• Login
  • Search Icon

Waarna kyk finansierders as dit kom by graanfinansiering?

May 2013

ROUX WILDENBOER, LENINGSHOOF: LANDBOU, ABSA EN PIETER DU PLESSIS, KREDIETKONSULTANT, ABSA

Die 2013-somerproduksiejaar blyk voorwaar uitdagend te wees vir vele produsente. Daar is die afgelope tyd gereeld berig oor die knellende droogte en dreigende (asook werklike) misoeste in sommige streke.

By baie produsente is daar die bekommernis oor finansierders se benadering in gevalle waar misoeste plaasvind of drastiese laer opbrengste ondervind word.

Uit die staanspoor moet dit duidelik gestel word dat elke produsent se situasie uniek kan wees en dat omstandighede baie kan verskil tussen streke, gewasse en verbouingsmetodes. Die artikel poog dus nie om spesifieke finansieringsverhoudings of voorwaardes te bespreek nie, maar om algemene beginsels waarna finansierders kyk, te illustreer.

Hopelik sal dit produsente groter begrip ten opsigte van die denkwyse van finansierders gee en behulpsaam wees in die motivering van finansierings aansoeke.

Algemene finansieringsoorwegings

Daar is verskeie faktore wat finansierders in ag neem wanneer oor finansiering besluit word. Hierdie faktore word in die besluitneming saamgevoeg om ‘n geheelbeeld van die risiko van ‘n leningsbesluit te vorm. Die belangrikste hiervan is die volgende:

Diensbaarheid
Hierdie faktor behels die vermoë van ‘n boerdery om terugbetalings op skuld en rente te doen. Uiteindelik word die hoeveelheid skuld wat ‘n boerdery kan diens, bepaal deur die winsgewendheid en die kontant wat deur die boerdery gegenereer word. ‘n 800 ha droëlandmielieplaas sal byvoorbeeld sukkel om genoeg wins te genereer om ‘n R20 miljoen skuldlas te dra en lewensvatbaar te investeer in tegnologie.

Aangesien landbou volatiel is met betrekking tot prys en opbrengs, is die langtermyntendens hier belangrik. Dit is kritiek belangrik dat ‘n boerdery in die lang termyn kan bewys dat genoeg wins en kontant gegenereer word om sekere skuldvlakke te diens. Finansierders aanvaar dat daar jare sal wees waar winsgewendheid nie bestaan nie en dan moet daar ‘n siening oor die langtermynprestasie van ‘n boerdery gevorm word.

Realistiese besigheidsplanne en begrotings wat alle faktore en koste in ag neem, speel hier ‘n belangrike rol.

Bestuursvermoë
Weer eens is die langtermyntendens hier belangrik. Daar is gewoonlik boerderye wat selfs in moeilike jare suksesvol is. Hierdie is ‘n resultaat van die produsent se vermoë om besigheidsproduksie en die verskeie markrisiko’s te bestuur. Finansierders is meer geneë om kliënte te finansier wat oor ‘n goeie geskiedenis van risikobestuur beskik. Hierdie vermoë word uiteindelik in die finansiële resultate weerspieël.

Sekuriteit
As algemene beginsel is finansierders verplig om sekuriteit te neem om lenings te verseker. Die rede hiervoor is dat kommersiële banke deposante se geld uitleen en beperk is tot die hoeveelheid risiko wat hulle met hierdie geld kan neem. Sekuriteit moet egter nooit as uitsluitlike motivering vir finansiering dien nie en moet saam met die ander faktore in ag geneem word. Finansierders wil nie produsente finansier net om later sekuriteit te realiseer nie.

In die landbou is een van die moderne tendense dat grondwaardes en dan ook sekuriteitswaardes, oor die afgelope jare bó die diensbaarheidsvermoë van ‘n boerdery kon groei.

