• Login
  • Search Icon

VIER OESDAGVOORSITTERS kyk terug...

April 2016

SA Graan/Grain redaksie

Graan SA se 50ste NAMPO Oesdag word vanjaar aangebied. Vier vorige voorsitters van die NAMPOOesdagkomitee, mnre Japie Grobler, Bully Botma, Vic Mouton en Jub Jubelius, kyk met trots terug oor hul ampstermyne.

Japie Grobler
VIER OESDAGVOORSITTERS kyk terug...Grobler, wat van 1987 tot 1989 die Oesdagvoorsitter was, meen die Oesdag is die grootste uitstalling van landboumasjinerie en lewendehawe van sy soort in die Suidelike Halfrond en die grootste van sy soort ter wêreld in privaat besit.

“Die uniekheid van die Oesdag is geleë daarin dat dit die geleentheid is waar alle vervaardigers en verspreiders van landboumasjinerie, hulpmiddels en dienste by wyse van statiese uitstallings, sowel as beheerde demonstrasies op versoek, hulle produkte aan produsente in hoofsaaklik die somersaaigebiede kan vertoon en demonstreer.

“‘n Verdere unieke kenmerk van die Oesdag was destyds dat dit nie deur betaalde amptenare bedryf is nie, maar deur produsente vir die produsente. Hierdie konsep is deur ‘n stelsel van subkomitees moontlik gemaak. Tydens die duur van die Oesdag is alle take op die terrein deur dosyne vrywillige Graan SA-lede verrig.

“‘n Projekspan bestaande uit myself, Bully Botma en André Ferreira (voormalige landbou-ekonoom verbonde aan Graan SA) het destyds navorsing gedoen, veeveilingskomplekse in Amerika besoek en breedvoerig verslag daaroor gedoen. ‘n Veeveilingskompleks is dan ook tydens my termyn as voorsitter opgerig,” vertel hy.

Die uitstallers het tydens Grobler, wat op die plaas Karookom boer (net oorkant die grensdraad van NAMPO Park), se termyn van ongeveer 200 tot 250 gegroei terwyl die bywoning oor die drie dae van die Oesdag gewissel het tussen 15 000 en 19 000 besoekers.

Vir Grobler was die heel lekkerste daarvan om betrokke te wees by die Oesdag, die feit dat produsente in staat gestel word om die volledige reeks landboumasjinerie te sien, om die doeltreffendheid en werkvermoë daarvan te bepaal en om dan hierdie kennis vir die aankoop van sodanige toerusting te gebruik. Hierdie kontak is nie net tussen insetver skaffer en klant nie, maar ook tussen produsente en medeprodusente. Die Oesdag het die belangrikste byeenkoms vir produsente en insetverskaffers geword. Dit is die plek waar alles wat nuut is, verander het of verbeter is, op een perseel aan die landbouer vertoon word.

Grobler verkneukel homself daarin dat mense hul motors elke jaar miskyk. “Soggens stap hulle maklik tot 2 km na die ingangshekke, net om in die namiddag te beweer dat hulle nie verder as 200 m van die hekke af stilgehou het nie en die voertuig beslis gesteel moet wees.”

Hy besoek vandag nog steeds die Oesdag om ou vriende weer te sien en nuwes te ontmoet. “Dit is die een plek in Suid-Afrika waar produsente bymekaarkom en die nuutste toerusting en boerderybenodigdhede kan besigtig. Dit gaan steeds oor alles van belang vir Suid-Afrikaanse landbou en produsente. ‘n Mens kan in ‘n ontspanne atmosfeer pryse en produkte met mekaar vergelyk sonder om na elke verskaffer oor die land heen se verkoopslokale te gaan.”

Bully Botma
Die bywoning van die Oesdag het tydens Botma, wat in September 1989 die leisels as voorsitter oorgeneem het en dié amp tot Februarie 2001 beklee het, se termyn vanaf 19 000 tot ‘n volle 57 000 besoekers gegroei nadat die Oesdag vanaf 1998 na vier dae verleng is. Die uitstal lers het gedurende die periode van 250 tot 513 toegeneem. Botma, wat steeds in die Bothaville-distrik woon en in ‘n mindere mate saam met sy seun by die familieboerdery betrokke is, beskryf Graan SA se NAMPO Oesdag as die samekoms en weersiens van vriende soos by ‘n jaarlikse familiefees. Die kameraadskap van produsente wat hul tyd vrywillig opoffer vir ‘n saak waarin hulle glo, asook die era van tegnologie wat met rasse skrede vooruitgegaan het, het vir hom uitgestaan in sy termyn.

“Dis heerlik om jaarliks ou vriende te sien en op hoogte te probeer bly van die nuutste tegnologie. ‘n Produsent verloor tred met die nuutste ontwikkelings as hy nie die Oesdag bywoon nie, want dit is die ideale geleentheid om die buitewêreld se implemente en die fantastiese planne by die boerepatente te aanskou,” sê hy.

