• Login
  • Search Icon

Sonneblomkenner tree af, maar nie uit nie

March 2017

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

Een van die groot geeste in agronomiese navorsing, dr André Nel, het einde September verlede jaar na meer as 36 jaar diens by die LNR afgetree.

Dr Nel het in 1980 by die Departement van Landbou se Instituut vir Grond en Besproeiing (tans die LNR-Instituut vir Grond, Klimaat en Water) as ‘n besproeiingsbeplanner begin werk.

Hy het egter gou oorgeskuif na navorsing en deelgeneem aan projekte wat vir die Waternavorsingskommissie gedoen is oor die waterbehoeftes van gewasse. In 1990 is dié navorser oorgeplaas na die Departement van Landbou se Instituut vir Graangewasse (tans die LNR-Instituut vir Graangewasse) waar hy betrokke geraak het by akkerboukundige projekte met betrekking tot sonneblom en die wisselbou van graangewasse. Sedert 2008 het hy hom ook met bewaringslandbouprojekte – waarvan geenbewerking en wisselbou deel vorm – besig gehou.

Volgens hom was die werk wat met bewaringslandbouprojekte gedoen is een van die hoogtepunte van sy loopbaan.

“Van die resultate wat ons gekry het, het ‘n mens verstom, só positief was dit. Heelwat produsente het oorgeskakel na bewaringslandbou en hul resultate en ondervinding kom ooreen met die resultate van ons proewe. Dit is uiters bevredigend en laat ‘n mens voel dat jy deel vorm van ‘n belangrike en sinvolle verandering in graanproduksie,” het hy gesê.

Mnr Thinus Prinsloo, navorsingspanbestuurder van die Agronomieafdeling waarin dr Nel gewerk het, praat met groot lof van sy voormalige kollega.

“André is ‘n uitstekende senior agronomiese navorser (hulle is so skaars soos hoendertande in Suid-Afrika!) wat besonder hoog deur die hele graan- en oliesadebedryf aangeskryf word. Ek weet nie van een van sy navorsingsvoorstelle wat nie deur verskeie befondsers goedgekeur is nie.

“Hy sal veral onthou word as ‘n kundige op die gebied van bewaringslandbou en is met reëlmaat deur boereverenigings, universiteite en instansies uitgenooi om lesings, hulp en beplanning – en verwerking van resultate – te verskaf. Hy het ook gereeld produsente in Namibië gaan toespreek en ondersteuning verleen met bewaringslandbou. Buiten dit was hy ook seker die enigste agronomiese spesialis op sonneblom in die land,” sluit Prinsloo af.

Steeds betrokke by bewaringslandbou
Al beskou hy homself as “semi-afgetree”, is dr Nel darem nie vir landbou verlore nie: Hy gaan by van Graan SA se bewaringslandbouprojekte as navorser betrokke wees en produsente ondersteun met die beplanning van proewe wat hulle uitvoer asook by die ontleding van die resultate en die interpretasie daarvan.

“Ek wil ook nog verdere konsultasiewerk doen soos geleenthede hulle voordoen,” het hy aan SA Graan/Grain gesê.

Publication: March 2017

Section: Relevant

Search