• Login
  • Search Icon

Troef geelroes met genetiese weerstand

March 2013

— Koonap en Senqu; nuwe droëlandkoringkultivars vir die Oos-Vrystaat met gasheerplantweerstand teen geelroes

 

ROBBIE LINDEQUE EN TAREKEGN TEREFE, LNRKLEINGRAANINSTITUUT, BETHLEHEM

Lae koringaanplantings in die somerreënvalgebied sal moontlik as een van die hoofkenmerke van die 2012-koringproduksieseisoen beskou word. Hierdie periode mag egter ook heel moontlik die waterskeiding wees.

Die oorsprong van die Engelse gesegde “necessity is the mother of invention” word aan Plato toegeskryf en dié wyse ou man sou waarskynlik koringprodusente aangemoedig het om met innoverende idees potensiële geleenthede wat wel bestaan, te ontsluit. Vrystelling van nuwe droëlandkoringkultivars vir die somerreënvalgebied klink op die oog af dus oorbodig, maar gaan instrumenteel wees om hierdie geleenthede met vernuf te benut.

Koonap en Senqu is twee nuwe droëlandkoringkultivars wat deur die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) ontwikkel en in 2011 vrygestel is. Vroeë aanduidings is dat Senqu meer neig na ‘n wintertipe groeiperiode en Koonap ‘n fakultatiewe (intermediêre) groeiperiode.

Insluiting in die Nasionale Koringkultivar-proewe sal weldra aanpassing van hierdie twee kultivars duidelik uitlig. Voor- en nadele van lang groeiperiode wintertipes teenoor kort groeiperiode fakultatiewe koringtipes, is ‘n debat wat net so lank in die land is as wat koring hier geproduseer word.

Huidige klimaatstendense dui op later lente en somerreëns as in die verlede en swaai die voordeel in fakultatiewe kultivars se guns…of nie. Belangrik is wel dat blootstelling aan nat en koeler toestande tydens later aanplantings van droëlandkoring, siekteweerstand teen veral geelroes (Puccinia striiformis, var. f.sp. tritici) noodsaak.

Geelroes is ‘n bekende roessiekte op koring in die Oos-Vrystaat en het juis in die 2012- seisoen algemeen in kommersiële aanplantings voorgekom. Die eerste aangetekende voorkoms was in 1996 in Wes-Kaapse koringproduksiegebiede en het in minder as vier jaar na al die koringproduksiegebiede van Suid-Afrika versprei, insluitend die Vrystaat. Effektiewe genetiese weerstand teen geelroes word tans beskou as ‘n baie belangrike doelwit in die ontwikkeling van winter- en intermediêre kultivars by die LNR-KGI.

Die chemiese beheer van hierdie siekte is wel effektief, veral in ‘n spuitplan waarin voorkomende beheer toegepas word. Hierdie aksie is egter peperduur omdat doeltreffendheid gaan vereis dat meer as een bespuiting toegedien word, wat weer produksiekoste opjaag. Die boeregesegde “opbrengs is koning” mag verkeerdelik sinspeel dat alleenlik opbrengs bydra tot die winsgewendheid van ‘n kultivar. Hektoliter-massa, bakkwaliteit asook genetiese weerstand teen peste en plae, is egter van gelyke belang.

Koringtelers en -patoloë by die LNR-KGI gebruik reeds vir ‘n hele aantal seisoene ‘n effektiewe seleksiesisteem ten einde weerstandbiedende kultivars te ontwikkel. Saailingweerstand van potensiële kultivars word onder glashuistoestande teen die heersende geelroesrasse getoets. Volwasse plant weerstand word dan bepaal deur hierdie potensiële kultivars in gebiede met ‘n hoë frekwensie vir geelroesinfeksie vir evaluasie aan te plant. Hierdie tegniek het oor die jare bygedra tot die identifisering van effektiewe weerstand in kultivars asook die ontwikkeling van kiemplasma wat dien as weerstandsbron teen geelroes.

Een van die belangrike weerstandsgene wat tans in LNR-KGI kiemplasma teenwoordig is en waarskynlik bydra tot geelroesweerstand in beide Koonap en Senqu, is die Yr15-geen. Hierdie geen is effektief dwarsdeur alle groeifases van koring en bied weerstand teen alle geelroesrasse wat tans in Suid-Afrika voorkom.

Koonap het in die afgelope 2012-seisoen hoë weerstandsvlakke teen geelroes getoon, ten spyte daarvan dat die vatbare koringkontrole tussen 70% - 100% besmetting gehad het. ‘n Baie belangrike feit is egter dat Yr15 ‘n rasspesifieke, enkelweerstandsgeen is, wat in kombinasie met komplementêre weerstandsgene aangewend behoort te word om te voorkom dat weerstand verbrokkel indien ‘n kultivar aan nuwe roesrasse blootgestel word.

Tans is die internasionale tendens in koringteelprogramme juis om enkelgeenweerstand met poligeniese roesweerstand (meer as een geen verantwoordelik vir volwasse plantweerstand) in ‘n kultivar te kombineer. Weerstand teen geelroes behoort dus in die lang termyn meer stabiel en effektief teen bestaande asook moontlike nuwe roesrasse te wees.

Die LNR-KGI is besig om dieselfde strategie te implementeer deur huidige fenotipiese evaluasies vir weerstand te kombineer met DNA-merkertegnologie roesweerstandsgene. Ontwikkelingstyd asook akkuraatheid van weerstandseleksie sal hierdeur verhoog word, aangesien merkers vir geelroesweerstandsgene Yr3, 4, 5, 9, 10, 15, 18, 24, 26, 29, 32 en 46 tans beskikbaar is.

Nuwe geelroesrasse ontstaan deur omgewingsfaktore, aanwendingspatrone van weerstandsgenetika in kommersiële kultivars asook interaksie tussen omgewing en genetika. Gasheerweerstand help die koringprodusent om risiko’s effektief te bestuur en die winsgewendheid van koring as kommoditeit in die produsent se guns te swaai.

Beide die droëlandteelprogram en geelroesmonitering word deur die Wintergraantrust befonds. Enige navrae ten opsigte van Koonap en Senqu en geelroesweerstand, kan gerig word aan dr Tarekegn Terefe by (058) 307-3440 of tarekegnt@arc.agric.za en Robbie Lindeque by (058) 307-3439 of lindequerc@arc.agric.za.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search