• Login
  • Search Icon

Suksesse in grondhervorming op databank vasgelê – Agri SA

November 2017

Valerie Celliers, SA Graan/Grain medewerker

Die woord “grondhervorming” laat soms ‘n wrang smaak in die mond. Onsekerheid oor die regering se beleid en grootskaalse “politieke geraas” is volgens mnr Christo van der Rheede (adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA) die rede waarom grondhervorming negatief ervaar word. 

Met die doel om grondhervorming vanuit ‘n ander hoek te beskou, het Van der Rheede en sy span verlede jaar begin om suksesse in grondhervorming na te speur en in ‘n databank op te neem. Die webblad is in November 2016 aan die publiek bekend gestel en bevat reeds-gepubliseerde artikels oor grondhervorming wat grotendeels uit die privaat sektor gedryf word en uiters suksesvol is.

Van der Rheede meen dat grondhervorming al hoe meer politieke momentum kry. Hy sê dit is belangrik om die politieke geraas te troef met stories van suksesvolle projekte wat transformasie in landbou verseker. “Die regering faal in hul taak om grondhervorming volhoubaar te bestuur, maar daar is produsente wat in hul privaat hoedanigheid uiters suksesvolle projekte van die grond af opgebou het en volhoubaar bestuur. Die databasis verskaf beste praktyke as dit gaan oor transformasie in landbou.”

Stories van produsente wat grond aangekoop het om in vennootskap met hul plaaswerkers te bewerk, is een van die praktyke wat volgens hom uitstekend werk. “Die landbouer deel nie net só sy kennis met ontwikkelende boere nie, maar bied ook toegang tot markte wat hulle nie noodwendig sou gehad het nie. Verder trek die produsent voordeel daaruit omdat sy transformasieteikens bereik word en sy swartbemagtigingsprofiel hom toelaat om makliker met die regering – en selfs internasionaal – handel te dryf,” het hy gesê. 

Graan SA se uitvoerende hoofbestuurder, mnr Jannie de Villiers, is dit eens dat die databank produsente wat aktief by grondhervorming betrokke wil raak, “skoolgeld” kan spaar. “Die artikels wat op die databank verskyn, is projekte wat werk en wat as volhoubare grondhervorming beskryf kan word. Daar is produsente wat grond koop of selfs huur en dan volhoubaar saam met plaaswerkers boer.”

De Villiers sê dat daar ‘n persepsie bestaan dat ontwikkelende boere nie suksesvol op grond wat deur die regering aan hulle gegee is, kan boer nie. Hy meen egter dat dit onregverdige kritiek is, aangesien grond sonder ‘n titelakte vir enige produsent ‘n uitdaging sal wees. Hy sê sonder titelaktes kan hierdie boere nie lenings by banke kry nie. “In vennootskap met kommersiële produsente het ontwikkelende boere toegang tot krediet en kan hulle die nodige bronne makliker bekom.” 

Volgens De Villiers is die databank betreklik omvattend, met suksesse in verskeie kommoditeite – van veselperskes tot skape. ‘n Verskeidenheid van metodes van aandeelhouding en finansiering word ook beskryf en kan aan produsente duidelike riglyne vir hul eie projekte gee. “Ek glo dat hierdie suksesverhale produsente sal aanmoedig en leiding gee,” sê De Villiers. 

Oor watter kriteria gebruik is om die databank op te stel, verduidelik Van der Rheede dat artikels rakende suksesvolle grondhervorming wat reeds in die media verskyn het, in die databasis opgeneem is. 

“Dit is nie altyd maklik om die stories bymekaar te kry nie, omdat produsente soms sku is om hul stories te deel. Daarom het ons ge­vind dat dit makliker is om ons soektog te fokus op die media – waar die stories reeds gepubliseer is. Al die artikels bevat sukses­verhale – dít wat in die praktyk werk.” 

Van der Rheede nooi produsente uit om hul suksesverhale met Agri SA te deel met die doel om ook dié verhale in die databank op te neem.

Agri SA se uitvoerende direkteur, mnr Omri van Zyl, glo dat grondhervorming benader moet word deur aan produsente die voordele daarvan uit te wys. “Die spreekwoordelike ‘carrot and not the stick’ is al manier waarop grondhervorming volhoubaar gaan wees.”

Van Zyl glo dat produsente baat sal vind by die databank deur kennis op te doen van die verskeidenheid van finansierings­meganismes wat reeds gebruik word om die projekte suksesvol en volhoubaar te maak. Die verhale spreek van samewerking tussen kommersiële produsente, plaaswerkers, gemeenskappe, die privaat sektor en die regering,” vertel hy.

Die databank met artikels is beskikbaar by http://www.agrisa.co.za/sustainable-growth/ en sluit suksesverhale in soos dié van Cedar Citrus op Citrusdal in die Wes-Kaap. Die projek is op die been ge­bring deur ALG Estates en altesaam 36 plaaswerkers word deur die projek bevoordeel. ALG Estates het 40 ha grond beskikbaar gestel en 36 000 sitrusbome as donasie gegee. 

Nog ‘n voorbeeld is die verhaal van mnr en me Denis en Aleysia Shaw wat op Porterville in die Wes-Kaap die Bergland Trust saam met gemeenskapslede en plaaswerkers op die been gebring het. Die trust het 75 ha grond gekoop, wat nou in ‘n samewerkende ooreenkoms bewerk word. 

Mnr Bernhardt du Toit en 242 van sy plaaswerkers het ‘n ooreenkoms aangegaan waar die plaaswerkers 33% aandele in sy boerdery verkry het. Die plaaswerkers is ten volle betrokke by die boerdery en die besluitnemingsprosesse. Hulle word finansieel bevoordeel deur dividende wat aan aandeelhouers uitbetaal word. 

Me Barbara van den Bossche het ‘n projek begin wat 197 plaaswer­kers in die Elgin-vallei bevoordeel. Plaaswerkers het aandele bekom en word finansieel bevoordeel deur die uitbetaling van dividende. 

Vele ander projekte wat groot besighede – en selfs skole – insluit, word ook in die databank vervat.
 

Publication: November 2017

Section: Relevant

Search