• Login
  • Search Icon

Twee nuwelinge getoets in koringkultivarevaluering in die Wes-Kaap

March 2015

WILLEM KILLIAN (BETHLEHEM), ERNEST DUBE (BETHLEHEM) en HENZEL SAUL (STELLENBOSCH), LNR-Kleingraaninstituut

Twee kultivars is in die 2014-seisoen in die Wes-Kaap vir die eerste keer in die Nasionale Kultivarevalueringsprogram in verskillende omgewings getoets. Die kultivars is onderskeidelik deur Sensako (SST 0127) en Pannar (PAN 3515) ingeskryf. Die nuwelinge is in die proewe ingesluit saam met twaalf meer bekende kultivars in die sewe substreke van die winterreënvalstreek.

Opbrengste was in die 2014-seisoen laer as in die vorige seisoen, hoofsaaklik as gevolg van droër tydperke gedurende Augustus en September. In die Swartland was die gemiddelde opbrengs 4,03 ton/ha teenoor die 4,77 ton/ha in die 2013-seisoen. In die Rûens is ‘n gemiddelde opbrengs van 3,10 ton/ha in die proewe behaal, wat 0,56 ton/ha laer is as die gemiddelde 3,66 ton/ha in 2013.

Die opbrengste hierbo word mooi in perspektief gestel as die laaste dekade (2005 tot 2014) se resultate van naderby beskou word (Grafiek 1). Die tienjaar-gemiddeld vir die Swartland is 3,91 ton/ha en vir die Rûens was die syfer 3,44 ton/ha. As hierdie syfers dan die “gemiddeld” weerspieël, was 2014 in die Swartland effens bogemiddeld, terwyl die Rûens marginaal swakker daaraan toe was. Dit is ook duidelik dat produksie redelik stabiel was oor die tydperk, met die laagste opbrengste wat gedurende 2010 in beide produksiegebiede behaal is (3,11 ton/ha in die Swartland en 2,63 ton/ha in die Rûens).

Al die resultate in die grafiek hierbo asook die kultivarprestasie vir 2014 hieronder, is in ‘n gesamentlike aksie deur die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in die Wes-Kaap uitgevoer. Die gesamentlike resultate word jaarliks deur die Nasionale Kultivarevalueringswerkgroep goedgekeur. Hierdie byeenkoms het vanjaar op 12 Februarie 2015 plaasgevind en die aanbevelingslys vir die Wes-Kaap is ook bevestig deur die Werkgroep.

Produsente word deurentyd aangeraai om nuwe kultivars in te faseer en ook om die opbrengsstabiliteit van kultivars in ag te neem. Vir hierdie doel word die driejaar-gemiddelde opbrengsyfer ook aangedui, wat ‘n direkte meting van stabiliteit oor vele lokaliteite weerspieël.

Opbrengsresultate

Swartland
Die 14 kultivars se onderskeie bydraes tot die gemiddelde opbrengs van 4,03 ton/ha vir die 2014-seisoen, word in Grafiek 2 aangedui. In hierdie reeks veldproewe het SST 0127 die beste opbrengs gerealiseer (4,24 ton/ha), gevolg deur SST 087, SST 027 en PAN 3408. Laasgenoemde drie kultivars het nie statisties betekenisvol van SST 0127 verskil nie.

imageimage

Die driejaar-data van 2012 tot 2014 dui op ‘n goeie gemiddelde opbrengs van 4,28 ton/ha (Grafiek 3). Uit ‘n produsente-oogpunt is dit goeie nuus dat die boonste vyf kultivars, waarvan vier kommersieel beskikbaar is, nie statisties van mekaar verskil het nie. Dit beteken dat enige van hierdie vier, naamlik SST 087, PAN 3408, SST 015 en SST 056, met vertroue aanbeveel kan word.

Rûens
Die opbrengsprestasie van alle kultivars in die Rûens vir die 2014-seisoen word in Grafiek 4 weergegee. Die gemiddelde opbrengs oor kultivars en lokaliteite was 3,10 ton/ha, in vergelyking met 3,66 ton/ha in die 2013-seisoen. Ook in hierdie gebied het die nuwe insluiting, SST 0127, met 3,61 ton/ha, ‘n betekenisvol hoër opbrengs as die ander inskrywings gehad. Die volgende groep van ses kultivars, van SST 087 tot en met SST 047, het nie onderling statisties betekenisvol van mekaar verskil nie.

imageimage

 

imageDie gemiddelde opbrengs in die Rûens vir die driejaar-tydperk 2012 tot 2014, was 3,57 ton/ha vir die twaalf kultivars oor alle jare en omgewings behaal (Grafiek 5). Die kultivar wat in die gebied uitstaan is SST 087, met ‘n gemiddelde opbrengs van 3,98 ton/ha oor die driejaar-tydperk. SST 087 het ‘n statisties betekenisvolle hoër opbrengs gehad as al die ander kultivars. Die volgende drie kultivars, SST 056, Ratel en PAN3471, het nie statisties van mekaar verskil nie.

Die kultivardata in die Wes-Kaap word ook afsonderlik vir die substreke in die Swartland en Rûens verwerk om meer spesifieke data vir elke gebied te kan weergee. Hierdie inligting is beskikbaar in die Produksiehandleiding wat gedurende Maart 2015 aan produsente gepos is.

Ander belangrike kultivareienskappe

Uit die oogpunt van die kultivarevalueringspan is dit duidelik dat daar vir die Wes-Kaap ‘n hele handvol kultivars beskikbaar is wat goeie opbrengste kan lewer indien ander beperkings, soos onder andere klimaat en siektes, nie ‘n rol speel nie.

In die karakterisering van kultivars word belangrike bydraes gemaak deur verskeie kundigheidsgroepe, wat die teelmaatskappye, die LNR-KGI en die Universiteit van die Vrystaat insluit. Hierdie bydraes word saamgevat in Tabelle 1 en 2 hieronder en bevat belangrike inligting wat gebruik kan word in die samestelling van ‘n kultivarpakket wat omgewingspesifiek is.

imageimage

Aanbevelings

Tydens die vergadering van die Nasionale Kultivarevalueringswerkgroep is die kultivars wat in elke spesifieke gebied aanbeveel word, ook gefinaliseer. Daar is geen veranderings aangebring in die aanbevelingslys vir die 2015-seisoen nie.

Die navorsing is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning
van die Wintergraantrust en die Landbounavorsingsraad.

Publication: March 2015

Section: Annexe

Search