• Login
  • Search Icon

Springhaasrotnavorsingsprojek skop af

January 2014

image

PETRU FOURIE, EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Dit is met opwinding en ná ‘n lang wag vir voldoende befondsing dat die springhaasrotnavorsingsprojek uiteindelik ‘n aanvang neem. Dié projek word gedeeltelik deur die Mielietrust, die Sasol Landboutrust en die LNR befonds. Die eerste fase van die projek sluit die bepaling van effektiewe gifstowwe sowel as die tyd en dosis van toediening in, terwyl daar ook na die ekologie van die springhaasrot gekyk gaan word.

Hierdie navorsing word in die Wesselsbron/Hoopstad-omgewing gedoen en proefpersele is reeds in die gebied uitgelê. Reën wat die afgelope tyd daar voorgekom het, het meegebring dat opslagmielies sowel as ander opslaggewasse opgekom het. Hierdie opslag is ‘n goeie bron van voedsel vir die springhaasrotte en is die eerste werklike voedsel (sagte plantmateriaal) waarvan hulle hou. Dit kan die getalle van springhaasrotte waarskynlik laat toeneem.

Produsente word aangeraai om terwyl hulle nog besig is met grondbewerkings, op die uitkyk te wees vir waar springhaasrotte voorkom. ‘n Moontlike aanbeveling is dat tonnelbehandelings op hierdie probleemareas toegepas kan word. Rotgif kan in die tonnels gegooi word in die vorm van ‘n wasblokkie of beroking. ‘n Verdere aanbeveling is dat daar nie gif gestrooi moet word nie aangesien daar tans voldoende ander voedsel op die lande beskikbaar is en dit ook nie omgewingsvriendelik is nie.

Die oogmerk is om hopelik teen die aanvang van volgende jaar se plantseisoen antwoorde en oplossings oor die beheer van springhaasrotte te kan deurgee, hoewel ‘n paar jaar se resultate eers feitelike antwoorde sal kan lewer.

Kontak Frikkie Kirsten by die LNR-Plantbeskermingsnavorsingsinstituut by 012 808 8217 vir verdere inligting.

Publication: January 2014

Section: Input Overview

Search