• Login
  • Search Icon

Sorghum speel sleutelrol in Suid-Afrika se bio-etanolbedryf

February 2012

image

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM: MARKNAVORSING, GRAAN SA

Die belangrikheid van sorghum in die Suid-Afrikaanse ekonomie beloof om in die nabye toekoms aansienlik toe te neem. Sorghum is ‘n sleutelgewas om die bio-etanolbedryf in Suid-Afrika te help uitrol. Die regering se besluit om mielies as grondstof uit te sluit, het die keuse op sorghum as grondstof laat val in landelike gebiede waar die verbouing van suikerriet nie moontlik is nie.

Huidige stand van sorghumproduksie

Suid-Afrikaanse produsente is van voorneme om in die 2012/2013-bemarkingsjaar 47 000 ha sorghum aan te plant. Teen ‘n opbrengs van 2,5 ton/ha kan die verwagte produksie 118 000 ton beloop. Met ‘n oordragvoorraad van 26 000 ton en ‘n totale vraag na sorghum van 228 000 ton, sal Suid-Afrika genoop wees om ongeveer 110 000 ton sorghum in te voer.

Toekomstige sorghumbehoefte

Die regering se voorneme om ‘n verpligte inmengkoers van 2% bio-etanol in die nasionale petroleumpoel af te kondig, kan goeie gevolge vir die sorghumbedryf inhou.

Deur lisensies aan twee bio-etanolproduksieaanlegte wat sorghum as grondstof gaan gebruik, toe te ken, word groei in die sorghumbedryf ondersteun. Die omvang van die lisensies vereis ‘n bykomende jaarlikse vraag van 600 000 ton sorghum. In vergelyking met die projeksies vir die 2012/2013-bemarkingsjaar, beteken dit ‘n moontlike toekomstige verhoging in sorghumaanplantings vanaf 47 000 ha tot 287 000 ha.

Die sorghumbedryf beloof om dus ‘n groot bydrae tot Suid-Afrika se landelike ekonomie te maak.

Voordele wat die sorghumbedryf vir Suid-Afrika se landelike ekonomie inhou

Die volgende voordele kan uit die ontwikkeling spruit, naamlik:

  • Bykomende aanplantings van ongeveer 240 000 ha sorghum;

  • Bykomende produksie van 600 000 ton sorghum;

  • Teen ‘n drie maande gemiddelde Safex-prys (April, Mei en Junie 2011) van R1 640/ton, beloop die bykomende bruto inkomste vanuit sorghumproduksie tot die landelike ekonomie, in die orde van R984 miljoen;

  • In terme van insette, soos gewaardeer aan die hand van ‘n 2010/2011-produksieseisoenbegroting, kan ‘n bykomende 240 000 ha die volgende benaderde inspuiting tot die waardeketting vir geselekteerde insette gee:

    Sorghumsaad:

    Kunsmis:

    Kalk:

    Diesel:

    Onkruiddoders:

    Plaagdoders:

    Totaal:

    R63,2 miljoen

    R154,3 miljoen

    R30,4 miljoen

    R140,6 miljoen

    R83,3 miljoen

    R4,9 miljoen

    R476,7 miljoen;

  • Die belastingbasis vir die regering verbreed;

  • ‘n Verdere inkomste-inspuiting vir die landelike ekonomie word verdien uit die geproduseerde bio-etanol (ongeveer 240 miljoen liter wat teen die groothandelprys van petroleum gewaardeer kan word) en gedroogde distileergraan (ongeveer 199 800 ton wat teen naastenby die waarde van geelmielies gewaardeer kan word);

  • Ander ondersteunende bedrywe, soos die vervoerbedryf, graanhantering en graanhandel asook bedrywe wat die daaglikse werking van die aanleg ondersteun, soos ensiem en gisverskaffers, sal ook besigheidsgroei ervaar;

  • BFAP het in ‘n onlangse studie bevestig dat daar geen risiko ten opsigte van voedselsekerheid in terme van bekostigbaarheid en beskikbaarheid bestaan indien die inmeng van bio-etanol teen ‘n inmengkoers van 2% verpligtend word nie;

  • ‘n Skoner brandstofbeleid, in ooreenstemming met EU-standaarde vir petroleum en enjinspesifikasies vir motors, word ondersteun;

  • Ongewenste, oksigenerende bymiddels, soos MTBE wat groundwater besoedel, kan deur verhoogde bio-etanolverbruik verplaas word as ‘n meer omgewingsvriendelike alternatief;

  • In terme van werkskepping behoort die suksesvolle vestiging van bio-etanolproduksie teen ‘n inmengkoers van 2% direkte en indirekte werksgeleenthede te skep; en

  • Regeringsbeleid word ondersteun. Volgens die IPAP-beleidsplan kan daar 125 000 werksgeleenthede oor ‘n tydperk van tien jaar in die biobrandstofbedryf geskep word indien die insluitingskoers van bio-etanol tot 10% verhoog word.

Sorghum word verlang vir beplande Cradock bio-etanolaanleg

Die Nasionale Oesskattingskomitee het ‘n uitnodiging aan sorghumprodusente wat belangstel om sorghum vir die Cradock bio-etanolaanleg te produseer, gerig om voor 28 Februarie 2012 hul voornemens te registreer. Die beplande aanleg het 230 000 ton sorghum per jaar nodig.

Produsente kan hul voorneme om vir die aanleg te produseer, skriftelik aan Tebatso Lewele stuur by faksnommer: (011) 269-3158. Die kontakpersoon vir verdere navrae is Noel Kamrajh by (011) 269-3546.

Gevolgtrekking

Die sorghumbedryf en sorghumprodusente behoort dus in die nabye toekoms ‘n groter rol in die ontwikkeling van die landelike ekonomie van Suid-Afrika te begin speel.

 

Publication: February 2012

Section: Markoorsig

Search