• Login
  • Search Icon

Superslim toerusting is aan die voorpunt van kommunikasie

February 2015

ELMARIE HELBERG, SA Graan/Grain medewerker

imageJohn Deere is ongetwyfeld ‘n mark leier wat tegnologie in landboutoerusting betref. Om dit ten toon te stel, het Senwes Village Meganisasie op 8 en 9 Oktober verlede jaar ‘n John Deere-produkbekendstelling op NAMPO Park gehou. Tydens hierdie twee dae is nuwe produkte vertoon en inligting oor presisieboerdery, finansiering en markte aan nagenoeg 500 produsente oorgedra.

Met 177 jaar op hulle kerfstok is John Deere reeds die afgelope 52 jaar in Suid-Afrika betrokke. Volgens mnr Alwyn Small, verteenwoordiger van die maatskappy, is hulle ook die eerste maatskappy in die land wat finansieringsoplossings deur een van sy divisies in die organisasiestruktuur aangebied het.

In 2005 het John Deere Credit (in 2011 verander na John Deere Financial) deel geword van die John Deere-familie en is ‘n formele alliansie-ooreenkoms met Absa gesluit. “Ons uitsluitlike doel was om ons produkte te finansier en daardeur te wys dat ons daardie produkte ondersteun,” het Small gesê. Die 3 333 aktiewe rekeninge wat tans op die boek is, geniet verskillende opsies wat die termyn van transaksies, frekwensie van betaling asook die hantering van BTW betref.

Volgens mnr Ferdie Pieterse (bestuurder: Senwes Village Meganisasie) dui John Deere FarmSight op ‘n wye reeks produkte en dienste – hoofsaaklik met kommunikasie met die produsent ten doel.

“Dit begin by die produsent se toerusting, sy trekker, stroper en spuit. Dit het te doen met reeds bestaande presisieboerderytegnologie, soos navigasieprodukte, maar nou kan 'n selfoonverbinding ook in hierdie toerusting geïnstalleer word om die produsent of werkswinkel in kennis te stel wanneer daar probleme is. Die doel daarvan is om verslagdoening te genereer en om produsente meer produktief en effektief te maak,” het Pieterse gesê.

Mnr Pieter Esterhuysen (hoofbestuurder: Senwes Grainlink) het genoem dat groot kragte aan die werk is in die voedsel- en landbouwaardeketting. “Dit raak al hoe meer nodig dat daar samesmeltings, oornames en gesamentlike ondernemings in die korporatiewe wêreld ontwikkel. Groter balansstate maak jou vryer om besluite te neem; dit gee jou ook kans om jou koste beter te bestuur en om skaalvoordele te geniet.” Hy het ook genoem dat landbou skielik verander het en getransformeer is na ‘n voorkeur-beleggingsalternatief.

Mnr Philip du Plessis van John Deere het verder ‘n bekendstelling en inligtingsessie van nuwe modelle in die John Deere-reeks gegee waarna hulle in aksie tydens ‘n praktiese demonstrasie gesien kon word. Hierdie modelle sluit in die 7R, 8R, 8RT en verskeie R spuite.

Publication: February 2015

Section: Relevant

Search