Dit beteken dat ‘n finansierder wat ‘n besluit slegs op sekuriteit baseer, inderwaarheid ‘n boerdery bó sy diensbaarheidsvermoë kan finansier.

In hierdie gevalle is die latere verkoop van bates of gedwonge realisering van bates, amper ‘n voldonge feit.

Bestuur van besigheidsrisiko’s
Die suksesvolle produsent moet vandag inderdaad ‘n slim ondernemer wees. Benewens die tegniese aspekte van boerdery, is daar ‘n reeks besigheidsrisiko’s en aspekte wat bestuur moet word.

Hieronder tel die volgende:

  • Bestuur van markrisiko’s deur ‘n verskansingstrategie. ‘n Gesonde finansiële en skuldstrategie. Suksesvolle ondernemings poog om gesonde skuldvlakke te handhaaf, wins te herbelê en reserwes op te bou vir onvoorsiene toestande (soos droogtes).
  • Diversifisering van boerdery-aktiwiteite ten opsigte van geografie en bedryfsvertakkings. Hier is teensikliese aktiwiteite, soos graan en veeteelt, binne ‘n boerdery van groot waarde asook integrasie in die waardeketting.
  • Produksierisiko’s kan beheer word deur versekering en gepaste boerderytegnieke.

Skuldsamestelling
Dit is baie belangrik dat die skuld wat aangegaan word, in pas is met die lewensduur van die bates wat gefinansier word. Daar word hoofsaaklik onderskei tussen korttermynfinansiering vir produksiemiddele en langtermynfinansiering vir bates, soos toerusting, voertuie en grond.

Wanneer langtermynbates met korttermynskuld gefinansier word, word probleme met likiditeit gewoonlik mettertyd ervaar. So ook kan langtermynfinansiering nie onbepaald aangewend word om byvoorbeeld herhalende korttermyn-uitgawes te finansier nie.

Produksievermoë van die boerdery
Finansierders let baie nou op die langtermynproduksievermoë van ‘n boerdery. Hierdie het ‘n direkte invloed op die hoeveelheid risiko wat met finansiering geneem word. Besproeiingsplase het byvoorbeeld inherent minder volatiele produksiesyfers as droëlandplase, wat beteken dat groter gewig aan produksieverwagtinge geheg kan word. So ook is daar sekere gewasse en boerderystreke wat aan minder produksierisiko’s blootgestel is.

Dit is dus logies dat finansierders meer geneig sal wees om hoër risiko te aanvaar by boerderye wat hul produksievermoë verbeter en produksie-onsekerheid verminder.

Skaalvoordele
As gevolg van die koste-knyptang (koste wat vinniger as inkomste styg) is een van die kritieke faktore binne ‘n suksesvolle boerdery die mate waarop produktiwiteit verbeter word. Finansierders is deeglik bewus van hierdie faktor.

Van die ooglopendste maniere om skaalvoordele te bekom, is om die omvang van die boerdery te vergroot om eenheidskoste te verlaag en biologiese en meganiese tegnologie in te span. ‘n Boerdery wat kan bewys dat langtermynproduktiwiteit verbeter, is ‘n aantreklike finansieringsproposisie.

Finansiering in omstandighede waar sekuriteit te kort skiet
Daar kan verskeie redes wees waarom ‘n boerdery ‘n gebrek aan sekuriteit kan ondervind om finansiering te bekom. Gewoonlik ontstaan hierdie gevalle waar ‘n boerdery se balansstaat nie die verlangde finansiering kan ondersteun nie.

Alhoewel die grootste klem in die finansieringsbesluit nie noodwendig op sekuriteit moet val nie, moet finansierders so ver as moontlik ongesekureerde posisies beperk. Die meeste banke het produkte ontwikkel om hiermee behulpsaam te wees. Hier gaan daar eerder op die belangrikste beginsels gekonsentreer word, as op spesifieke produkte se eienskappe. Die sentrale idee is dat finansierders die oes wat gefinansier word as gerusstelling en bron van terugbetaling moet kan beskou. Dit behels ook dat eienaarskap van die oes moeiteloos aan die finansierder moet kan oorgaan om die skuld af te los.

