• Login
  • Search Icon

SOMERGRAANWINSGEWENDHEID: Uitdagende besluite vir die 2014/2015-produksieseisoen

September 2014

PETRU FOURIE, ekonoom, Bedryfsdienste, Graan SA

Die nuwe plantseisoen vir somer gewasse is om die draai, hoewel dit voel asof strooptyd maar nou die dag eers afgehandel is.

Die komende plantseisoen beloof inderdaad om ‘n baie uitdagende een in terme van winsgewendheid te wees en dit is opmerklik dat produsente kopkrap en somme maak vir die planttyd wat voorlê.

Kommer heers oor of koste deur inkomste gedek sal word, weens die toenemende styging van insetkoste en in besonder die druk wat op mieliepryse is ná verlede seisoen se rekordoes asook lae internasionale pryse.

Noodsaaklikheid van produksiebegrotings

Die daarstel van produksiebegrotings voor die aanplant van gewasse, raak al meer kritiek en moenie ligtelik opgeneem word wanneer produksiebesluite geneem word nie.

Niemand kan die toekoms met al sy risiko’s en onsekerhede akkuraat voorspel nie – produksiebegrotings is bloot gebaseer op toekomsplanne, vooruit skattings, historiese gegewens, aannames en vorige ondervinding.

In die lig hiervan moet produsente as gebruikers van begrotings, daarvan bewus wees dat begrotings asook die aannames waarop dit berus, voortdurend aan veranderinge onderworpe is.

Ons weet dat produksiekoste radikaal van buurman tot buurman kan verskil weens elke graanprodusent se eie unieke sisteem, die tipe boerdery-eenheid, en die produksiepraktyke wat gevolg word. In hierdie artikel is daar gepoog om die koste vir die mees algemene produksiepraktyke voor te lê. Hier volg ‘n winsgewendheidsvergelyking tussen somergewasse.

Noordwes-Vrystaat

Die winsgewendheid (bruto marge) van verskillende opbrengsscenario’s vir somergewasse vir die sentrale dele van die land (die Noordwes-Vrystaat-omgewing) vir die 2014/2015-produksieseisoen, word in Grafiek 1 aangetoon.

image

Die bruto produksiewaarde en direkte veranderlike koste is gebruik om die bruto marges te bereken. Die bruto produksiewaarde word bereken deur die opbrengs van die gewas met die prys wat vir die produk ontvang word, te vermenigvuldig.

‘n Produsenteprys is dus gebruik, wat beteken dat die liggingsdifferensiaal en ander koste in ag geneem is.

Om die bruto marge te bereken, word die direkte veranderlike koste van die bruto produksiewaarde afgetrek. Vaste koste wat gewoonlik uitgawes is wat aangegaan moet word of daar geproduseer word of nie, is nie hier in berekening gebring nie; die bruto marge syfers is dus die marge voor vaste koste verhaal word.

Die Safex-vooruittermynkontrak wat in die berekeninge gebruik is, tydens skryf van die artikel, is soos volg:

  • Mielies vir lewering in Julie 2015 = R2 000/ton
  • Sorghum vir lewering in Julie 2015 = R2 700/ton
  • Sojabone vir lewering in Mei 2015 = R5 000/ton
  • Sonneblom vir lewering in Mei 2015 = R4 800/ton
  • Grondbone vir lewering = R10 500/ton (keurgraad)

Grafiek 1 toon die bruto marge per hektaar vir verskillende gewasse aan. Die opbrengs scenario’s is gebou op grond van aannames vir produksie-omstandighede in die Noordwes Vrystaat. Hierdie grafiek is saamgestel om ‘n indikasie van die verskil in winsgewendheid tussen die verskeie somergewasse uit te beeld, maar dit is belangrik om daarop te let dat hierdie syfers van produsent tot produsent kan verskil. (Let wel: Die grafiek bevat verskillende bruto marge voorbeelde vir mielies.)

