• Login
  • Search Icon

Wat is die nuwe soort normaal?

October 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek sit en tob oor waaroor ek dié maand moet skryf. Daar is ‘n varsheid in die lug en ten spyte van al die slegte voorspellings vir die seisoen, het ons sommer vroeg reën gekry in die noorde. Die Suid-Kaap is sopnat en die Swartland trek swaar. ‘n Mens kan maar net wonder wanneer alles net weer normaal gaan wees...

Wat is die nuwe soort normaal? Die oorloë neem toe en die vlugtelinge soek wêreldwyd desperaat na nuwe tuistes. Nie almal is oral ewe welkom nie. Suid-Afrika is nog besig om oor kwotas in ons sportspanne te praat toe kondig die Europese Unie aan dat daar nou vir elke land ‘n vlugtelingkwota gaan wees. Nogal gewonder hoe ‘n kwota-tipe mens in sy hart daaroor voel, want die besluitnemers daarvan lyk soms min gesteur.

Hier is ‘n swaar stuk “wag” in die lug. In die land voel dit so asof iets moet gebeur. Die rand bly val, markte is onstuimig, die Rugby Wêreldbeker moet begin...Of dalk wag ons dat die krag weer moet afgaan?

Op landbouterrein is die grondonderhandelings effe stiller. Agri SA is besig om voor te berei vir hulle kongres dié maand, die noorde wag vir die plantseisoen om aan te breek en die suide se oes is broos in die aar. Ons wag selfs vir ‘n nuwe koringtarief om afgekondig te word. Baie van ons opkomende boere wag vir hulp en grond om hulle droom uit te leef op die plaas.

In my hoërskooljare was daar ‘n boekie Opstelle wat sprankel wat ek moes lees om te sien hoe ‘n opstel nou eintlik geskryf behoort te word. Een so ‘n opstel het my geïnspireer om eendag self ‘n netjiese stukkie werk te skryf oor die hele plaas wat tydens oestyd (koring) in rep en roer was oor ‘n haelbui wat gaan uitsak. Daardie wag is nie lekker nie.

Waarvoor sal ons as graanprodusente wag? Ja, ons wag vir mooi reën en laer dieselpryse, maar ek dink as ek vandag eerlik met myself moet wees, wag ons dat die land se gesindheid teenoor landbou moet verander! Dat daar meer waardering kom vir die werk wat ons doen om almal in die land en selfs ‘n paar ander lande se mense daagliks te voed. Dat ons van vroeg tot laat met hoë risiko’s plant, spuit, skoffel, oes en aanry dat almal iets kan hê om te eet. Dat ons jaar na jaar amper alles wat ons het verpand om ‘n oes vir almal te kan maak.

Ek dink nie ons soek simpatie nie, ons het immers gekies om te boer, maar sommer net ‘n stukkie meelewing as die son dag vir dag die plante doodbrand en die wolke kom en gaan, maar dit reën nie. Sommer net begrip vir ons emosies as ‘n lammetjie dit nie gemaak het nie omdat die ooi hom weggegooi het.

Waar is die waardering soms vir daardie boervrou wat vir die soveelste keer een van die werkers se kinders aanry na die dorp se hospitaal toe omdat sy siek is? Daar is maar min begrip vir die gesprekke voor in die bakkie Maandagmôre op pad koshuis toe. Dalk sal al die swaar makliker wees om te hanteer as ‘n mens net weet dat jy as mens en dit wat jy doen, waardeer word.

Ek weet nie of ek die magtiging het nie, maar vandag wil ek namens die mense van ons land ons graanprodusente, hulle gesinne en werkers salueer vir die taak wat hulle verrig. Baie dankie.

Laastens ook ‘n woord van dank aan die Mielietrust wat sedert 2000 tot verlede maand die SA Graan/Grain-tydskrif gesubsidieer het. Dit het baie gehelp om al die graannuus by almal in die land uit te kry. Hoop ons paaie sal vorentoe weer kruis.

Publication: October 2015

Section: Features

Search