• Login
  • Search Icon

Wat is die waterhouvermoë van my grond?

January 2016

PIETER RADEMEYER, Pannar Saad

Al sou die beste grondvogtoestande met planttyd heers, sal suksesvolle produksie sonder die aanvulling van vog deur óf reën óf besproeiing nie moontlik wees nie.

Dikwels word gevra hoeveel water ‘n spesifieke tipe grond kan vas - hou, maar soos wat reën voorkom, vervaag die vraag en antwoord dikwels, want dan is dit irrelevant. In droër jare, soos hierdie seisoen, wat veral gepaard gegaan het met ‘n droë voorjaar, word die vraag opnuut gevra.

Om die uitdrukking beter te verstaan, kan grond aan die hand van ‘n spons gesien word. Sandgronde is meer soos ‘n spons met groot gate, wat daarop neerkom dat water baie vinnig na die dieperliggende lae toe dreineer.

Kleigrond is meer soos ‘n baie digter spons wat water kan absorbeer en vashou. Dreinering vind baie stadiger hierin plaas, maar daar moet in gedagte gehou word dat waterindringing ook baie stadiger is as die geval by die spons met die groter ruimtes.

Daarom is kleigronde meer geneig om ‘n hoër aflooptempo te hê, veral as dit met hoë intensiteit reën gepaard gaan. ‘n Ideale grond sal iewers tussen hierdie uiterstes lê.

Daar is egter baie faktore wat bepaal hoeveel water ‘n grond kan vashou. Van hulle is gronddiepte, kleipersentasie (tekstuur), katioonuitruilkapasiteit (KUK), infiltrasie- en aflooptempo, helling en kleur om maar ‘n paar te noem. Die korrelasie tussen katioonuitruilkapasiteit, klei-inhoud en waterhouvermoë is goed binne ‘n grondvorm, maar verskil tussen grondvorms.

Dikwels word op plase waargeneem dat sekere lande langer hou voor plante verwelking wys, maar op die oog af lyk dit asof die diepte en kleipersentasie van die lande dieselfde kan wees. Dit is interessant dat die waterhouvermoë van die meer swart grondsoorte met baie hoë klei-inhoude, soos die Rensburg- en Arcadiatipes, baie minder verskil ten spyte van verskille in onder andere die KUK daarvan.

Die uitdaging om hierdie bepaling akkuraat te kan doen, lê eerder by die laer kleigrondsoorte. Kleipersentasie alleen kan nie gebruik word om akkuraat die waterhouvermoë van gronde te voorspel nie, maar dit is ‘n goeie vertrekpunt.

Watertafelgronde

Watertafelgronde onderskei hulself van die res deurdat dit vir die produsent ‘n groter plantvenster gee as gevolg van die addisionele vog wat daarin voorkom as gevolg van die vermoë om vog op te gaar. ‘n Watertafelgrond het ‘n plintietkeerlaag in die ondergrond, wat dit vir water wat van bo-af infiltreer onmoontlik maak om na dieperliggende lae te dreineer. Die grond moet gesien word as ‘n spons wat in ‘n glasbak lê. Die water word gewoonlik in die grondprofiel opgegaar en sou daar ‘n profielgat gegrawe word, sal jy opmerk dat daar na ‘n paar minute vrywater in die gat vorm.

Hierdie tipe gronde word in veral die meer westelike en sanderige dele van ons land aangetref. Deur watertafelgronde korrek te bestuur, kan risiko op hierdie grond tot die minimum beperk word. Baie produsente bestuur hierdie grondvorms deur van oorlêstelsels gebruik te maak wat dan die reënvalopvangtydperk verleng met die doel om vog op te gaar. Hierdie bestuurstelsels gaan gewoonlik gepaard met stoppelbewerking, spoorverkeer of geenbewerking.

Die diepte van die bogrond sal dus die sukses van die gronde bepaal. ‘n Te vlak bogrond kan aanleiding tot versuiping gee en te diep bogrond sal weer verhoed dat wortels die natter grond kan bereik. Die kapillêre styging vanaf die watertafel is gewoonlik in die orde van 80 cm op sanderige grondsoorte.

Limiete

Wat is die waterhouvermoë van my grond? As daar na grond gekyk word, kan plante grondvog basies tussen twee limiete opneem. Die onderste limiet van die grond word velwelkpunt genoem – dit is die punt waar grondvog só laag is dat plante nie genoeg water kan opneem nie en verwelking tree dan in. Die boonste limiet word veldkapasiteit genoem. Veldkapasiteit is die punt waar ‘n spesifieke grond nie meer water kan opneem nie en afloop begin voorkom – dit kan omskryf word as die totale versadigingspunt.

Daar is plantverskille wat betref die onderste limiet van opname. Só sal sommige plante in staat wees om grondwater tot ‘n laer onderste limiet te onttrek as byvoorbeeld wat die geval by ander is. ‘n Voorbeeld is mielies en sonneblom. Sonneblom is in staat om in droogte die beste te kan oorleef, maar laat ook die grondprofiel baie droër as mielies.