Volgens Grafiek 1 is dit duidelik dat grondbone die beste bruto marge vir die komende produksieseisoen toon, gevolg deur sojabone en sonneblom. As daar na die gemiddelde bruto marge vir mielies gekyk word, is dit duidelik dat die scenario’s onder hoër opbrengspotensiaal en die verminderde bewerkingspraktyk (vyf jaar), beter marges as die ander mieliescenario’s lewer.

Hierdie inligting dui verder dat, hoewel daar kortter mynbesparings op insetkoste verwag kan word as daar van konvensionele praktyke na ‘n verminderde bewerkingstelsel oorgeskakel word, hierdie oorskakeling die winsgewendheid van mielieproduksie veral oor die medium- tot langtermyn kan verhoog. Die koste-knyptang-situasie waarin die winsgewendheid van mielieproduksie homself teen die huidige relatiewe laer pryse bevind, is onvermybaar. Produsente moet egter seker maak dat hulle wel ‘n sorghumkontrak het, voordat hulle besluit om sorghum aan te plant.

Produksiekoste vir die 2014/2015-produksieseisoen

In Tabelle 1 tot 3 word die koste om graan in die westelike, sentrale en oostelike dele van die land te verbou, aangedui. Verskillende aannames is met die opstel van die begrotings gemaak, hetsy dit pryslyste van insetverskaffers of vooruitskattings met behulp van future rand/dollar-wisselkoerse en ruoliepryse was.

image

image

image

Die begrotings in Tabelle 1 tot 3 is saamgestel deur veranderlike en vaste koste in berekening te bring. Sedert die koms van die vrye mark, moet produsente self besluit of die Safex-prys voldoende is om te produseer al dan nie.

Slegs deur alle koste te bereken, kan ‘n sinvolle besluit vir volhoubare produksie geneem word. Vervolgens moet vasgestel word hoeveel geld nodig is om die vaste en veranderlike koste van die onderneming te dek en watter vertakkings hoeveel daarvan gaan bydra.

Veranderlike koste
Die veranderlike koste is gewoonlik daardie koste wat maklik met die vertakking geassosieer word en verander soos daar meer of minder van die inset gebruik word. In die gewasvertakkings sal veranderlike koste bestaan uit, byvoorbeeld saad, kunsmis, onkruiddoder en diesel. Uit die meegaande tabelle is dit duidelik dat bemesting die grootste komponent van die veranderlike koste uitmaak.

Vaste koste
Die vaste of oorhoofse koste is gewoonlik uitgawes wat aangegaan moet word of daar geproduseer word of nie. Voorbeelde van vaste koste is salarisse, huur, lewenskoste, water en elektrisiteit en nog vele meer. Hierdie koste moet by die veranderlike koste per hektaar getel word om die totale produksiekoste te bereken.

Westelike produserende streek

In Tabel 1 word die produksiekoste van Bt-mielies, sonneblom en sojabone in die westelike streek vir die komende seisoen getoon.

Produksiekoste van droëland-GM-mielies (Bt)
In die eerste kolom van Tabel 1 word die begrote produksiekoste van Bt-mielies vir die 2014/2015-produksieseisoen uiteengesit. In die tabel word die produksiekoste van ‘n 3 ton/ha- en 4 ton/ha-opbrengsmikpunt ten toon gestel. Die totale veranderlike koste vir ‘n 3 ton/ha opbrengs beloop ongeveer R5 204/ha vir ‘n Bt-mieliekultivar. ‘n Berekende vaste koste van R2 206/ha word bygetel om ‘n totale produksiekoste van R7 410/ha onderskeidelik daar te stel.

‘n Julie 2015 Safex-mielieprys van R2 000/ton is gebruik, wat min of meer R1 751/ton in die produsent se sak sal beteken ná inagneming van die liggingsdifferensiaal, hanteringskoste en bemarkingskommissie.

Indien hierdie prys teen die begrote insetkoste realiseer, moet die produsent vir ‘n Bt-mielie ‘n minimum van ongeveer 4,5 ton/ha stroop om gelyk te breek.

