• Login
  • Search Icon

Volle chemiese beheer by verminderde bewerking

September 2012

ELBÉ HUGO, ONKRUIDNAVORSER, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE, POTCHEFSTROOM

image

Verminderde bewerking in gewasverbouing het die afgelope jare groot veld gewen onder produsente aangesien dit onder andere insetkoste drasties kan verlaag.

Die huidige beweging om grond eerder dus te “herstel” om volhoubare produksie te verseker, word op al hoe meer grondtipes suksesvol toegepas, maar gewis met vele uitdagings. Die term bewaringsboerdery kan dus gedefinieer word as ‘n produksiestelsel waar minimum grondversteuring toegepas word om ‘n permanente deklaag van oesreste te vestig met behulp van gewasrotasie tussen ten minste twee, maar verkieslik drie gewasse.

Só ‘n stelsel se ooglopendste voordele is die bekamping van gronderosie en die herstel van grond om ‘n “natuurlike balans” te verkry vir die volgehoue verbouing van gewasse. Hierdie produksiestelsel is dus meer ‘n denkwyse van gewasverbouing wat aangepas moet word, as ‘n resep wat uitgedeel gaan word.

Grootste uitdaging

Een van die grootste uitdagings van verminderde bewerking is onkruidbeheer, aangesien grondbewerking onkruiddruk aansienlik kan verlaag en die beheer van hoë infestasies relatief maklik kan beheer.

Alhoewel bewaringsboerdery vele voordele inhou, soos verlaagde produksiekoste, gaan die insetkoste vir die gebruik van onkruiddoders aanvanklik drasties styg. Omdat grond nie meer konvensioneel “omgekeer” word nie, word onkruidsaailinge nie ontwortel nie en onkruidsaad word nie begrawe nie.

Meeste onkruidsaad kom voor in die boonste 6 cm van die grondprofiel en verhoogde ontkieming van onkruidsaad, veral vlak kiemende onkruidsaad, soos grassaad, kom voor wanneer verminderde bewerking geïmplementeer word. Die uitdaging wat onkruidbeheer in verminderde bewerking bied, is in sommige gevalle onhanteerbaar vir produsente en die onsuksesvolle implementering van ‘n produksiestelsel, soos bewaringsboerdery, is dikwels die gevolg.

Produsente moet egter nie moed verloor nie. Die effektiewe beheer van onkruide in verminderde bewerking is haalbaar en word makliker in die lang termyn. Dit verg in die begin meer bestuursvernuf en tydige toediening van onkruiddoders is kritiek, maar wanneer ‘n bewaringsboerderystelsel eers gevestig is (tussen drie en vyf jaar), begin daar ‘n balans intree tussen verskeie faktore wat die integrasie van onkruidbeheermetodes bevoordeel.

Hierdie faktore sluit in die vestiging van oesreste, optimale gewaspopulasies (plantestand), tyd van onkruiddodertoediening en keuse van rotasiegewas. Die beskikbaarheid van onkruiddoder-tolerante kultivars (Roundup Ready kultivars) kan die beplanning en vestiging van bewaringsboerdery sommer baie vergemaklik, maar konvensionele kultivars kan ook steeds met groot sukses in so ‘n stelsel aangeplant word.

Gebruik onkruiddoders wat op spesifieke gewasse geregistreer is

Slegs onkruiddoders wat op spesifieke gewasse geregistreer is, kan effektief gebruik word om onkruidbeheer toe te pas. Produsente moet dus dubbel seker maak wanneer hulle onkruiddoders aankoop, of dit met veiligheid in gewasrotasie gebruik kan word. Alle onkruiddoders wat geregistreer is, is saamgevat in die publikasie A guide to the chemical control of weeds in South Africa. A CropLife South Africa Compendium. Dit is saamgestel deur Kathy van Zyl en word gepubliseer deur AVCASA. (Stuur ‘n e-pos na info@cropsolutions.co.za vir meer inligting hieroor.)

Om die regte onkruiddoder en die optimale tyd van toediening te bepaal, is van kritieke belang waar verminderde bewerking toegepas gaan word. Onkruide wat vroeg in die seisoen ontkiem, kan vroegtydig beheer word deur voor-opkoms, grondtoegediende doders. Onkruiddoders geregistreer op mielies, soos byvoorbeeld S-metolachlor en acetochlor, kan toegedien word voordat onkruidsade ontkiem of indien slegs enkele onkruidsaailinge reeds opgekom het.

Onkruiddoders in die Triketone-groep, soos byvoorbeeld mesotrioon, kan voor- en vroeg na-opkoms gespuit word vir effektiewe beheer van sommige grasse en breëblare. Ander triketone, soos topramesoon en tembotrioon, kan ook vroeg na-opkoms toegedien word vir die effektiewe beheer van veral grasse.

