• Login
  • Search Icon

Vooruitsigte vir die Suid-Afrikaanse mieliemark

August 2012

– 17 Julie 2012

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Die weerstoestande in die VSA bied, tesame met die geprojekteerde knap plaaslike oordragvoorraadsituasie op 30 April 2013, ondersteuning aan die pryse van wit- en geelmielies vir die komende bemarkingsjaar.

Wêreld en VSA vraag en aanbod

Die internasionale oordragvoorraad vir mielies was teen 2 Julie 2012 beraam as 137 miljoen ton nadat die VSA droogte reeds ‘n aanvang geneem het en die oes in die VSA afwaarts aangepas is tot 350 miljoen ton (Tabel 1).

image

Op 11 Julie 2012 was die VSA se produksie egter beraam as nagenoeg 330 miljoen ton. Weens die impak van die droogte, is aangedui dat opbrengste tot 135 skepels per akker kan daal. Indien dit die geval sou wees, daal die produksie in die VSA tot 305 miljoen ton.

Die VSA het 96,4 miljoen akker aangeplant waarvan 88,9 miljoen akker gestroop gaan word (Tabel 2). Die potensiële afname van 25 miljoen ton in produksie, vergelyk in omvang met die geprojekteerde eindvoorraad
soos op 11 Julie 2012 beraam. Afnames in die totale vraag na mielies vir etanol, voer en uitvoere word voorsien.

image

VSA invoere uit Brasilië

Moontlike invoere van mielies uit Brasilië om in die behoeftes van die suid-oostelike dele van die VSA te voorsien, word nie uitgesluit nie. Gegewe dat die ongunstige VSA weerstoestande voortduur, is dit nie uitgesluit dat die VSA voorrade tot minder as 1 biljoen skepel (25,4 miljoen ton) kan daal nie.

Brasilië se geprojekteerde syfer vir uitvoere in die 2012/2013-bemarkingsjaar beloop 12 miljoen ton. Die land het vir die periode vanaf Maart tot Junie 2012 reeds 676 000 ton uitgevoer en invoere van ongeveer 1,1 miljoen ton deur die VSA vanaf Brasilië is dus ‘n moontlikheid. Argentinië se uitvoersyfer beloop reeds 12,84 miljoen ton van ‘n potensiële 16 miljoen ton.

Plaaslike marktoestande

Mielie-uitvoere
Suid-Afrika het in die 2012/2013-bemarkingsjaar (1 Mei 2012 tot 30 April 2013) ‘n miljoen ton mielies vir uitvoerdoeleindes beskikbaar voordat die pyplynbehoefte negatief geraak word. Gedurende die vorige
bemarkingsjaar het Suid-Afrika byna 440 000 ton mielies (340 000 ton witmielies en 99 900 ton geelmielies) na die BLNS-lande uitgevoer.

In die voorafgaande bemarkingsjaar (2010/2011) het Suid-Afrika 497 134 ton mielies na die BLNS-lande uitgevoer. Tot op datum (4 Mei tot 6 Julie) het Suid-Afrika reeds byna 80 000 ton na die BLNS-lande uitgevoer. In totaal het Suid-Afrika reeds 290 347 ton heelmielies uitgevoer, waarvan 21 564 ton geelmielies en 268 783 ton witmielies was.

Meksiko het tot op datum reeds 203 244 ton witmielies vanuit Suid- Afrika ingevoer. Gegewe die verwagte uitvoere na die BLNS-lande asook na Meksiko, laat dit ‘n relatief klein hoeveelheid mielies beskikbaar vir uitvoere na ander bestemmings. Eindvoorrade kan weens verdere uitvoere na Meksiko en 'n kleiner oesskatting verklein.

Grafiek 1 dui die impak aan van die droogte in die VSA op die naaste kontrakmaandpryse vir Julie 2012 aan asook die aanduidende pariteitspryse vir mielie-in- en uitvoere.

image

Mielieprysstygings
Mieliepryse het sedert ‘n jaar gelede met 32% gestyg. Sedert ‘n maand gelede (13 Junie 2012) het witmieliepryse met 24% tot R2 634/ton gestyg en geelmieliepryse met 23% tot R2 583/ton. Die invoerpariteit vir geelmielies uit Argentinië, geland Randfontein, het op 16 Julie 2012 R3 095/ton beloop teenoor R2 583/ton op die JSE.

Mieliepryse verhandel dus met meer as R500/ton onder die Argentynse invoerpariteit. Die prysstygings gedurende die afgelope maand kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die mees ongunstige weerstoestand sedert 1988 in die VSA, wat met ‘n kritieke gewasstadium saamgeval het.

Plaaslike vraag en aanbod
Na verwagting behoort die plaaslike vraag en aanbod ook ‘n rol in prysondersteuning later in die bemarkingsjaar, veral teen die huidige hoe internasionale prysvlak vir mielies, te begin speel (Tabel 3).

image

Produsentelewerings
Tans beloop die produsentlewerings tot op datum 7,3 miljoen ton of 66% van die geskatte oes van 11,055 miljoen ton.

Gevolgtrekking

Indien die geprojekteerde uitvoere van 1 miljoen ton mielies voor die einde van die bemarkingsjaar op 30 April 2013 realiseer, behoort mieliepryse ook deur moontlike mielie-invoere voor die einde van die huidige bemarkingsjaar (April 2013) verder ondersteun te word.

Publication: August 2012

Section: Wenartikels

Search