• Login
  • Search Icon

Tafeltennis op sy beste

March 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek het die afgelope klompie maande ‘n interessante verskynsel beleef: Daar het op ‘n gereelde basis iets sommer baie positiefs met my persoonlik of met Graan SA gebeur om maar net weer in ‘n baie kort oomblik gevolg te word deur iets slegs aan die teenoorgestelde pool van die lewe.

Dit is soos tafeltennis. Die verskynsel van vreugdediewe is nie vir my iets onbekends nie, maar die absolute tydsberekening daarvan en die hoë vlak van intensiteit was beslis anders. My emosionele grense van op en af was erg getoets. Een dag word prominente, lojale ondersteuners van Graan SA sommer ‘n opponent en die volgende dag kom daar 'n kompliment vanuit ‘n geweste wat jy nooit verwag het nie. Ons beleef groot deurbrake met sake waarmee ons al jare stoei, om maar net weer die volgende dag ‘n nuwe berg te ontdek wat ons moet oor.

Dit is seker hoe ‘n weermark ook werk. As daar ‘n kans vir reën is, daal pryse in oormaat en as dit nie goed lyk nie, klim dit sommer baie. Uiterstes is natuurlik ‘n wonderlike teelaarde vir konflik, spanning en misverstande. Dit is in sulke tye wat jou karakter getoets en gebou word.

Een van my mentors het dit jare gelede aan my uitgewys dat 'n mens maar min leierskap nodig het as alles vlot gaan, maar dat dit in die moeilike tye is wat jy dit nodig het – dan is selfbeheersing, geduld en geloof van die vakke wat jy sal moet slaag om na die volgende vlak te kan beweeg. Daar is ‘n gesegde wat sê dat as die studente eksamen skryf, is die professore en lektore doodstil. Dit is juis in dié stilte wat ons as organisasie onsself nou bevind.

Ons leierskapvergaderings is baie intens, ernstig en beslis rigtinggewend vir die toekoms. Die span leiers is toegewyd aan die saak van die graanprodusent en hulle pak die sake met groot erns aan. Die organisasie is baie gelukkig om sulke manne en vroue aan die stuur van sake te hê. Hulle maak klokslag die kopskuif om van plaasvlak na nasionale probleme oor te skuif.

Die hoofbestuur van Graan SA het vroeg in Februarie vergader en alhoewel die inhoudelike van die vergadering baie goed was, was die gemoedstemming glad nie lekker nie. Die somergrane was besig om te verdroog en alle moontlike lewe in die plante (en hulle eienaars) was vinnig besig om te kwyn. Daar is selfs uitgewys dat die huidige regering nog nie ‘n algemene droogte beleef het sedert hulle aan bewind gekom het nie. Dit het ‘n hele waterval van emosies losgemaak.

Eskom gaan alreeds ver uit hulle pad om die ekonomie te sink en 'n droogte met rampspoedige gevolge vir die landbou en platteland gaan regtig ‘n moeilike kombinasie wees. Die tweede helfte van Februarie gaan beslissend wees. Dit bly maar moeilik om te keer dat ‘n mens se gedagtes met jou op hol gaan. Ons enigste rem in dié geval is ons geloof: Ons krag lê egter in stil wees en vertroue!

Dit is in hierdie tye van tafeltennis-emosies wat ons ankers moet hê om ons deur te dra – hierdie ankers is ons geloof en manne en vroue wat al menigmaal deur hierdie prosesse gegaan het. Sterkte!

Publication: March 2015

Section: Features

Search