Voorkomende toediening van onkruiddoders keer dat onkruide in die saadbed vestig en dat onkruidgetalle drasties verhoog. Sekere vooropkoms onkruiddoders se nawerking op opvolggewasse wissel tussen28 dae en 40 dae en kan toegedien word net voor, tydens of net ná die plantaksie, maar voordat die gewas opgekom het.

Daar is ook verskeie tenkmengsels op spesifieke gewasse geregistreer wat ‘n wyer spektrum van grasse en breëblare effektief kan beheer. Nie-selektiewe na-opkoms onkruiddoders, soos paraquat en glifosaat, kan toegedien word as “chemiese skoffel”, wanneer onkruide alreeds opgekom het (gewoonlik ‘n paar dae ná die eerste goeie bui reën), maar voor die plant van die gewas.

Waar onkruiddoder-tolerante kultivars geplant is, kan glifosaat na-opkoms van ‘n gewas (mielies, sojabone en katoen) gespuit word, maar streng volgens die spesifikasies wat op die produketiket verskyn. Hier speel die tyd van toediening ‘n groot rol aangesien nie alle onkruide gelyktydig opkom nie en effektiewe beheer verkry sal word wanneer die grootste spektrum reeds ontkiem het, maar nog tussen die vier- tot sesblaarstadium is.

Dit is bekend dat onkruide meer wisselvallige opkomspatrone het in bewaringsboerdery in vergelyking met konvensioneel bewerkte lande. Hoe groter die onkruide raak hoe minder effektief sal na-opkoms - doders wees.

Wanneer onkruiddoders wat triasiene bevat oorweeg word, moet die wagperiode van ongeveer 18 maande in gedagte gehou word vir die wisselbou met ‘n peulgewas om gewasskade en opbrengsverliese uit te skakel. Na-opkoms, nie-selektiewe onkruiddoders, soos glifosaat en paraquat, het geen residuele werking in die grond nie en optimale benatting van onkruidsaailinge is kritiek belangrik vir effektiewe beheer.

Volg die etiket se instruksies

Die instruksies op die etiket van elke onkruiddoder moet getrou gevolg word om effektiewe beheer te verseker, veral wat byvoegmiddels betref. Verder moet die digtheid van oesreste (deklaag) in aanmerking geneem word by na-opkoms toediening, aangesien dit as ‘n fisiese hindernis kan dien wat kan verhoed dat voldoende onkruiddoder op onkruidsaailinge te lande kom.

Daar is gevind dat oesreste tussen 15% en 80% van die onkruiddoder kan “ondervang” wat die effektiwiteit van na-opkoms onkruiddoders aansienlik kan verlaag. Tenkmengsels met 2,4-D kan voor-opkoms en/of na-opkoms toegedien word om hardnekkige onkruide, soos wandelende Jood, in mielies te beheer.

Soms waar infestasievlakke van moeilik beheerbare onkruide hoog is, moet 2,4-D voor- en na-opkoms by tenkmengsels gevoeg word vir effektiewe beheer. Dit is van kritieke belang dat onkruide nie toegelaat moet word om te blom en saad te stort nie om sodoende onkruidgetalle in die saadbank te verminder.

Aanplant van Roundup Ready kultivars

Soos vroeër reeds genoem, kan die aanplant van Roundup Ready kultivars onkruidbeheer in verminderde bewerkingspraktyke aansienlik vergemaklik. Dit het tot gevolg dat produsente begin staatmaak op slegs een onkruiddoder wat meer koste-effektief kan wees. Daar moet gewaarsku word teen die herhaaldelike gebruik van glifosaat, aangesien verskeie gevalle van weerstandige onkruidsoorte alreeds aangeteken is. Dit geld egter vir alle onkruiddoders en produsente moet onkruiddoders in verskillende groepe afwissel.

Die korrekte toediening van onkruiddoders met die regte spuittoerusting speel ‘n uiters belangrike rol in die effektiwiteit van ‘n onkruiddoder. Sorg dat spuittoerusting altyd in ‘n goeie toestand is en dat alle stukkende of verslete dele van spuite vervang word voor bespuitings gedoen word.

Bly op hoogte met nuutste toerusting

Die tegnologie van spuittoerusting het oor die afgelope paar jaar drasties verbeter en ontwikkel en produsente moet op hoogte bly met die nuutste toerusting wat beskikbaar is om onkruiddoders so effektief as moontlik toe te dien.

Dit sal beslis lonend wees om tyd te spandeer om onkruiddoderspuite, hetsy dit selfaangedrewe hoogloopspuite of gewone trekkerspuite is, korrek te kalibreer om te verseker dat die korrekte hoeveelheid onkruiddoder toegedien word.

Vir meer navrae of hulp met onkruidbeheerbeplanning vir die nuwe seisoen, skakel me Elbé Hugo by die LNR-IGG by (018) 299-6298 of HugoE@arc.agric.za.

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search