• Login
  • Search Icon

Voortgesette ontwikkeling vir landbouchemiese verteenwoordigers

November 2016

NIC GREYLING, CropLife

Opleiding is seker een van die belangrikste beleggings wat ‘n maatskappy kan maak. Ook die landbouchemiese bedryf het dit lankal besef en daarom word verteenwoordigers voortdurend opgelei om oor die nodige kennis in hul uitdagende werksomgewings te beskik.

CropLife het besluit om aan verteenwoordigers erkenning te gee vir die opleiding wat hulle ontvang deur ‘n program in te stel wat op Voortgesette Professionele Ontwikkeling (VPO)-beginsels gebaseer is. Dit staan ook bekend as ‘n Continuing Professional Development-stelsel of CPD-stelsel. Deesdae het omtrent alle industrieë in die wêreld soortgelyke programme in plek.

Die werksomgewing van die landbouchemiese verteenwoordiger word gekenmerk deur onafhanklikheid, maar dit is ook dinamies en uitdagend omdat hul kennis voortdurend getoets word en daarom moet hulle op eie kennis staat maak om waarde vir die kliënt toe te voeg.

Ten einde op hoogte te bly van die nodige kennis, moet CropLife-lede in die toekoms voortdurend opleiding ondergaan as deel van die program wat nou deur CropLife ingestel is. Kennis bemagtig, maar gee ook vertroue, bevrediging en werkstrots in die daaglikse uitvoering van pligte.

Landbouchemiese verteenwoordigers wat lid van CropLife is, moet die basiese plantwetenskappekursus van CropLife slaag om geakkrediteer te word. Om akkreditasie te behou, moet die verteenwoordigers aan die voortgesette professionele opleidings program deelneem.

Dit is nie nuut vir die verteenwoordigers in die bedryf nie, aangesien hulle alreeds jaarliks verskeie opleidingsprogramme bywoon. In die toekoms sal verteenwoordigers punte ontvang vir alle toepaslike opleiding wat bygewoon word. Akkreditasie sal dan behou word wanneer die voorgeskrewe hoeveelheid punte in ‘n spesifieke tydperk of siklus verdien is.

Die doel hiervan is baie duidelik: Goed-opgeleide verteenwoordigers kan ‘n effektiewe en professionele diens aan produsente en ander kliënte lewer. Kliënte moet voel dat die verteenwoordiger waarde kan toevoeg en dat daar op ‘n professionele vlak onderhandel en gekommunikeer word.

Die kennis waaroor ‘n verteenwoordiger moet beskik, sluit nie net produk- en gewaskennis in nie. Besigheidsbestuur verseker dat verteenwoordigers hul besighede kan bestuur en opleiding in dié verband word ook erken.

‘n Groot aantal wette, regulasies en standaarde het ‘n invloed op die landbouchemiese bedryf. Deel van die verpligte opleiding sluit van hierdie onderwerpe in. Dit word van die verteenwoordiger verwag om produsente oor statutêre vereistes ten opsigte van die stoor en vervoer van chemikalieë in te lig. Omgewingsfaktore is toenemend van belang en verteenwoordigers moet bewese kennis hê van veiligheid, gesondheid en omgewingswette en standaarde wat op die landbouchemiese bedryf van toepassing is. Laasgemelde sluit veral die bestuur van leë houers in en hoe die houers hanteer moet word.

‘n Geakkrediteerde lid sal in besit wees van ‘n lidmaatskapskaart waarop aangedui word dat die verteenwoordiger aan die vereistes van akkreditasie voldoen. Produsente word aangemoedig om CropLife-lede te versoek om hul kaarte te sien.

In geval van navrae oor die VPO-program kan mnre Tom Mabesa of Nic Greyling van CropLife by 011 805 2000 gekontak word.

Publication: November 2016

Section: On farm level

Search