Let daarop dat Graan SA se begrotingsmodel volledig is en grotendeels alle koste in ag neem wat deur produsente aangegaan kan word. Indien ‘n opbrengs van 3 ton/ha behaal word, sal ‘n Safex-prys van R2 719/ton vir ‘n Bt-mielie nodig wees om gelyk te breek. Dit is duidelik dat winsgewende mielieverbouing onder druk is en produsente word aangeraai om hulle somme deeglik te maak.

Produksiekoste vir sonneblom
Die tweede kolom van Tabel 1 bevat die insetkoste vir die verbouing van sonneblom. ’n Mei 2015 Safex-sonneblomprys van R4 800/ton is gebruik, wat ‘n prys van ongeveer R4 496/ton in die produsent se sak beteken ná inagneming van die aftrekkings.

Gegewe die begrote insetkoste, kan ‘n minimum van 1,25 ton/ha sonneblom in die westelike streek gestroop word om gelyk te breek, mits die begrote insetkoste verwesenlik.

Die sojaboonbegroting vir die westelike dele van land gaan nie in diepte bespreek word nie, maar die aanname kan gemaak word dat sonneblom en sojabone, op papier, meer winsgewend as mielies verbou kan word.

Oostelike produserende streek

In Tabel 2 word die produksiekoste van GM-mielies (RR) en sojabone in die oostelike streek vir die komende seisoen geïllustreer.

Produksiekoste van droëland-GM-mielies (RR)
In die eerste kolom van Tabel 2 word die begrote produksiekoste van GM-mielies (RR) vir die 2014/2015-produksieseisoen vir die oostelike streke uiteengesit.

’n Julie 2015 Safex-graanprys van R2 000/ton is weer eens gebruik. In die tabel word die produksiekoste van ‘n 5 ton/ha- en 7 ton/ha-scenario ten toon gestel. Indien dié Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (vaste plus veranderlike koste) realiseer, moet 'n produsent in daardie omgewing vir ‘n RR-mielie ongeveer 7 ton/ha stroop om gelyk te breek. Met slegs die inagneming van die veranderlike koste (uitgesluit vaste koste), kan 'n produsent teen ongeveer 5 ton/ha gelykbreek.

Produksiekoste vir sojabone
Die tweede kolom van Tabel 2 illustreer die uiteensetting van insetkoste vir die verbouing van sojabone. Aannames wat met die opstel van die sojaboonbegroting gemaak is, is dat 50% van die saad deur produsente teruggehou is, terwyl die ander 50% gesertifiseerde saad is. Die begroting sluit ook ‘n koste vir N, P en K in.

‘n Mei 2015 Safex-sojaboonprys van R5 000/ton is gebruik en aangesien sojabone geen liggingsdifferensiaalkoste het nie, kan ‘n moontlike prys van R4 941/ton in die produsent se sak realiseer nadat hanteringskoste en bemarkingskommissie afgetrek is.

Gegewe die insetkoste (vaste plus veranderlike koste), soos wat in Tabel 2 aangetoon is, en die gemelde Safex-prys, kan ‘n opbrengs van ongeveer 1,5 ton/ha in die oostelike streek behaal word om gelyk te breek.

Sentrale produserende streek

Tabel 3 toon die begrote produksiekoste vir mielies, sonneblom en sojabone vir die sentrale dele van die land.

Maak jou eie somme

Baie kan natuurlik nog in die mark gebeur, maar die belangrikste punt bly egter dat elke produsent die verantwoordelikheid moet neem om sy eie persoonlike somme te maak. Stel vas teen watter prys jou graan verkoop kan word sodat al jou koste betaal word en jy ‘n wins genereer. Dit is dus belangrik om jou gelykbreekprys (R/ton) vas te stel om jou totale koste te kan dek.

Produsente en ander rolspelers kan die basiese produksiekoste op die Graan SA-webtuiste besigtig, terwyl die model gratis aan alle opbetaalde Graan SA-lede beskikbaar is. Stuur 'n e-pos aan petru@grainsa.co.za met jou Graan SA-lidnommer om die model vir jou spesifieke omgewing te ontvang.

Publication: September 2014

Section: On farm level

Search