• Login
  • Search Icon

Voorbereiding vir die grondboonplantseisoen in perspektief

October 2014

LOUREINE SALOMON, LNR-Instituut vir Graangewasse

imageElke seisoen bring sy eie uitdagings en vir grondbone is geen seisoen dieselfde nie. Daar is wel sekere stappe wat dieselfde bly, veral wanneer dit by die voorbereiding kom vir 'n komende seisoen van aanplanting.

Die belangrikste van almal is die keuse van die land waarop grondbone aangeplant gaan word. Menige navraag word gedoen oor wat reg en verkeerd is en daarom is dit nodig om net weer hersiening te doen.

Grondbone hou van sanderige grond. Jy kan selfs waag om op 'n sand-leem grond te plant, maar wees versigtig dat die grond nie toeslaan en ontkieming kan belemmer en selfs later in die seisoen anker-penetrasie kan bemoeilik nie.

Wisselbou is die wagwoord! Waak egter teen drie-gewas-wisselboustelsels. Baie produsente dink dat as daar net ‘n drie-gewasstelsel is, waar grondbone afgewissel word met mielies en koring, sal dit tel as ‘n voldoende wisselboustelsel. Dit is die gevaarlikste denkwyse, aangesien hierdie tipe stelsel groot probleme veroorsaak in die vorm van siektebeheer asook onkruidbeheerprobleme. Die geskikste wisselboustelsel is ‘n drie tot vier jaar somergewaswisselboustelsel waar grondbone dus eers ná drie tot vier jaar weer op 'n spesifieke land aangeplant kan word.

Kennis van watter onkruiddoders die vorige seisoen op daardie gekose land gebruik is, is ook van uiterste belang aangesien middels met lang nawerkingstydperke, soos Atraziene, 'n groot impak het op grondboonopbrengste.

Grondontledings is net so belangrik aangesien dit nodig is om te weet wat in die grond aangaan. By grondbone moet in gedagte gehou word dat voedingstowwe wat in die vorige seisoen uit die bogrond geloog het, gebruik gaan word deur die grondbone in die komende seisoen.

Grondbone reageer nie goed op nuutgeplaaste kunsmis nie aangesien die wortelstelsel van so ‘n aard is dat grondbone hul voedingstowwe vanuit die laer grondvlakke opneem. Neem ook kennis dat indien daar vir ‘n stikstofproduserende plant stikstof toegedien word, dit die plant negatief beïnvloed in die sin dat dit die vorming van nitrifiserende bakterieë teenwerk en dus die plant “lui” maak.

Slegs in gevalle waar grondontledings toon dat daar feitlik geen beskikbare stikstof is nie, kan daar wel gekyk word na ligte stikstoftoedienings van 20 kg/ha. Die belangrikste aspek by grondbone om in gedagte te hou, is die toediening van kalsium in die vorm van gips. Dit is die ruggraat van goeie peulvorming, sterk peule asook goeie kwaliteit pitte. Die algemene aanbeveling vir Spaanse tipe grondbone is 400 kg/ha - 600 kg/ha, breedwerpig toegedien met planttyd.

Die toegediende gips moet ook nie ingewerk word ná toediening nie, aangesien die kalsium beskikbaar moet wees binne die eerste 10 cm van die bogrond waar dit direk deur die peulwand opgeneem word.

Grondvoorbereiding is volgende op die lys. Daar word menigmale gevra of grondbone wel binne ‘n minimumbewerkingsisteem ingebring kan word. Die antwoord op hierdie vraag is tweeledig. Daar is voorstanders van minimumbewerking sowel as teenstanders, maar by grondbone moet daar gekyk word na wat geskik is vir optimale produksie.

Los, goed deurligte grond is noodsaaklik om ontkieming te bevorder en om anker-penetrasie te bewerkstellig. Aangesien grondbone hulle peule onder die grond maak, is dit ook belangrik dat die grondstruktuur van so ‘n aard moet wees om die uithaal van grondbone te akkommodeer. Harde en gekompakteerde grond wat nie losgemaak is deur ‘n ploegaksie nie, is nie bevorderlik vir die ontwikkeling en oeshantering van grondbone nie.

Die aankoop van SANSOR gesertifiseerde saad is die finale stap tot die voorbereiding vir die grondboonseisoen. Hier moet die produsent sy saad vanaf ‘n betroubare saadverskaffer aanskaf. Maak seker dat elke sak saad SANSOR-etikette op het en hou boek van die saadlotte wat aangekoop is. Wees ook bewus van wat die kiemingspersentasies is wat op die sakke aangedui is.

Om gemoedsrus te kry, kan daar aan die saadverskaffer ‘n aanvraag gemaak word tot 'n afskrif van die kiemingsertifikate. Dié inligting kan dus saam met die saadetikette gebêre word indien daar navraag is aangaande die betrokke saadlot.

Dit is ook wys om ‘n monster van die saadlot te behou vir ingeval ‘n probleem dalk opduik en bewyse gegee moet word van saadkwaliteit. Goeie voorbereiding bied die beste wegspringblokke vir die grondboonprodusent en is ‘n uiterste noodsaaklike beplanningsfase waardeur die produsent sy wapens gereed kry vir die seisoen se stryd wat voorlê.

Onthou: ‘n Goeie grondboonprodusent se voetspore lê van planttyd tot oestyd in sy lande.

Publication: October 2014

Section: On farm level

Search