• Login
  • Search Icon

Uitblinkers in die Instituut se hawerteeltprogram

March 2015

PETRUS DELPORT (Stellenbosch) en ANDRÉ MALAN (Bethlehem), LNR-Kleingraaninstituut, 'n Instituut van die LNR-Veldgewasdivisie

Die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) se hawerkultivars was weer eens die toppresteerders in die Wes- Kaap die afgelope seisoen volgens data verkry vanaf die Nasionale Hawerkultivarevalueringsprogram. In die Rûens was die bekende Towerberg die top presteerder met ‘n opbrengs van 3,45 ton/ha, gevolg deur Kompasberg met 3,28 ton/ha en Simons berg met 3,06 ton/ha.

Drie nuwe lyne is ook geëvalueer, naamlik H13/07, H13/09 en H1310. Dié inskrywings se opbrengste het gewissel vanaf 2,26 ton/ha tot 2,71 ton/ha. Hierdie lyne het uitstekende siekteweerstand asook goeie opbrengs en hektolitermassas.

In die Swartland het die nuwe lyne baie goed gedoen. Kompasberg was die voor loper met 5,25 ton/ha gevolg deur H13/10 met 4,52 ton/ha en dan H13/09 met 4,35 ton/ha. Simonsberg, Towerberg en H13/07 het almal so ‘n rapsie oor die 4 ton/ha geproduseer.

Die hektolitermassadata is van ongesifte saad soos dit van die proefpersele geoes is. In die Rûens was Towerberg die toppresteerder met 51,75 kg/hl, Kompasberg was tweede met 51,45 kg/hl en H13/09 was derde met 51,25 kg/hl. In die Swartland het die nuwe lyne heelwat beter as die be staande kultivars gedoen. H13/10 het ‘n hektolitermassa van 50,35 kg/hl gehad en H13/09, 49,95 kg/hl; Simons berg was derde met 48,65 kg/hl. Die hawerseleksieprogram van die LNR-KGI bestaan uit ingevoerde materiaal van verskeie internasionale bronne. Materiaal word as segregerende materiaal van F2 tot F5 asook suiwertelende materiaal ontvang. Hierdie materiaal gaan deur verskeie fases van evaluering en word in die Wes-Kaap, Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes Provinsie aangeplant.

imageAanvanklik word die materiaal vir drie jaar as enkelrye geplant om suiwer materiaal te genereer en dan later as persele en stroke om opbrengs en agronomiese data te verkry. Die gesegregeerde materiaal word dieselfde hanteer as enige vroeë generasiemateriaal van ‘n kruisingsprojek. Spesifieke aandag word gegee aan siekteverdraagsaamheid/weerstand, omgewings aanpasbaarheid, opbrengs en hektolitermassa.

Ons is tans baie opgewonde oor die nuwe lyne wat deurkom en hoop om binnekort weer ‘n nuwe hawerkultivar vry te stel. Enige navrae kan gerig word aan Petrus Delport by 021 809 3552 of delportp@arc.agric.za.

imageimage

imageimage

 

Hierdie navorsing is moontlik gemaak deur befondsing van die Wintergraantrust.

Publication: March 2015

Section: Focus on

Search