• Login
  • Search Icon

Strategiese belyning vir volhoubare graanproduksie

June 2010

Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder

Die huidige mielieoes is die beste voorbeeld van die bedryf se verbintenis tot die doeltreffende kombinasie van die hulpbronne wat tot die beskikking van produsente is. Maksimum produksie het die bedryf egter op sy kop gekeer en produsente is tans ‘n slagoffer van hul eie doeltreffendheid met lae pryse weens ‘n ooraanbod. Optimale produksie en gevolglike maksimum wins vra egter kopskuiwe. Ekonomiese wetmatigheid dikteer dat die enigste teenvoeter vir lae pryse te midde van ’n trae, onvoldoende vraag is om produksie of aanbod te verminder.

Daarvoor is tyd nodig, want met die huidige oes/aanbod as gegewe, is die aanbod totaal prys-onelasties. Prysveranderings het geen impak op die huidige aanbod nie, maar met voldoende tyd vir aanpassing, behoort die aanbod te reageer. Die ironie is dat die gewenste reaksie aanbodvermindering oor tyd moet wees, maar waarvan die gevolge geweldig negatief sal wees.

Landbou speel ‘n ononderhandelbare rol in die waardeketting; en die presiese plek, as die sneller van ekonomiese aktiwiteite, word weliswaar erken, maar ongelukkig nie genoeg waardeer nie. Die huidige prysvlakke vir mielies het ooglopende negatiewe gevolge waarvan die belangrikste die volgende is:

  • Die verswakkende ruilvoet het veroorsaak dat produsente nie munt kon slaan uit die laer en verstadigde insetinflasie nie.
  • Winste verweer en kredietwaardigheid word afgebreek.
  • Die kwynende besteevermoë kniehalter tegnologiese vernuwing en hoër produktiwiteit.
  • Dit onderbeklemtoon primêre landbou se ontwikkelingsrol, omdat waardetoevoeging as ‘n entrepreneuriese alternatief of aanvullende aktiwiteit, ondergeskik bly.

Die besigheidsomgewing waarbinne produsente moet optree is allermins bevorderlik vir winsgewende produksie. Die gevolglike herstrukturering kan binne die afsienbare toekoms ernstige negatiewe gevolge inhou ten opsigte van voedselsekuriteit oor die algemeen, maar veral ten opsigte van voedselsekerheid. Dit is dus noodsaaklik dat ‘n afdwingbare strategiekaart ontwikkel moet word as ‘n konsensus oplossing vir die graanbedryf in die geheel. Belangrike punte wat oorweging moet geniet sluit in:

  • Doeltreffende invoervangingsinisiatiewe. Te veel onverwerkte graanprodukte verlaat die land net om produkte in te voer waar waarde reeds in die buiteland toegevoeg is. Dié aktiwiteite is ge woon nie regverdigbaar nie as ‘n mens in ag neem dat sodanige invoere eintlik neerkom op ingevoerde werksgeleenthede en winste.
  • Die onmiddellike bevordering van waardetoevoeging vóór uitvoere met dien verstande dat onverwerkte uitvoere eintlik belas moet word.
  • Meer aggressiewe markuitbreiding met die hersiening van die biobrandstofstrategie as kernpunt. Dit is onverskoonbaar dat onverwerkte mielies uitgevoer moes word teen pryse wat nie die werklike waarde reflekteer nie, terwyl invoervervangende etanol geproduseer kon word.
  • Meer daadwerklike beleidsinisiatiewe vir die graanbedryf om selfs teen uitvoerpariteitpryse winsgewend te kan produseer. Die graanbedryf beskik oor die tegnologie en die bestuursvaardigheid om meer mededingend te produseer, maar die transaksiekoste is te hoog.

Hoop is nie ‘n strategie nie – byvoorbeeld die hoop dat wêreldmarkte sal herstel. Dit is ten beste slegs ‘n aspek wat strategiese regstellings kan komplementeer. Die    graanbedryf verdien ‘n behoorlike belyning van strategieë op alle tersaaklike vlakke.

Publication: June 2010

Section: Editorial

Search