• Login
  • Search Icon

Spandeer tyd; maak trekkersomme en spaar

August 2018

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

As ‘n gewas ná die optimale plantdatum geplant word, sal die verwagte opbrengs laer wees. Gewoonlik beteken dit dat die gewas nie optimaal sal produseer nie en daarom sal die opbrengs oorwegend laer wees.

Om betyds te kon plant beteken dat al die bewerkingsaksies tydig uitgevoer moes word. Ten einde die bewerkings tydig gedoen te kry, moet ‘n produsent oor genoeg trekkers en toerusting beskik om die werk af te handel. As die lengte van die bewerkingsvenster bekend is, kan die produsent bepaal hoeveel trekkers van watter grootte nodig sal wees om die werk tydig gedoen te kry. 

Watter planter is die beste om te koop?
Gegewe die beperkende plantvenster, wil heelwat produsente weet of hulle hul huidige vloot planters moet verkoop en eerder moet oorskakel na een of twee groot planters.

Die beginsel in hierdie berekening is om die verskillende planters se kapitale uitleg (vir die planter en sy trekker) asook die hoeveelheid planters wat met dieselfde geld gekoop kan word, te vergelyk met die hoeveelheid hektare wat geplant kan word. Met die ontleding van hierdie vraag, het ‘n paar ander interessante feite na vore gekom.

Die eerste aspek gaan oor die koste per kilowatt van die verskillende trekkers. In Grafiek 1 word die koste van die trekkers (tweewieldryf, vierwieldryf, vierwieldryf met ‘n kappie en trekkers wat met rusperbande toegerus is) vergelyk.

Hierdie grafiek is saamgestel uit prysinligting van 103 verskillende modelle van die meeste groot trekkervervaardigers. Uit hierdie grafiek is dit duidelik dat die kleiner trekkers per kilowatt die goedkoopste is en soos die trekkers se kilowatts toeneem, die koste ook styg. Die vraag is: Hoekom neem dit toe? Die meerderheid groot trekkers is mos reeds toegerus met alles wat oop- en toemaak?

In Tabel 1 word die inligting wat gebruik is om die koste van verskillende planters met mekaar te vergelyk, aangetoon.

Uit die inligting in Tabel 1 is dit duidelik dat die grootste planter (die 12-ry 0,9 m) se koste per ry die hoogste is. Dit is die gevolg van die hoër koste per kW asook ‘n hoër koste per ry vir die planter. 

In Tabel 2 word die inligting verder ontleed. Daar word verwys na die hoeveelheid planters wat met dieselfde hoeveelheid geld gekoop kan word asook die hektare wat per dag per planter en in totaal geplant kan word.

Hierdie inligting toon dat die grootste planter nie noodwendig die meeste hektare per dag kan kafdraf nie. Dit is dus nie die beste manier om beperkende kapitaal aan te wend nie. Daar kan verseker ander aspekte in aanmerking geneem word om te regverdig om ‘n groot planter te bekom, maar finansieel is dit nie die beste plan nie. 

Indien die 12-ry planter teen 13,5 km/h gesleep kan word, behoort dieselfde hoeveelheid hektare geplant te kan word. Dit beteken dat die planter 35% vinniger gesleep moet kan word. Maak dus seker voordat jy besluit om hierdie groot planters aan te skaf. 

Ander trekkerkoste
Om trekkers en toerusting te besit, het ook sy eie uitdagings, waarvan arbeid, waardevermindering en herstelwerk maar net ‘n paar is. Een van die belangrikste punte is die hoeveelheid kapitaal wat in dié gedeelte van die boerdery opgesluit word. Die toerusting moet een of ander tyd vervang word en dit is dikwels ‘n moeilike besluit van wat wanneer vervang moet word. 

Behalwe vir die vervanging, moet daar ook besluit word watter grootte trekkers en hoeveel waarvan aangeskaf moet word. Moet ons net groot trekkers koop? Of moet ons net een groot trekker koop en ‘n paar kleiner trekkers, of moet ons net klein trekkertjies besit? Voorwaar groot besluite om te neem en elke boerdery se samestelling sal verskil. 

Om die besluit te maak watter grootte trekkers aangeskaf moet word, moet die produsent self uitklaar watter bewerkings binne watter tydsduur gedoen moet word. Bepaal volgens elke aksie hoe lank die bewerkingsvenster is en ook hoeveel hektaar per dag watter trekker kan doen. Die koste om hierdie spesifieke trekker aan te skaf, is ook belangrik. 

Verskeie publikasies bevat sorgvuldige inligting rondom die bewerkingskoste en bewerkingstempo’s. Bekom gerus die Direktoraat Landbou-ekonomie se publikasie Guide to machinery costs, die Meganisasiegids soos saamgestel deur JP le Roux of kontak die landboudienste-afdeling by die meeste landboubesighede. 

In Tabel 3 word die koste asook die werkstempo van 70 kW - 80 kW vierwieldryf trekkers getoon terwyl Tabel 4 die koste en werkstempo van 250 kW trekkers weergee.

Tabel 3 is opgestel deur gebruik te maak van die Guide to machinery costs en ander meganisasiegidse en is aangepas na 2018 gemiddelde nuwe pryse. In Tabel 3 word aangetoon dat ‘n 77 kW trekker 14,91 liter diesel gebruik om ‘n hektaar te ploeg en ‘n trekker 1,07 uur benodig om 1 ha te ploeg. Dieselfde 77 kW trekker behoort 5,15 liter diesel te gebruik om 1 ha met ‘n 6-ry geenbewerkingsplanter te plant en só ‘n kombinasie behoort ongeveer 27 ha in tien ure te kan plant. Die totale koste om ‘n hektaar te dis behoort R259,84 te beloop. 

Wat egter nie uit die oog verloor moet word nie, is dat die meeste produsente dink hulle trekkers werk tien ure per dag, maar gaan die uurmeters na – dan is daar groot afwykings. In die meeste van die gevalle is die werkstyd heelwat minder. Die arbeiders mag dalk tien ure by die werk wees, maar net die tyd wat die trekker staan terwyl die trekkerbestuurder eet en sy draaie loop asook ander staantyd maak dat die trekker minder ure opsit. Maak die trekker vol met diesel en nog ‘n halfuur is weg. En so kan jy aan gaan.

Tabel 4 is ook opgestel deur gebruik te maak van die Guide to machinery costs asook ander meganisasiegidse wat met gemiddelde nuwe trekker- en implementpryse aangepas is. 

Uit hierdie inligting is dit vir ‘n 240 kW trekker moontlik om 23 ha in tien ure te ploeg en 42 ha per tien ure te beitel.

Gegewe hierdie inligting en die begrip dat die lande binne 15 dae geploeg moet wees en daar is 1 000 ha om te werk, sal 66 ha/dag geploeg moet word. As aanvaar word dat die trekker tien ure per dag kan werk, sal daar drie maal 240 kW trekkers benodig word om die werk betyds afgehandel te kry. Ten einde dieselfde plaas met 70 kW - 80 kW trekkers te ploeg, sal daar om en by sewe trekkers benodig word.

Maak jou eie somme; dit is die enigste manier om jou koste te bepaal, maar onthou dat jou keuse finansiële gevolge gaan hê. Te veel trekkers is net so negatief as te min trekkers. Doen moeite om die regte kombinasie en hoeveelheid trekkers te kies en maak seker dat dit ‘n werkbare opsie is. 

Vir navrae oor die artikel, kontak die outeur by 082 759 2991.

Publication: August 2018

Section: Focus on

Search