• Login
  • Search Icon

Voorgestelde veranderings in koringgradering

February 2019

DR DIRK STRYDOM, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

Die koringbedryf werk al meer as vier jaar aan ’n omdraaistrategie. Een van die mikpunte in dié strategie was om die graderingsmaatreëls te verander. Talle gesprekke en onderhandelings het binne die forum – en meer spesifiek binne die Handels- en Bemarkingswerkgroep – plaasgevind. 

Verskeie voorstelle is gemaak en mandate is vir elke weergawe vanaf produsente deur die Wintergraanwerkgroep asook tydens Graan SA Kongres en produsente-inligtingsdae ontvang. In die middel van 2018 was daar uiteindelik ’n werkbare voorstel waarmee al die partye in die forum tevrede is. 

Die voorstel is by die Koringforumvergadering goedgekeur vir indiening by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.

Wat behels die nuwe voorgestelde gradering?
Die verandering wat binne die forum voorgestel is, is in Tabel 1 aangebring. Die nuwe voorstelle is besonder voordelig vir produsente in dié sin dat produsente ’n graad sal kan produseer wat vergelyk kan word met invoere en internasionale standaarde sonder om die kwaliteit van koring te laat daal. 

Produsente kan ook op insette bespaar in die sin dat stikstoftoediening verminder kan word weens die laer proteïenvlakbehoefte. Volgens ’n studie wat vroeër verlede jaar deur Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BVLB) gedoen is, kan die besparing gemiddeld in die orde van R222/ha wees. Dit hang natuurlik grootliks af van klimaatsomstandighede en individuele praktyke. Neem ook in ag dat ons stikstof – en totale produksiekoste – volgens die International Agri Benchmark-program wat die BVLB in Suid-Afrika verteenwoordig, van die duurste in die wêreld is. 

Natuurlik is die insluiting van die super graad ook ’n positiewe punt vir produsente omdat dit nog steeds vir die produsent wat ’n hoë proteïenvlak koring produseer, ’n spasie in die mark bied. Dit is ’n beduidende voordeel as ’n mens in ag neem dat die produsent ook hiervoor vergoed sal word.

Die feit dat die gradering meer simplisties en homogeen is, beteken ook dat die produsent ’n regverdiger prys vir sy kommoditeit sal kry. Is dit op die regte vlak? Verseker nog nie: Grotendeels omdat die Suid-Afrikaanse pryse afgelei word van die Russiese koringprys. Dit lewer egter ’n bydrae om in die omdraaistrategieproses nader aan ’n prys, wat die kwaliteit van die produk reflekteer, te beweeg. Verdere stappe met die oog daarop om nader aan die regte prys vir die regte kwaliteit te beweeg, is om die invoertarief opnuut te analiseer en om die opbrengs te verhoog deur middel van nuwe genetika.

Die verandering is slegs ’n verandering in die proteïenvlak binne die gradering van koring en veroorsaak nie dat die Suid-Afrikaanse koring se gehalte sal verlaag nie. Die intrinsieke waarde van koring bepaal die gehalte. Dit word grootliks deur middel van genetika en klimaatsomstandighede geaffekteer.

Wat is die prysverskilvoorstelle?
Deel van die gesprekke wat tydens die gradering plaasgevind het, het op die prysverskille tussen verskillende grade gefokus. Daar is boonop konsensus binne die forum bereik – sien die prysverskille tussen die grade in Tabel 2.

Dit beteken dat die prys wat by die JSE verhandel gaan word ’n B1 sal wees – wat die basis sal vorm. Die super graad sal teen ’n basis +2% wees, B2 sal basis -1% wees en die B3 sal basis -4% wees. Dít hou ’n groot voordeel vir die produsent, maar ook vir die kopers van koring, in. 

Vir die produsent beteken dit dat daar nou slegs -1%-aftrekking tussen B1 en B2 is, wat beteken dat die produsent in die huidige mark ongeveer R45/ton meer kan kry vir B2-koring. 

Die feit dat daar ’n voorstel vir ’n premie op super graad (12,5%) is, beteken dat produsente wat ’n hoë proteïenvlak-koring produseer, ook addisionele vergoeding sal geniet. 

In die huidige mark is die B1 Safex-prys ±R90/ton. As net dit oorweeg word, is daar reeds vir koringprodusente ’n beduidende voordeel beding ten einde die verbouing van koring meer volhoubaar te maak.

Vanaf ’n Graan SA-bemarkingsoogpunt is dit verblydend dat ons deel van ’n proses kon wees om hierdie voordeel vir Suid-Afrikaanse koringprodusente te bewerkstellig.

’n Opsomming van die veranderinge is in Tabel 3 aangebring.

Wat behels die proses wat nog gevolg moet word?
Die mikpunt bly om hierdie gradering in die 2019-seisoen in werking te stel, maar daar is eers ’n paar stappe wat gevolg word.

Gradering:

  • Ten tye van die skryf van die artikel was die forum besig om die aansoek vir verandering op gradering by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in te dien. Dit moet dan deur die normale aansoekproses gaan, deur byvoorbeeld in die Staatskoerant gepubliseer te word. Die Minister van Landbou sal dit dan moet goedkeur en afkondig.
  • Die forum het die JSE in kennis gestel dat daar ’n moontlike verandering in gradering met die voorgestelde verandering gaan plaasvind.

Daarby is die voorstel van die veranderinge in die graadprysverskille ook aan die JSE gestuur. 

Die veranderinge is uiters positief en Graan SA is van mening dat dit produsente in die toekoms kan ondersteun om koring meer volhoubaar te produseer.

Publication: February 2019

Section: On farm level

Search