• Login
  • Search Icon

Wat is die beheermaatreëls vir aflatoksiene in grondbone?

April 2014

BELINDA JANSE VAN RENSBURG, LNR-Instituut vir Graangewasse

Aspergillus flavus en A. parasiticus is twee ekonomies belangrike swamme wat in Suid-Afrika voorkom en kan ‘n mikotoksien, genaamd aflatoksien, in grondbone produseer.

A. flavus produseer aflatoksien B1 en B2, terwyl A. parasiticus aflatoksien B1, B2, G1, en G2 kan produseer.

Aflatoksien word geproduseer wanneer grondbone voor-oestyd met A. flavus of A. parasiticus besmet word asook na-oes tydens onvoldoende berging. Ongunstige omgewingstoestande, soos byvoorbeeld temperatuurskommelinge, droogte, reën, relatiewe humiditeit en insekskade verhoog die potensiaal vir aflatoksienbesmetting van grondbone in die land.

Tydens die oes- en bergingsproses kan skade aan grondboondoppe, swak lugsirkulasie, insekinfestasies en swak sanitasie aflatoksienproduksie bevorder. Suid-Afrikaanse wetgewing bepaal dat die maksimum toelaatbare vlak van aflatoksien B1 in grondbone en grondboonprodukte, vyf dele per miljard vir menslike gebruik kan bevat.

Die rede vir die streng wetgewing is die negatiewe effekte wat aflatoksien op mens en dier uitoefen en om te verhoed dat dit in kos en voer beland. Navorsing het bewys dat aflatoksien immuniteit onderdruk, karsinogenies (veroorsaak veral lewerkanker) kan wees en selfs DNA op sellulêre vlak kan verander.

Simptome

Geel (Foto 1) tot olyfgroen swamgroei ontwikkel op die sade (Foto 2) en kan selfs die saad heeltemal oorgroei
(Foto 3). Somtyds is swamgroei slegs tussen die saadlobbe sigbaar (Foto 4) en kan nie op heel sade waargeneem word nie. Beskadiging van peule deur insekte en meganiese skade bied ook ‘n ingangspunt vir Aspergillus spp. besmetting.

image

Beheermaatreëls – voor-oes

  • Ontleed grond om sodoende optimale bemesting te verseker sodat plantgesondheid en dus weerstand bevorder kan word.
  • Pas wisselbou toe om die Aspergillus spp. inokulum in die grond te verminder.
  • Ligter, sanderige grond is gunstiger vir Aspergillus spp. ontwikkeling, veral onder droë toestande.
  • Swaarder grond met ‘n beter waterhouvermoë is minder geneig om te lei tot droogtestres (wat bydra tot die gevaar van aflatoksienbesmetting). Besproeiing kan droogtestres beperk.
  • Selekteer kultivars wat plaaslik aangepas is en doen navraag rondom moontlike weerstandbiedendheid.
  • Optimale aanbevole plantspasiëring tussen rye is belangrik omdat digte populasies kan lei tot droogtestres wat voordelig is vir aflatoksienproduksie.
  • Beheer onkruid wat meeding vir vog in die grond.
  • Beheer insekte wat swamspore na die grondboonpeule en –pitte kan versprei.

Beheermaatreëls – na-oes

  • Optimaliseer oestyd aangesien grondboonplante wat te laat geoes word, of grondbone wat onderontwikkel is, kan lei tot ‘n groter voorkoms van aflatoksienbesmetting.
  • Oes hoë-risiko plante (wat besmet is met peste, patogene of beskadig is) apart van laer risiko plante.
  • Beperk beskadiging van die peule en sade tydens oes, berging en verspreiding aangesien dit tot verhoogde Aspergillus spp. infeksie kan lei.
  • Die droogproses moet so vinnig as moontlik afgehandel word en sade geberg word met die minimum vreemde materiaal, insekte en swamme.
  • Probeer ekstra vog bekamp wat kan lei tot aflatoksienontwikkeling.

Kyk gerus uit vir die Grondboonproduksiehandleiding wat tans deur die LNR-Instituut vir Graangewasse opgedateer word. Inligting rakende grondboonsiektes sal ook in die handleiding bespreek word. Vir verdere inligting rakende mikotoksiene of grondboonsiektes, kontak gerus vir dr Belinda Janse van Rensburg of me Alana Pretorius by 018 299 6100. Me Loureine Salomon is beskikbaar vir navrae rondom grondboonproduksiekwessies.

Publication: April 2014

Section: Input Overview

Search