• Login
  • Search Icon

Wat is die status quo met koolstofbelasting?

November 2016

HEINZ MEISSNER, adviseur vir die veebedryf

Dit is die verantwoordelikheid van die Departement van Omgewingsake (DvO) om die land se kweekhuisgasvry stelling op ‘n gereelde grondslag te rapporteer. Die rapportering is aan die United Nations Framework Convention on Climate Change (UNFCCC) en dit geskied volgens gestandaardiseerde voorskrifte vir alle lande wat deur die Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC) ontwikkel is.

Die gereelde rapportering het ten doel om lande se pogings tot verminderde uitset te monitor en hiervoor is doelwitte en teikens gestel. Die teikens waartoe Suid-Afrika verbind is – soos vermeld in die Nasionale Ontwikkelingsplan – is 34% vermindering teen 2020 en 42% teen 2025 – voorwaar ‘n gedugte, indien nie ‘n onbereikbare teiken nie, gegewe die kort tydperk!

Nietemin het alle sektore, insluitende landbou, ‘n verantwoordelikheid om praktyke in werking te stel om kweekhuisgasse te verminder. Só ook is die regering doelgerig in die poging om teikens te bereik deur afdwingbare maatreëls soos koolstofbelasting in te stel. Regulasies wat verband hou met die verpligtinge word in Kennisgewing 336 van 2016 van die Nasionale Omgewingsbestuur: Lugkwaliteit Wet (Wet Nr. 39 van 2004) beskryf.

‘n Vermindering veronderstel natuurlik dat daar ‘n vertrekpunt of basislyn moet wees. Vir die Landbou-, Bosbou- en ander Landgebruik sektor (die Departement van Omgewingsake voeg landbou saam by hierdie sektore in Engels, naamlik Agriculture, Forestry and Other Land Use [AFOLU]) is die vertrekpunt die 2010-inventaris.

Die vertrekpuntwaarde is 50 568 Gg CO2 gigagram koolsuurgasekwivalent (ekw) as landbou alleen beskou word en 30 949 Gg CO2 ekw as die totale AFOLU-sektor geneem word. Die rede vir die laer waarde van laasgemelde is dat koolstof tot ‘n sekere mate in bosbouplantasies en ander afdelings geberg word en derhalwe nie in die atmosfeer vrygestel word nie. As dit nou as persentasie van Suid-Afrika se totale kweekhuisgasvrystelling van 544 314 Gg CO2 (2010-syfer) uitgedruk word, dan is landbou alleen se bydrae ongeveer 9% en AFOLU s’n 5,5%.

Koolstofbelasting

‘n Koolstofbelastingstelsel sal reeds op 1 Januarie 2017 deur Nasionale Tesourie in werking gestel word en heelwat aandag is deur Besigheid SA en die regering in die afgelope twee jaar daaraan gewy om ‘n uitvoerbare stelsel daar te stel.

AFOLU is tot 2020 daarvan vrygestel omdat dit nie so maklik is om ‘n uitvoerbare en regverdige stelsel te ontwikkel nie. Van die redes daarvoor, in teenstelling met ander sektore byvoorbeeld energie, mynbou en vervoer, is dat in die AFOLU-sektor nie net kweekhuisgasse vrygestel word nie, maar daar word ook geberg, of in ander vorms soos metaan gebruik – en seker die belangrikste rede is dat voedselvoorsiening vir ‘n groeiende bevolking gaan styg, wat dit in geheel moeilik gaan maak om kweekhuisgasvrystelling te verminder.

‘n Verdere rede is die betroubaarheid van beramings. Byvoorbeeld, omdat die veebedryf se kweekhuisgasvrystelling omtrent 60% van die landbousektor se bydrae beloop en dit grootliks van metaanproduksie deur rumenfermentasie afkomstig is, is akkurate veegetalle belangrik.

Beskikbare statistiek is nie akkuraat nie – in sowel die kommersiële- as die kommunale afdelings, terwyl die getalle wild waarmee geboer word, bykans ‘n duimsuigsyfer is. Dit is derhalwe duidelik dat die fouthoudendheid van die berekening vir landbou 20% of meer kan beloop.

Is koolstofbelasting vir die AFOLU-sektor geregverdig?

Ek dink nie so nie. Ofskoon die voorgestelde belastings waarskynlik in omvang nie so groot is nie, is ‘n regverdigbare stelsel myns insiens nie haalbaar nie.
Van die redes is soos volg:

  • Die bydrae van AFOLU tot Suid-Afrika se totale kweekhuisgas vrystelling is klein. As daarin geslaag word om ‘n 40%-vermindering te bewerkstellig, dan is die invloed op die totaal maar sowat twee persentasie-eenhede, wat niksseggend is en voorts minder is as die fout wat gemaak word in die totale berekenings.
  • Landbou is ‘n strategiese sektor uit verskillende oogpunte: Voedselvoorsiening, buitelandse valuta, bydrae tot bruto binnelandse produk (BBP), sosio-ekonomiese ontwikkeling en selfs toerisme – as die wildbedryf bygereken word.
  • In die berekeninge van die basislynberamings van die Departement van Omgewingsake is ‘n poging aangewend om dit uit te brei na 2050 toe deur voorsiening te maak vir die verwagte toename in voedselbehoeftes, maar dié basislynwaardes is steeds onderhewig aan dieselfde fouthoudendheid as tans. Om dit te oorkom sal ‘n volledige landtelling van alle diere gedoen moet word waarvandaan nuwe, meer betroubare voorspellingsmodelle ontwikkel kan word. Dit sal satelliet- en ander lugfototegnologie saam met groot grondspanne benodig met kostes wat in die miljoene sal beloop. Wie gaan daarvoor betaal?
  • Landbouproduksie is onderhewig aan groot jaarlikse en langer termynskommelinge as gevolg van droogtes en vloede. Wat is die betroubaarheid van die gereelde koolsuurgas verminderingspoging met so ‘n variërende situasie? Verder, op watter basis word die belasting dan bereken? Individue aan die ontvangkant sou heeltemal geregverdig dit in die hof kan beveg – met al die kostes wat daarmee gepaard gaan.
  • Hoe gaan vermindering op plase gemonitor word? Alhoewel daar ook ander wyses is, sal verteenwoordigende loodsprojekte in alle landboustreke gevestig moet word, want monitering sal telkens by dieselfde projek gedoen moet word om vermindering te meet. Is dit moontlik en wie gaan daarvoor betaal?

Slotopmerkings

Belasting is nie regverdigbaar soos hierbo geredeneer nie; trouens dit kan kontraproduktief wees.

Bedrywe het nietemin ‘n verantwoordelikheid om hul produsente te adviseer en by te staan om plase se kweekhuisgasse te verminder. Daar is verskeie welbekende metodes en wyses soos minimum grondbewerking en groter doeltreffendheid (in hierdie verband minder kweekhuisgasvrystelling per eenheid produk) wat doelgerig deur bedryfsleiers en kundiges aan ons produsente in opleiding voorgehou kan word.

Publication: November 2016

Section: Focus on

Search