Indien daar vir ‘n besproeiingsprodusent gevra word hoeveel water benodig word vir ‘n vol mielie-oes sal die antwoord tussen 650 mm tot 750 mm wees. Dit hang natuurlik af of dit in die droë, warm westelike dele is, of meer na die koeler oostelike gebiede.

Evapotranspirasie, verdamping en humiditeit sal hierin ‘n rol speel. In baie gebiede reën dit met gemak 750 mm per jaar, maar opbrengste is nie so hoog soos onder besproeiing nie.

As dit by opbrengs kom, is dit eerder die verspreiding deur die seisoen wat op die einde die deurslaggewende faktor is.

Uit Grafiek 1 kan duidelik gesien word dat die hoeveelheid water wat ‘n grondsoort kan vashou, toeneem met ‘n toename in kleiinhoud tot daar ‘n sekere maksimum bereik word – (sandkleileem wat 20% - 35% klei is). Die plantopneembare water neem ook toe met ‘n toename in klei-inhoud, maar soos wat dit na die hoë klei-inhoud van meer as 35% beweeg, begin die hoeveelheid water wat ‘n plant kan onttrek stelselmatig minder word.

Wat is die waterhouvermoë van my grond?

Dit word toegeskryf aan die klei wat die water so vashou dat die plantwortel die watermolekules nie van die kleideeltjies kan “aftrek” nie. Hieruit kan dus duidelik gesien word dat gronde met klei-inhoude van 20% - 35% die mees optimale is wat betref waterhouvermoë (uitgesluit watertafelgronde).

By die optimale punt is die plantopneembare water in die orde van 120 mm/m. Dit is ‘n risiko om veral in die meer westelike gebiede met limiete wat neig na die onderste limiete gewasverbouing te doen. Opgeboude grondvog sal die bepaler van sukses wees.

Daar moet ten alle tye daarna gestreef word om waterindringing (infiltrasie) die beste kans te gee. Die faktor wat die meeste invloed hier sal uitoefen, sal dus die toestand van die grondoppervlakte wees. Sekere kleigronde beskik oor sweleienskappe wat aanleiding gee dat die gronde se porositeit só beïnvloed word, dat waterinfiltrasie belemmer word.

Gronde wat losgemaak is, of wat ‘n organiese bedekking het, sal uiteraard meer water kan opneem as wat die geval met ‘n harde of kompakte oppervlakte sou wees.

Bestuurswenke

Opgeboude grondvog met aanvang van die plantseisoen is die bepaler van sukses.

Dit sal raadsaam wees om te bepaal hoeveel vog in die grond voorkom – veral net voor planttyd. Daar moet voldoende vog in die grond wees om in die plant se behoefte in die nabye toekoms te kan voorsien. Daarom moet alle praktyke van só ‘n aard wees dat dit grondvog sal opbou.

Hou in gedagte dat as die betrokke land nie braak was nie, daar beslis met ‘n droër grondprofiel begin gaan word weens die droër voorafgaande jaar. Die westelike dele van die land is meer geneig tot langer droogtetydperke as die oostelike streke.

Wat is die waterhouvermoë van my grond?Ontkieming het ‘n bepaalde hoeveelheid vog nodig om te kan plaasvind. Meestal sal sade by 25% van veldkapasiteit maklik ontkiem. Sandgronde het die vermoë om vinniger in die bogrond uit te droog en daarom moet daar deeglik besin word voordat geplant word.

Hitte met gepaardgaande winde kan die bo-grondvog vinnig uitput. Gronde met hoër klei-inhoude hou vog beter vas en stik van sade kom minder daarop voor as die geval van sandgronde.

Probeer sover moontlik om lande vry van onkruide en opslag te hou. ‘n Groen skynsel op die land kan van 5 mm - 7 mm vog per dag uit die profiel laat verdwyn. Indien bewerk word, doen dit baie vlak om so min as moontlik vog te verloor.

Grond waarvan die bogrond los is, keer dat kapillêre verliese voorkom. Dit staan bekend as ‘n grondkombers. ‘n Chemiese bespuiting om onkruid of opslag te beheer, kan oorweeg word – veral waar stoppel op die bogrond behou wil word. Stoppel of ‘n deklaag bewaar vog en moet liefs nie versteur word nie.

Ken die gewas wat geplant gaan word se piekperiode vir vogopname – rondom blomstadium. Waar moontlik kan plantdatums só gekies word dat blomdatums saamval met die hoogste waarskynlikheid van reën. Dit kan uit die geskiedenis van noukeurige reënvalaantekeninge verkry word.

Alle grondbewerkingspraktyke moet daarop gemik wees om vog op te gaar. Hou skoffelbewerkings vlak. Seël die lande nadat daar op die rye ‘n diepbewerking gedoen is – byvoorbeeld na ‘n klipbewerking.

Benader die seisoen eerder aan die konserwatiewe kant. Aanpassing kan gemaak word aan die plantestand, bemesting en bewerkings. Raadpleeg kundiges in so ‘n geval.

Publication: January 2016

Section: On farm level

Search