• Login
  • Search Icon

VAN TOE TOT NOU... Graan SA-lede is topprioriteit

April 2016

Alzena Gomes, skakelbeampte: Graan SA

VAN TOE TOT NOU... Graan SA-lede is topprioriteitNie eers met die verskuiwing van die Graan SAledelokaal twee jaar terug het die opgewondenheid met die opbou na die Graan SA NAMPO Oesdag só sterk geheers nie! En met dié dat ons Graan SA se NAMPO Oesdag se 50ste aanbieding vier, is daar soveel te meer rede om hierdie jaar uit te sien na ‘n onvergeetlike week!

Graan SA-lede word jaarliks met trots op NAMPO Park by die eksklusiewe parkeerarea ontvang. Alle lede het gratis toegang en die gebruiklike gholfkarretjie-ritte vanaf die ledehek tot by die ledelokaal verseker dat elke lid se ervaring van die Oesdag op ‘n hartlike noot begin.

Die stomende koppie boeretroos of warm sjokolade en vroegoggend- beskuit, gee ook aan ons lede die nodige hupstoot om die koue buite aan te durf vir die groot NAMPO-staptog. Die Graan SA-ledelokaal bied verder verversings deur die dag, ‘n koel lafenis tydens die middaghitte en ‘n gemaklike rusplek vir oud en jonk, sowel as ‘n lekker kuierplek op die stoep terwyl die dag einde se kant toe begin staan – beslis dié plek om gesien te word!

Die ledelokaal sal weer voorsiening maak vir lewendige Safexskerms waar produsente op hoogte kan bly van enige verandering in die markte, met die Graan SA-ekonome byderhand om produsente met navrae by te staan.

 

Benewens die inligting wat aan produsente beskikbaar gestel sal word, kan lede ook uitsien na ‘n eenstopdiens met personeel byderhand om hul van hulp te wees. Verder bied die ledelokaal ook aan Graan SA-hoofbestuur en -personeel die geleentheid om ons lede van nader te leer ken. Ter viering van NAMPO se 50ste aanbieding, bied ons jou ‘n interessante kykie op die gebeure van toe tot nou – en met dié tema (wat ook in die Graan SA-uitstalling uitgebeeld sal word) nooi ons jou om die besondere mylpaal saam met ons te vier.

Die gewilde Nasie in Gesprek-aanbieding, nou in sy vierde jaar, beloof hierdie jaar om weer eens, onder leiding van die ekonoom mnr Theo Vorster, ‘n platform aan landbourolspelers en -leiers te bied om op ‘n enkele platform landbousake van nasionale belang te bespreek, te debatteer en konstruktief te benader en sodoende die volhoubaarheid van landbou in Suid-Afrika te bevorder.

Graan SA-lede kan beide die Afrikaanse gesprek in die oggend en Engelse gesprek in die middag regstreeks vanuit die ge rief van die ledelokaal volg. Dié Senwes-inisiatief word op kykNET uitgesaai en die vennootskap bied die bykomende geleentheid aan Graan SA om bewustheid te skep van die noodsaaklikheid van ons graanprodusente se aktiwiteite om voedselsekerheid in ons land te verseker.

Die 2016 NAMPO Oesdag gaan alle verwagtinge oortref en bied aan ons lede die ideale plek om met landbourolspelers en verskaffers te netwerk, vriendskapsbande uit te brei en selfs, te midde van die knellende droogte, die aanbiedinge van die grootste landboutentoonstelling in die Suidelike Halfrond te kom geniet.

Graan SA-lede sal per e-pos toegangreëlings ontvang en ons sien daarna uit om elke lid in die Graan SA-ledelokaal te verwelkom.

Publication: April 2016

Section: NAMPO

Search