• Login
  • Search Icon

Verwagte klimaat vir die lente en somer

September 2018

COBUS OLIVIER, wetenskaplike: Voorspellingsnavorsing, Suid-Afrikaanse Weerdiens

Soos wat die winter einde se kant toe staan, verskuif ons fokus na die verwagtinge vir die somerreënvalgebiede. Terwyl einde-wintervoorspellings vir die winterreënval­gebiede nog steeds onseker is, is daar tekens dat daar bonormale reën vir gedeeltes van KwaZulu-Natal, Oos-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes Provinsie en Limpopo gedurende laat lente (Oktober, November en Desember) (Figuur 1, middel) verwag kan word. 

Die reënvaltotale begin ook gedurende hierdie seisoen – veral in die oostelike gedeeltes van die land (Figuur 1) – optel. Bonormale maksimumtemperature word regoor die land verwag en daar word verwag dat dit ‘n beduidende impak gaan hê, aangesien maksimumtemperature gedurende hierdie seisoen drasties begin toeneem (Figuur 2). 

Daar word verwag dat ‘n hoër frekwensie van hittegolwe kan voorkom as gevolg van die voorspelde warmer omstandighede – wat ‘n groot risiko vir landbou kan inhou.

Ongelukkig is die huidige verwagtinge vir die middel en laat somerseisoen (Desember, Januarie en Februarie en Januarie, Februarie en Maart) nie goed nie. Met die voorspelde aankoms van ‘n El Niño-fase gedurende die somerperiode, is die aanvanklike verwagting ‘n droër en warmer somerseisoen. 

Voorspellings strek op hierdie oomblik nog nie ver genoeg vir enige sekerheid oor die impak van die voorspelde El Niño (Figuur 3) nie, maar die publiek en veral die landbousektor, word aangeraai om sover moontlik voorsorg te tref sou daar ‘n tipiese impak van droër en warmer omstandighede gedurende die somer voorkom. 

Tans is die verwagting nie dat die impak so erg sal wees soos gedurende die 2015/2016-periode nie, aangesien die damvlakke vir die somerreënvalgebiede redelik hoog is vergeleke met die lae vlakke in 2015, alhoewel daar wel ‘n beduidende impak op reën-gevoede landbou kan wees.

Publication: September 2018

Section: Relevant

Search