• Login
  • Search Icon

Van toeka tot nou: Dié verbintenis bly sterk staan

March 2018

LOUISE KUNZ, SA Graan/Grain redaksiespan

“Ons is vandag hier om die verlede met die toekoms te trou,” het mnr Pieter Smit, bemarkingsbestuurder, Monsanto SA, gesê tydens ‘n geleentheid waar die opgedateerde Dekalb-handelsmerk en Dekalb SA se nuwe webtuiste, www.dekalb.co.za, bekend gestel is. 

Op 14 November verlede jaar het Monsanto se personeel, sleutelkliënte, bedryfsvennote en die media by Vintage Yard in die Parys-omgewing ‘n reis van toeka tot nou meegemaak om dié geskiedkundige oomblik van die Dekalb-handelsmerk te vier. Die funksie het met boeresport afgeskop, waarna die Afrikaanse sanger, Mathys Roets, as motiveringspreker opgetree en gaste aangemoedig het om verandering te omhels. Daarna het die Monsanto span die geheime aap uit die mou gelaat.

Klein verandering, groot verbintenis
Dekalb se bekende gevleuelde mieliekop-handelsmerk, wat sedert 2005 in Suid-Afrika in gebruik is, het oor die jare sinoniem geword met hoë kwaliteit saad en hoëprestasie mieliebasters. Dit is in 1936 vir die eerste keer in gedrukte advertensies gebruik as belofte van beter saad wat groter wins tot gevolg kan hê en finansiële las kan verminder.

Smit het verduidelik dat die Dekalb-logo – die mielie met vlerke – simbolies is van Dekalb se historiese doel om landbou vorentoe en produksievlakke hoër te neem. Hy het vertel dat die eerste mieliebaster bekend gestaan het as die “verbandligter”, aangesien dit ‘n beduidende impak op die finansiële welstand van produsente gehad het. Die gevleuelde mieliekop dui dus op die verligting wat dié baster gebring het. 

In die nuwe handelsmerk maak die soliede mielie plek vir een met pitte. Hierdie verandering, tesame met die bekende slagspreuk, Plant jou sukses, dui op Monsanto se verbintenis tot die voortgesette lewering van gehalte mieliebastersaad. 

Suid-Afrika neem die voortou
Die ander opwindende nuus wat dié dag gedeel is, is die bekendstelling van die splinternuwe webwerf, www.dekalb.co.za. Volgens me Landi Stoltz, handelsmerkbestuurder, Monsanto SA, is dit die eerste Dekalb-webwerf in die wêreld wat van stapel gestuur word. 

Dit gaan as ‘n eenstopplatform vir Dekalb-kliënte in Suid-Afrika dien. Die webwerf deel tegniese inligting en agronomiese hulpbronne met gebruikers en kan ‘n bydrae lewer om produsente se vrae te beantwoord. Inligting oor opkomende gebeure kan op die kalender gesoek word.

Boek
Gaste het elk ‘n eksemplaar van die nuwe boek, Agronomiese oplossings, deur mnr Leonard Oberholzer, tegniese ontwikkelingsbestuurder: Monsanto SA en die Monsanto SA tegniese span, ontvang. Oberholzer het gesê hulle vertrou dat hierdie hulpbron, wat ‘n wye verskeidenheid tegniese inligting insluit, een is wat die produsent nooit in die steek sal laat nie. 

“Vir ons span is hierdie ‘n droom wat waar geword het,” het hy bygevoeg.

Die laaste sê
Mnr Kobus Steenekamp, besturende direkteur, Monsanto SA, het beklemtoon dat die Dekalb-handelsmerk op drie pilare staan: Innovasie, kliënteskakeling en prestasie. Alhoewel die vooruitsigte in landbou mag verander, sal hierdie pilare sterk bly staan.

 

Publication: March 2018

Section: Relevant

Search