Dit moet egter deeglik verstaan word dat geen produk of benadering bestaan wat risiko totaal vir die finansierder (en produsent) verwyder nie. Die vraag is dus watter faktore word in ag geneem in hierdie omstandighede?

Bestuur van prys en produksierisiko
Die finansierder moet seker wees dat die oes wel gaan realiseer teen die prys wat nodig is om die finansiering terug te betaal. Om hierdie risiko’s te bekamp is prysverskansing deur middel van opsies en pryskontrakte asook oesversekering noodsaaklik. In die geval waar graanpryse dus byvoorbeeld daal, of natuurverskynsels die oesopbrengs belemmer, kan prysverskansing en versekering die produsent en finansierder skadeloos stel. Daar is natuurlik koste tot hierdie produkte en die koste moet deeglik in ag geneem word.

‘n Eie bydrae en die vermoë om ‘n terugslag te absorbeer
Die vermoë van ‘n boerdery om ‘n deel van die oesinsette self te finansier, is ‘n belangrike element. Risikoprodukte, soos versekering, waarborg gewoonlik nie die totale verwagte inkomste nie en is ook onderhewig aan prestasievoorwaardes waaraan die produsent moet voldoen.

Hieronder tel byvoorbeeld die eisprosedures wat nougeset gevolg moet word. Nienakoming van hierdie prosedures kan ‘n versekeringseis nietig maak. ‘n Eie bydrae tot die oesinsetkoste help om hierdie risiko’s verder te beperk.

‘n Boerdery wat verder die vermoë het om ‘n terugslag te absorbeer deur finansiële middele en reserwes in te span, laat ‘n groter mate van finansieringsrisiko toe. Finansierders finansier nie graag “tot die limiet” nie, aangesien enige terugslag dan kan lei tot die oorweging van drastiese stappe.

Die historiese produksie en finansiële geskiedenis
In gevalle waar sekuriteit onvoldoende is, is die produksie en finansiële geskiedenis baie belangrik. Finansierders sal eerder risiko neem op boerderye wat oor die tyd bewys het dat hulle suksesvol kan produseer, risiko’s bestuur en finansiële verpligtinge nakom.

In hierdie gevalle is finansierders meer geneig om “‘n kans te waag” met ‘n boerdery wat ‘n langtermynsukses geskiedenis het. ‘n Boerdery wat jaar na jaar sukkel om suksesvol te wees selfs in gunstige omstandighede is nie ‘n aantreklike finansieringsopsie nie, ten spyte van enige versekering of verskansing wat uitgeneem kan word.

Opsomming

Landbou is vandag onderworpe aan vele risiko’s en is ook inherent volatiel wat prys en opbrengs betref. Suksesvolle landboufinansierders is deeglik bewus van hierdie faktore en ook dat landboufinansiering ‘n langtermynverbintenis vereis.

Finansierders is ook meer bewus van die faktore wat nodig is vir ‘n suksesvolle boerdery en leer toenemend om hierdie faktore in ag te neem.

In ‘n jaar waar daar verwag word dat sommige produsente finansiële druk gaan ervaar, gaan finansieringsbesluite in sommige gevalle moeilik wees. Die benadering in hierdie gevalle moet wees om nie na ‘n towerformule te soek nie. Elke geval sal beoordeel moet word aan die hand van die faktore wat in hierdie artikel uitgelig word.

In gevalle waar sekuriteit onvoldoende is, is finansieringsopsies beskikbaar wat produksiefinansiering kan verseker. Hierdie finansieringsmetodes staan egter nie onafhanklik van gesonde finansieringsbeginsels en die faktore wat hierbo genoem word nie.

Publication: May 2013

Section: Input Overview

Search