanklike plaaslike proefresultate;
  • Moet nooit so ‘n middel dadelik op groot skaal gebruik nie – maak gebruik van kleinskaalse strookproewe wat statisties geëvalueer kan word om die middel se prestasie te meet; en
  • Bepaal of dit koste-effektief is om die middel te gebruik.

Graan SA is van mening dat al hierdie tipe middels eers deur ‘n erkende plaaslike, onafhanklike instansie statisties getoets moet word vir volhoubare produksieverbetering vir ‘n ekonomiese voordeel alvorens dit geregistreer en bemark kan word.

Indien die bogenoemde nagekom word, behoort slegs die regte grondverbeteraars, blaarvoedings en organiese middels in die mark oor te bly en sal die woord “slanggif” nie meer vir hierdie tipe middels gebruik kan word nie.

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search