• Login
  • Search Icon

Vier manne werk soos een man saam

October 2011

RUTH DAVIES, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Vlakplaas Boerdery (geleë naby Hoopstad) wat bestaan uit mnr Koos Barnard en sy drie seuns Janes, Abraham en Kobus, is vanjaar aangewys as die Graanprodusent van die Jaar.

image

Elkeen van die manne is ‘n kundige op sy eie gebied, maar as jy hul vaardighede saam voeg, funksioneer hulle soos ‘n goed-geoliede masjien. Dié wenspan verbou hoofsaaklik mielies, met koring en grondbone as wisselbougewasse.

Die Barnards kyk lank reeds nie meer na prys as R/ton nie, maar as R/ha. Hulle is ook terdeë bewus van die uitdagings wat landbou in Suid-Afrika inhou, maar voel dat dit elke produsent se keuse is om dit met ‘n positiewe of negatiewe gesindheid te benader. Hulle deelname aan en lidmaatskap van Graan SA strek reeds sedert die SAMPI- en NAMPO-eras en volgens hulle kan hulle nie dink dat ‘n graanprodusent sonder ‘n bedryfsorganisasie kan voortbestaan nie.

Hierdie Graanprodusent van die Jaar-toekenning sal sy plek langs menige ander toekennings, wat insluit Monsanto se Mielieman van die Jaar, op hul muur inneem. Syngenta beloon die Graanprodusent van die Jaar-wenner en sy eggenote met ‘n sewe dae vakansietoer na Switserland. Dit sluit ook ‘n besoek aan Syngenta se hoofkantoor in Basel en die navorsingstasie in Stein in.

image

Wees goed vir jou seuns

Pa Koos het sy aanvaardingstoespraak begin deur ‘n gedeelte uit Psalm 115 aan te haal. Dit is ook die gedeelte wat gelees is toe die beoordelingspan van die kompetisie op hul plaas was. “Sonder die Here se seën is dit vir my en my seuns onmoontlik om prestasies soos dié van vanaand te bereik,” het hy gesê.

Hy het al die belanghebbendes in die landbousektor, wat landbou- en saadmaatskappye insluit, bedank vir alles wat hulle vir die graanprodusente doen. “Sonder julle sal ons nie opbrengste behaal wat ons doen nie. Ek wil in die besonder ook vir Jannie de Villiers, Neels Ferreira asook hul span, uit ons harte uit dankie sê – ons sien julle harde werk raak.”

Koos gesels met lof oor sy drie seuns. “Julle is hardwerkende manne – manne wat self die stroper, spuit en trekker ry. Ek weet nie hoe om vir julle dankie te sê nie. My oorlede pa het altyd gesê: ‘Wees goed vir jou seuns en hulle sal goed wees vir jou’.”

Publication: October 2011

Section: Other Articles

Search