• Login
  • Search Icon

Waar staan Graan SA se heffings?

March 2018

DR DIRK STRYDOM, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

Graan SA is ‘n produsente-organisasie wat gedeeltelik deur sy lede se heffings befonds word. Die heffings word op ‘n vrywillige basis betaal en nie op ‘n statutêre basis soos die geval is met ander organisasies nie. Dit het natuurlik baie voor- en nadele: Die grootste voordeel hiervan is dat die produsente volle beheer oor hul eie organisasie het. 

By verlede jaar se Graan SA Kongres is gevra dat ondersoek ingestel word daarna dat geweegde stemme in die Graan SA-bestuurstrukture gebruik word. In die onlangse streeksvergadering was daar ‘n groot aantal vrae oor wie heffings betaal en in watter streke die meeste heffings betaal word. Uit Grafiek 1 is dit duidelik dat Streek 27 die streek is wat die meeste heffings betaal.

Die heffings kan verder ook in geografiese streke opgedeel word, soos byvoorbeeld die westelike, oostelike en suidelike produksie-areas. Volgens die verwerkings van die heffingsyfers, betaal die oostelike produksie-area die meeste heffings (‘n totaal van 41%) terwyl die westelike en suidelike produksie-areas baie naby aan mekaar is met 30% en 29% onderskeidelik – sien Grafiek 2

As daar spesifiek gekyk word na die verskillende gewasse en hul onderskeie bydraes (Grafiek 3), kan gesien word dat byna al die wintergrane se heffings effektief ingesamel word en byna amper 100% van die kanola-oes. Die laagste is grondbone met 24%. Vir die totale graanoes word 31% van die heffing betaal. Die persentasie word elke jaar hoër danksy getroue bydraes van ons produsente. 

Dit bly vir Graan SA belangrik dat die persentasie bly styg, want anders kan die goeie werk, soos bespreek by die Graan SA-streeksvergaderings, nie gedoen word nie. Die heffings bly van kardinale belang en bied ‘n definitiewe voordeel vir die produsent. As Graan SA nie daar is nie, sal die graanbedryf drasties en vinnig agteruitgaan – tot nadeel van ons produsente, maar ook vir ons land. Dit is ook uiters belangrik om seker te maak dat Graan SA ‘n produsente-organisasie bly. Hoe meer produsente heffings betaal, hoe groter sê sal hul hê en des te groter invloed kan uitgeoefen word. 

Graan SA bedank elke individuele produsent wat sy/haar heffing so getrou betaal en hierdeur verseker dat die bedryf volhoubaar bly en dat landbou in geheel ‘n verskil maak. 
 

Publication: March 2018

Section: Grain SA

Search