• Login
  • Search Icon

Wat is die rede vir die ongelooflike koringseisoen wat ons in 2011 beleef het?

May 2012

ANDRÉ PRINS, BESTUURDER: NAVORSING EN TEGNIESE DIENSTE, GWK

image

In die GWK-gebied (Noord-Kaap en Suid-Vrystaat se besproeiingsareas) was die opbrengs ten opsigte van koring abnormaal hoog met uitstekende graderings gedurende die 2011-winterseisoen.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat hierdie rekordoeste oor so ‘n wye gebied voorgekom het. Produsente wat gewoonlik gemiddeld tussen 7 ton/ha en 8 ton/ha koring stroop, het verlede jaar tussen 9 ton/ha en 10 ton/ha gestroop.

Daar is enkele gevalle waar opbrengs van oor die 11 ton gemiddeld oor groot oppervlaktes verkry is. Indien na stroperdata gekyk word, was daar areas wat meer as 12 ton/ha gerealiseer het. Laasgenoemde wys ons wat die opbrengspotensiaal van koring in die GWK-gebied is indien alle faktore ten opsigte van opbrengs gunstig is.

Die vraag ontstaan dus, hoekom was die oes soveel beter? Dis eintlik ‘n maklike antwoord: Die klimaat was reg! Die verdere vraag is egter: Wat van die klimaat was reg?

Data van die afgelope seisoen is teenoor die langtermyn klimaatsdata ontleed om te sien watter verskille voorgekom het en wat ons uit die inligting kan leer. As die data wat beskikbaar is alles saamgegooi word, bevind ‘n mens jou gou in ‘n spinnerak van vrae en kan ons slegs spekuleer. Uit hierdie data is daar egter ligpunte wat na vore kom.

Evaluering van die klimaat op Vaalharts

GWK Navorsing en Ontwikkeling ondersteun ons kliënte reeds die afgelope ses jaar met Hoë Tegnologie Boerdery. Een van die opsies binne die projek is die meet van temperatuur gedurende die seisoen. Die data kan gebruik word om te kyk na tye van moontlike koueskade. By temperature van bo 35oC word graanvulling gestrem en kan dit ‘n negatiewe effek op opbrengs toon.

Grafiek 1 toon die temperatuurdata van ‘n spesifieke land in die Vaalharts-gebied. Uit die grafiek kan duidelik gesien word dat die hitte-eenhede (soos bereken volgens Bauer et al., 1984) tussen die twee seisoene verskil.

image

Bauer het bewys dat verskillende groeistadiums vanaf die hitte-eenhede bereken kan word. Vanuit die grafiek word gesien dat die hitte-eenhede in 2011 stadiger as in 2010 geakkumuleer het. Die verskil in hitte-eenhede het tot gevolg dat die koring stadiger ontwikkel.

Volgens die “bron-stoor”-beginsel gee groter plante, aanleiding tot ‘n potensiële hoër opbrengs. Die grafiek toon duidelik die ongeveer 14 dae wat die oes verlede jaar later ryp geword het as in 2010. Kleingrane het dus ‘n langer graanvul-periode gehad en ‘n beter oes is gerealiseer.

Hoe lyk temperatuur in 2011 teenoor die langtermyngemiddeld?

Opbrengsdata van die GWK-silo’s toon dat Prieska vanjaar die hoogste gemiddelde van 9,2 ton/ha gehad het (Grafiek 2). Die langtermyntemperature vir die Prieska-gebied is ondersoek om na verskillende tendense te kyk.

image

Die langtermyn gemiddelde temperatuur vir die Prieska-gebied toon ‘n laer temperatuur tydens die aanvang van die seisoen. Die laer temperatuur kan aanleiding gee tot beter stoelvermoë en dus meer halms per plant.

Gedurende die groeiperiode van Augustus en September was die temperature vergelykbaar, maar aan die einde van die seisoen was die 2011-seisoen gemiddeld 3oC koeler as die langtermyngemiddeld. Die koeler weer kan aanleiding gee tot ‘n meer gematigde rypword van die koring.

Volgens Sofield et al. (1977) word die lengte van die graanvulperiode bepaal deur temperatuur en is die periode korter by warmer temperature. Koring wat meer gematig ryp word, gee aanleiding tot ‘n hoër hektolitermassa. ‘n Toename van 11 kg per hektoliter (vanaf 77 na 88, wat vanjaar gevind is) kan by ‘n opbrengs van 7 ton/ha ‘n addisionele 1 ton/ha beteken.

Watter rol speel bestuur in beter opbrengs

Langtermynopbrengsdata is skaars. Langtermyndata wat beskikbaar is, is die data uit die GWK-saadafdeling se kultivarproewe. Gemiddeld elf proewe word jaarliks oor die hele GWK-gebied aangeplant. Vanuit dié data kan gekyk word na die effek van bestuur en watter impak kultivars op opbrengs het. Hoewel seisoene verskil, toon Grafiek 3 ‘n positiewe tendens by die opbrengs van SST 822.

image

Aangesien SST 822 van die meer gevestigde kultivars is, kan die tendens aan beter bestuur toegeskryf word. Aanpassings om produksiepraktyke te verbeter kan slegs plaasvind indien daar voortdurend agronomiese ontwikkeling plaasvind.

GWK Navorsing en Ontwikkeling doen relevante navorsing om produksiepraktyke te verbeter deur voortdurend na vraagstukke van die dag te kyk. Só het Hoë Tegnologie Boerdery groot kopskuiwe laat plaasvind ten opsigte grondvrugbaarheid, bemesting, bewerkingspraktyke, waterskedulering en totale bestuurspraktyke.

Die aanpassing in bestuurspraktyke kan in die kwaliteit van die afgelope seisoen se koring waargeneem word. Grafiek 4 toon die proteïeninhoud van koring vanaf 2008 tot 2011.

Dit is ‘n bekende feit dat die proteïen-inhoud van kleingrane afneem met die toename in opbrengs. Die data toon dat deur landboukundige diens en hulpmiddels, soos blaarontledings, kwaliteit bestuur kan word.

image

Nog baie vrae

Die beter opbrengs van 2011 kan aan nog verskeie fasette van klimaat, soos koeler temperature (tydens kritiese groeifases), beter loging van soute (weens die nat seisoen) en min reën (lae siektedruk) tydens die oesproses toegeskryf word.

Ons besef net weer eens dat alle vrae ten opsigte van verwantskappe tussen plantfisiologie en klimaat nog nie beantwoord is nie. ‘n Opbrengs van 10 ton is nie elke jaar moontlik nie, maar deur die mees optimale bestuurspraktyke na te vors en te promoveer, kan ons uitskieterjare ten volle benut. Die klimaat sal self sorg vir die goeie opbrengs soos in 2011 en kan ons net dankie sê as ons deel van só ‘n fenomeen kan wees.

Bronnelys

Bauer, A., Fanning, C., Enz, J.W. and Eberlein, C.V. 1984. Use of growing-degree days to determine spring wheat growth stages. North Dakota Coop. Ext. Ser. EB-37. Fargo, ND.
Sofield, I., Wardlaw, I.F., Evans, L.T. and Lee, S.Y. 1977. Nitrogen, phosphorus and water contents during grain development and maturation in wheat. Austr. J. Plant Physiol., 4: 799 - 810.

Publication: May 2012

Section: Input Overview

Search