• Login
  • Search Icon

Trekker koop is nié perdekoop nie

August 2016

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Groot, blink en mooi word gewoonlik geassosieer met die beste, maar gelukkig is dit in die meeste gevalle glad nie waar nie. Om 'n slim besluit rakende landboumasjinerieaankope te neem, vereis heelwat meer boekwerk as wat algemeen aanvaar word.

Jy as koper moet voor die tyd vir jouself die volgende uitklaar:

Wat is my meganisasiedoelwitte?

  • Hoekom het ek die masjien nodig?
    • Is dit regtig nodig?
    • Kan ek dit nie huur of saam met iemand anders koop nie?
  • Wil ek net vervang of moet ek vervang?
  • Gaan ek meganiseer om arbeid en afhanklikheid van arbeid te verminder?
    • Dit beteken nuwe, groter trekkers en 'n reeks implemente.
    • Gereelde vervanging om brekasies in werkstyd te verminder, word vereis.
  • Gaan ek nuwe tegnologie inbring om die effektiwiteit en doeltreffendheid van die besigheid te verhoog en uiteindelik die wins gewendheid te verhoog?
  • Gegewe die nuwe verbouingstelsels en tegnologie, móét ek nuwe trekkers en toerusting aanskaf?
  • Hoe belangrik is die herverkoopwaarde van die trekker vir my?

Watter take moet hierdie masjien uitvoer en hoe lank het hy om dit te doen?

  • Primêre bewerking is baie belangrik, maar die masjien het dalk meer tyd om dit te doen en ander trekkers kan dalk ook met hierdie taak help.
  • Die plantvenster bepaal die tyd waarbinne 'n klomp van die ander take uitgevoer moet word. Die verbouing van meer as een gewas kan die plantvenster verleng.
  • Die toediening van onkruid- en plaagdoder is tydsgebonde. Maak seker dat hierdie take tydig, effektief en doeltreffend uitge voer word.
  • Die insameling van die oes kan ook tydsgebonde wees. Meer as een gewas kan egter die oesvenster verleng.

Wat is die vereistes wat aan die nuwe trekkers gestel word om die take te kan verrig?

  • Die kragbehoefte waaraan die trekker moet voldoen (kW).
  • Die hidrouliese kapasiteit van die trekker en die behoeftes van die implemente (vloei en druk).
  • Massa van die trekker (kg).
  • Die energiegebruik van die trekkerenjin (liter diesel per uur).

Hoe gaan die trekker of toerusting die effektiwiteit van die boerdery verhoog of beskerm?

  • Die beskikbaarheid van tegnici en onderdele as daar herstelwerk of dienste gedoen moet word, is krities.
  • Die gemak binne die trekker kan die drywer se effektiwiteit verhoog.
  • Beskik die trekker oor die tegnologie om presisietoerusting, soos auto steer, te kan hanteer of om die verlangde data te versamel?
  • Tot watter mate gaan die aankoop van die nuwe toerusting die effektiwiteit en doeltreffendheid van die besigheid verhoog?

Soms mag mens foutiewelik aanneem dat die kilowatt van die trekker die alfa en omega is. 'n Mens glo dat as hy net die regte hoeveelheid kilowatt het, is alles reg. Dit is ongelukkig nie die geval nie, aangesien heelwat energie verlore gaan van die oomblik af dat die enjin aangeskakel word totdat die implement beweeg. Ongeveer 10% van die enjin se krag gaan verlore as die kragaftakas (PTO) gebruik word. Dit is bloot omdat daar koppelaars is wat werk, ratte wat draai en hidrouliese pompe wat werk.

Die volgende belangrike kragmeetpunt is by die trekstang. By hierdie punt word die wielglip, trekkermassa en terrein van werk in berekening gebring. Tabel 1 verskaf handige inligting wat gebruik kan word om vinnig te bereken of 'n trekker genoeg krag sal hê om 'n implement te kan sleep.

Trekker koop is nié perdekoop nie

Uit hierdie inligting is dit duidelik dat die rusperbande die minste trekkrag verloor – ongeag die grondtoestand. Maak 'n som en besluit dan of 'n tweewiel-, vierwiel- of rusperbandtrekker gekoop moet word. Vergelyk die besparing in diesel met die ekstra koste betrokke by die aankoop van die trekker.

Dit is belangrik dat elke produsent sal bepaal hoeveel die wielglip van sy trekker per aksie is. Hoe minder die wielglip, hoe beter die effektiwiteit en hoe laer die koste. Wielglip is een faktor wat bestuur kan word.

Een manier om dit te bestuur, is om die massa en belading van die trekker aan te pas, maar soms kan die wielglip net verlaag word deur 'n kleiner implement te sleep. Hou in gedagte dat wielglip by sommige trekkerhandelsmerke en -modelle 'n manier is om die trekker te beskerm. Dit sal raadsaam wees om die trekker se handleiding te raadpleeg ten einde die optimale wielglip vir die grond en grondtoestand te bepaal.

