• Login
  • Search Icon

Veterinere dienste in die elektroniese era

March 2016

DANIE ODENDAAL, direkteur: Veeartsnetwerk

Graanprodusente het reuse verbeterings gemaak in die opbrengs en doeltreffendheid van graanproduksie oor die afgelope 30 jaar. Die veebedrywe het ook verbeter, maar daar was nie só ‘n groot tegnologiese vordering soos in die graanbedryf nie.

Een van die hoofoorsake is die feit dat produsente nog steeds baie vrektes as gevolg van veesiektes het. Deur die elektroniese netwerk en sosiale media aan te wend, kan hierdie probleem redelik bestuur word.

Onder leiding van die Veeartsnetwerk is daar in die afgelope drie jaar baie vordering gemaak met die monitering van die voorkoms van veesiektes op ‘n nasionale basis – wat nou die geleentheid bied vir die daarstel van ‘n vroeë-waarskuwingstelseldiens wat deur veeartse gelewer kan word.

Siekterapportering deur veeartse

Siektes kom nie as geïsoleerde of losstaande gevalle voor nie. Dit volg baie spesifieke patrone wat verskil van seisoen tot seisoen en van distrik tot distrik. Om die belang van spesifieke siektes te verstaan, moet dit visueel voorgestel word om ‘n geheelbeeld van die omvang van die probleem te kan skep.

Tot baie onlangs was dit nie moontlik om ‘n vinnige oorsig te kry oor die belang van individuele siekteprobleme in die land nie. Met die totstandkoming van siekterapportering deur veeartse wat lede is van die Herkouer Veearts Vereniging, het die prentjie verander. Nou, met die toewyding van meer as 130 veeartspraktyke wat reg deur die land versprei is en wat elke maand rapporteer, kan daar ‘n maklik- verstaanbare geheelbeeld van enige siekte geskep word soos in Figuur 1. Hierdie is net ‘n beperkte voorbeeld vir een siekte en net vir die Vry staat. Wat wel nou beskikbaar is, is só ‘n oorsig vir elke siekte en elke distrik waar daar ‘n veearts is wat maandeliks rapporteer.

Veterinere dienste in die elektroniese era

Daar is nou ook van elektroniese tegnologie en sosiale media gebruik gemaak om ‘n toepassing te skep waartydens enige siekteuitbreke of individuele gevalle dadelik per selfoon gerapporteer kan word. Die inligting word dan ook onmiddellik by die distrik bygevoeg (Hoopstad word in die voorbeeld gebruik) asook die nasionale siekteoorsig (Figuur 2).

Veterinere dienste in die elektroniese era

In die voorbeeld waar knopvelsiekte in die Hoopstad-distrik as voorbeeld gebruik is, kan daar ook nou gesien word dat daar ‘n paar maande gelede ook ‘n groot uitbreek van knopvelsiekte was.

Vroeë-waarskuwingstelsel

Sodra ‘n siekte gerapporteer is, kan die ratte van die vroeë-waarskuwingstelseldiens in werking gestel word en kan die nodige aksies geneem word.

Aksies wat geneem word met die uitbreek van knopvelsiekte in ‘n spesifieke distrik is byvoorbeeld:

  • Verwittig alle beesprodusente in die distrik wat op die databasis van die veearts is deur die elektroniese Veeartsnetwerkstelsel.
  • Gee besonderhede van die bestellingsprosedure vir entstof deur asook die afsnydatum vir bestellings (gewoonlik twee dae).
  • Volg een dag later per telefoon of SMS op.
  • Bestel entstof vir afhaal deur beesprodusente by die veearts se praktyk.
  • Ent mees vatbare diere dadelik en gee skraagdosis vir diere wat voorheen geënt was.

Opsomming

Die elektroniese stelsel wat deur Veeartsnetwerk gedurende die afgelope drie jaar daargestel is, maak die beskikbaarheid van ‘n praktiese siekteoorsig vir elke siekte en vir elke distrik nou moontlik.

Hierdie inligting kan nou aangewend word vir die voorsiening van ‘n maandelikse herinneringstelsel sodat tydige inenting of siektevoor komingsaksies uitgevoer kan word – wat baie belangrik is vir saaiprodusente waar die tyd wat aan vee bestee kan word, beperk is.

In die uiterste gevalle kan die elektroniese stelsel ook dien as vroeë waarskuwing in die geval van uitbreke waar daar vinnige en gekoördineerde aksies geneem moet word om vrektes of groot verliese te voorkom.

Saaiprodusente kan direk met hulle plaaslike veearts skakel om uit te vind hoe hulle kan deelneem of baat vind by die sisteem in hulle spesifieke distrik.

Publication: March 2016

Section: Focus on

Search