• Login
  • Search Icon

SY BESTE TOEKENNING NÓG

November 2016

RUTH SCHULTZ, SA Graan/Grain contributor and HELENUS KRUGER, photos

SY BESTE TOEKENNING NÓG“Ek ontvang hierdie toekenning vanaand in nederigheid. Om ‘n toekenning vanuit die akademie te ontvang is goed, maar om ‘n toekenning vanuit die bedryf te ontvang, is selfs beter – dit is die beste!”

Só het prof Zakkie Pretorius, wat onlangs afgetree het by die Departement van Plantwetenskap van die Universiteit van die Vrystaat, in sy bedankingstoespraak gesê.

Mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) het ‘n paar hoogtepunte van prof Pretorius se loopbaan uitgelig voordat dié toekenning deur mnr Andries Theron (visevoorsitter: Graan SA) aan hom oorhandig is.

“‘n Groot deel van sy loopbaan het hy op die navorsing van koringroes spandeer. In 1982 het hy die sentrale roeslaboratorium in Minnesota in Amerika besoek om meer kennis op te doen met die oog daarop om te bepaal hoe dié probleem in Suid-Afrika hanteer moes word, omdat daar op daardie stadium ‘n gebrek aan ervaring in hierdie onderwerp in Suid-Afrika was. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy ‘n laboratorium en infrastruktuur op Bethlehem gevestig.

Sy oorspronklike navorsing het op blaarroes gefokus, maar later het hy op streep- en stamroes begin konsentreer. Oor die jare het sy navorsing, wat in die meeste gevalle saam met ‘n ekstensiewe netwerk van spesialiste en kollegas gedoen is, ‘n verskeidenheid van onderwerpe ingesluit – van roes-identifikasie, die ontdekking van nuwe weerstandgene tot geenkartering. Sy huidige navorsing is toegespits op hulpmiddels wat sal help om die veelvuldige gene vir roesweerstand in kultivars te kombineer en te bewys,” het De Villiers gesê.

Hy het prof Pretorius bedank vir al die ure wat hy in die glashuise deurgebring het en die studente wat hy voorberei het vir die graanbedryf. “Jy het ons geïnspireer met jou toewyding en ons geleer om aan dié dinge wat die graanbedryf verhoed om vorentoe te beweeg, te werk,” het De Villiers afgesluit.

Prof Pretorius sê hy werk al byna vir 40 jaar in die graanbedryf. “In alle nederigheid kan ek julle verseker dat die werk wat ons in Suid-Afrika doen met die beste in die wêreld kompeteer,” het hy bygevoeg. “Hierdie toekenning is my nasionale kleure in graannavorsing; dit is my Proteakleure. Ek dra hierdie toekenning op aan al die produsente in die wêreld. Julle is baie braaf en innoverend,” het hy afgesluit.

Publication: November 2016

Section: Grain SA

Search