Die trekker se hoeveelheid wiele, wiel- en bandgroottes het 'n direkte impak op dieselgebruik, wielglip en kompaksie. Hoe groter en wyer die bande is, hoe minder is die kompaksie gewoonlik. Dit kan egter ook die wielglip benadeel. Gewoonlik is die bande waarmee die trekker uitkom, die beste vir die trekker en die algemene gebruik van die trekker.

As daar van 'n spoorverkeerstelsel gebruik gemaak word, maak seker dat die nuwe toerusting by die stelsel inpas en dat die trekkers en stropers kan spoor. Andersins moet maniere bedink word om die probleem te oorkom.

Grondkompaksie behoort 'n kritiese meetpunt in enige bewerking te wees. Onthou as 'n duimreël: Hoe swaarder die trekker, hoe meer die grondkompaksie, hoe minder die wielglip. Dit maak daarom sin om die trekker se massa by die werk wat hy moet doen, aan te pas. As wielglip 'n probleem is, maak die trekker bietjie swaarder. As die werk lig is, haal die gewigte af. Die belangrikste is om die trekker optimaal te benut. Moenie 'n baie swaar trekker gebruik as 'n ligter, kleiner trekker beskikbaar is wat die werk goed kan doen nie.

Tog is dit nie altyd die geval nie. Soms het 'n mens 'n swaar trekker nodig om 'n implement of wa te kan hanteer. Dink maar aan die nuwe neiging om groot oorlaaiwaens te gebruik. Alhoewel 'n 70 kWtrekker genoeg krag het om die wa te trek, is die trekker nét te lig om die wa veilig met 'n vrag te hanteer.

In die geval van implemente wat baie hidrouliese kapasiteit en vloei benodig, soos byvoorbeeld 'n presisielugdrukplanter, sal die kleiner trekkers nie noodwendig die vermoë hê om die hoeveelheid olie te lewer nie. Die trekker kan wel sterk genoeg wees, maar kan nie die implement trek nie. Daar is verskeie maniere om die probleem te oorkom, maar neem vooraf kennis dat dit ekstra geld gaan kos.

Sommige implemente benodig aandrywing vanaf die kragaftakas. Krag wat só gebruik word, moet by die drywingvereiste van die implement getel word. Die trekker kan sterk genoeg wees om die planter te trek, maar sodra die kragaftakas ingeskakel word, is daar net nie genoeg krag nie. 'n Goeie voorbeeld is waar 'n lugdrukplanter deur 'n kleinerige trekker getrek word. Die trekker is sterk genoeg om die planter te trek, maar sodra die kragaftakas ook gebruik word, is die trekker se "asem" te min.

Land-effektiwiteit is 'n ander faktor wat baie keer oor die hoof gesien word. Sorg dat die tyd wat die trekker neem om by die land se punt te draai, geminimaliseer word. Dit sal die effektiwiteit van die trekker laat toeneem. Bepaal die bewerkingsrigting – indien moontlik – só dat die langste ritte gery word.

Dit sal daartoe aanleiding gee dat die aantal hektare bewerk per dag sal toeneem en daarmee saam die effektiewe aanwending van beide diesel en kapitaal. As kleiner trekkers met 'n baie groot trekker vervang word, kan werk in klein landjies 'n probleem wees.

As daar besluit is om die ou trekker met 'n nuwe te vervang, is dit 'n goeie praktyk om die nuwe trekker op die plaas te toets. Maak seker jy weet wat die ou trekker se dieselgebruik vir 'n spesifieke aksie is en toets die nuwe trekker om seker te maak dat hy wel ligter is as die ou trekker. As die nuwe trekker ligter op dieselgebruik is, sal dit sin maak om die ou trekker te vervang. Die besparing op dieselgebruik kan die paaiement help betaal.

Daar is baie inligting rakende sekere trekkers beskikbaar. Besoek gerus die Nebraska Universiteit se trekkertoetslaboratorium aanlyn om volledige toetsverslae van die meeste trekkers te verkry. Hierdie toetse kan gebruik word om verskillende trekkers mee te vergelyk.

Een van die belangrikste punte wat oorweeg moet word, is of die boerdery se winsgewendheid die nuwe trekker kan bekostig. Maak voorsiening deur die hele kontantstroom te ontleed, gebruik die belastingvoordele om die trekker so vinnig moontlik te betaal en bepaal die risiko wat die boerdery moet dra.

Dit is belangrik om te weet of die trekker of toerusting die winsgewendheid van die boerdery gaan verhoog. As die antwoord ja is, koop die trekker met 'n geruste hart. Anders is dit beter om nog eers 'n bietjie daaroor te dink.

Vir meer inligting en hulp met die besluit oor trekker- en landboumasjinerie- aankope, kontak Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: August 2016

Section: Focus on

Search