• Login
  • Search Icon

Wat is aan die gebeur by Graan SA se streekskantore?

May 2014

DIANA RABIE, vir Graan SA

image

Graan SA het tien streekskantore landswyd om die graanprodusente in daardie streke te bedien, met spesifieke fokus op die ontwikkelende graanprodusente. Hierdie kantore is in die volgende dorpe geleë: Paarl, Kokstad, Mthatha, Louwsburg, Bloemfontein, Ladybrand, Mbombela (Nelspruit), Belfast, Lichtenburg en een in Maclear wat in Februarie 2014 geopen is.

Daar is verskeie redes waarom Graan SA die ontwikkelende landbousektor bedien. Ons probeer onder meer om die landbousektor te verenig deur middel van die landbou-ontwikkelingsprogram wat vanuit die streekskantore bedryf word. Hierdie sektor was jare lank op grond van ras verdeeld en ons streef daarna om alle graanprodusente met een stem te laat praat in die beste belang van die bedryf.

Ons werk ook hard daaraan om Suid-Afrikaners bewus te maak van die belangrike rol wat landbou in ons land speel en die werksgeleenthede wat daarin bestaan. Ons probeer soveel moontlik mense met die nodige vaardighede toerus sodat hulle ‘n daadwerklike bydrae kan lewer.

Dit is van uiterste belang dat Suid-Afrika voedselsoewereiniteit moet hê sodat ons die mense van ons land kan voed sonder om buitelandse valuta te gebruik. Die buitelandse valuta moet verkieslik gespaar word vir daardie produkte wat nie plaaslik geproduseer kan word nie. Ons het ook ‘n verpligting om te verseker dat ons land se mense voedselsekerheid het – op huishoudelike sowel as nasionale vlak.

Daar is ‘n groot tekort aan werksgeleenthede in die landelike gebiede en Graan SA is van mening dat die landbousektor ‘n gewigtige rol hierin kan speel. Ons moet uiteindelik probeer om elke moontlike stukkie bewerkbare grond in produksie te kry, want dit is die manier om uiteindelik al die bogenoemde doelwitte te bereik.

Graan SA is baie bevoorreg om tot hierdie doelwitte te kan bydra. Dit word moontlik gemaak deur die vrygewige en deurlopende bydraes wat ons van die Mielietrust, die Wintergraantrust, die AgriSETA, die Landbounavorsingsraad (LNR), die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust en die Sorghumtrust ontvang. Sonder hulle sal hierdie program nie kan bestaan nie. Oor die afgelope nege jaar het hulle R140 miljoen in Graan SA se Ontwikkelende Landbouprogram belê.

Om die uitkomste te kan bereik waarvoor ons mik, probeer ons aandag skenk aan alle aspekte wat op die gebruik van bewerkbare grond en die ontwikkeling van produsente betrekking het.

Ten einde produsente te bemagtig, werk Graan SA op verskillende vlakke met hulle saam, insluitend studiegroepe, tydens boeredae, deur die Ontwikkelende Graan produsent van die Jaar-toekenning en deur middel van ondersteuning en mentorskap op plase aan individuele produsente. Ons verskaf ook verskillende tipes opleidingskursusse en publiseer ons nuusbrief, Pula Imvula, in sewe verskillende tale.

Die afgelope twee jaar was ons betrokke by die herkapitaliseringsprogramme van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en die afgelope jaar ook by dié van die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in die Noordwes Provinsie. Graan SA se streekskantore bied ook ‘n skoleprogram aan om kinders bewus te maak van die waarde van landbou as ‘n bron van voedsel en vesel, as ‘n belangrike rolspeler in die ekonomie, as ‘n werkgewer en as ‘n loopbaankeuse.

Kontak gerus die personeellede van die streekskantore met enige navrae.

image

image

Publication: May 2014

Section: Other Articles

Author: DIANA RABIE, vir Graan SA

Search