Botma onthou ‘n snaakse insident toe ‘n pragtige dame met ‘n spierwit katpak tydens ‘n swaar reënbui van ‘n droë gebied na ‘n ander gebied probeer oorstap het. “‘n Baie galante heer het haar opgeraap en wou haar oor die watergat help. Net voordat hulle die droë gebied kon bereik, het die man, wat vroeër die dag êrens tierwater in die hande gekry het, per ongeluk gestruikel en bo-op die dame in die water beland. Sy was natuurlik briesend en wou selfs die Oesdagkomitee opskroef om haar eer te red en die skade te herstel – ongelukkig sonder sukses.”

Vic Mouton
VIER OESDAGVOORSITTERS kyk terug...Mouton het gedurende sy termyn as voorsitter, wat van Februarie 2001 tot Junie 2005 geduur het, die Oesdag as ‘n hoogtepunt op sy kalender ervaar. Elke jaar se Oesdag was vir hom die beste ooit. Die uitstallers het gedurende sy termyn van 513 tot 576 gegroei en die bywoning van die Oesdag het van 57 000 tot 68 000 toegeneem. “Ons het nie getalle nagejaag nie. Jy moet die regte besoeker by die regte uitstaller kry – die Oesdag is immers gereël om besigheid te doen.” Mouton onthou dat almal daardie jare vrywillige werkers was wat ver niet gewerk het, maar sê dat dit steeds wonderlik is om die nuutste landboutegnologie te sien en om al jou vriende weer raak te loop.

“Ek het wonderlike herinneringe aan my ampstermyn. Ek het een Woensdag omtrent die hele dag op ‘n watertenk gesit en gekyk of die water nie gaan opraak nie! Ons het in daardie jare ook begin om die Oesdagterrein op te gradeer en te ontwikkel. Boorgate is oor tyd geboor om die watersituasie te verbeter en die elektrisiteitsisteem is opgradeer, oorgedoen en gekarteer. Ons het ook die toiletgeriewe op strategiese plekke opgerig en opgegradeer. Dit was belangrik dat die Oesdaggangers tevrede moes wees.

“Dit is belangrik vir produsente om die Oesdag te besoek, want só kan hulle verseker dat hulle aan die voorpunt van landboutegnologie bly en alles wat nuut is op een dag sien en ervaar,” sê hy. Mouton, wat nou in Potchefstroom woon, is steeds betrokke by die boerdery naby Derby waar sy seun, Cobus, boer.

Jub Jubelius
Jubelius het die leisels in Junie 2005 by Mouton oorgeneem en dié amp tot Junie 2011 beklee. In hierdie termyn het die uitstallers van 600 tot 672 toegeneem terwyl die bywoning van 68 000 tot 73 000 toegeneem het.

Die vriendelikheid, positiewe gesindheid en wonderlike gees onder die mense was vir hom die heel lekkerste tydens sy betrokkenheid by die Oesdag. “Hoewel ons almal as vrywilligers by die Oesdag gewerk het, was die gees so lekker onder die produsente dat ‘n mens hulle saans by die hek moes uitdra. Dit was vir hulle só lekker om daar te wees, dat hulle glad nie omgegee het om toegang te betaal nie en spesiaal verlof ingesit het om daar te kom werk.”

Jubelius vertel dat hy al baie snaakse insidente by die Oesdag beleef het. Een insident wat nogal amusant was, is toe een van die sekuriteit se vragmotors een aand spoorloos by die hek uit “verdwyn” het.Die komitee is bymekaargeroep, maar die vragmotor het intussen weer wonderbaarlik sy verskyning gemaak. Sy enjin was nog warm, wat ‘n teken was dat hy wel iewers heen gery het. Die vragmotor het gery en weer teruggekom sonder dat enigiemand geweet het waarheen dit was. Dit het later aan die lig gekom dat dit die sekuriteit self was wat met die diensvoertuig verdwyn het!

“Ek besoek nog steeds die Oesdag omdat die mense so positief en vriendelik is. Daar heers ‘n atmosfeer wat jy nie op ‘n ander plek sal kry nie. Alles wat jy in landbou soek, is op een terrein beskikbaar, ongeag of dit uitstallings, verskaffers, produkte, fabrikate of verskaffers is.

“Hierdie samevoeging van landbou-aktiwiteite is van onskatbare waarde. Die Oesdag is noodsaaklik vir ‘n landbouer, ongeag waarmee hy boer. As ‘n produsent nog nie daar was nie, weet hy nie wat hy mis nie,” sê hy.

Jubelius woon deesdae op Kroonstad en is semi-afgetree. Hy boer nog deeltyds met beeste, maar sy seun hanteer die saaiboerdery en het die res van die boerdery groot - liks oorgeneem.

Publication: April 2016

Section: NAMPO

Search