• Login
  • Search Icon

Somergraansaadpryse:
Het produsente rede tot kommer?

July 2018

Graan SA se Produksie/Inset­werkgroep het vroeër die jaar weer samesprekings met verskeie saadmaatskappye oor Graan SA-lede se kommer oor stygende saadpryse gehou. Daar is tydens hierdie samesprekings klem gelê op die weerstand teen stygende saadpryse wat ál meer ervaar word. Grafiek 1 toon ‘n indeks van mieliesaadpryse teenoor die prys van mielies oor tyd – en produsente se rede tot kommer.

Gegewe uitstekende navorsing in genetika en tegnologie, bly saad een van die belangrikste insette om opbrengste en produktiwiteit in die graanbedryf te verhoog. Afhangende van die plantestand, vorm saad as produksie-inset boonop tussen 10% en 17% van ‘n mielieprodusent se lopende produksiekosterekening. Dit is daarom krities dat produsente die regte kultivars kies, dit opweeg teen prys en opbrengspotensiaal sowel as risikoverspreiding. 

Kultivarbeplanning
Dit is belangrik om vooraf te beplan watter kultivars in die komende seisoen aangeplant gaan word. Kultivars verskil van mekaar in een of meer van ‘n verskeidenheid eienskappe en elkeen het daarom ‘n unieke aanpasbaarheid en opbrengspotensiaal. Volgens die LNR-Graangewasse stel hierdie kultivar-verskeidenheid alternatiewe beskikbaar wat goed benut kan word. Die volgende is belangrike riglyne wat vir kultivarbeplanning oorweeg moet word:

  • Moet nooit ‘n staatmaker-kultivar binne een seisoen met ‘n nuwe of onbekende een vervang nie.
  • Kultivarverskeidenheid versprei risiko. Plant ‘n reeks kultivars wat verskil in groeiseisoenlengte en eienskappe.
  • Kultivars moet aanpas by ‘n spesifieke opbrengspotensiaal, maar moet in staat wees om aan te pas by hoër en laer potensiaaltoestande.
  • Hersien kultivars jaarliks. 

Toevlugsareas vir Bt-mielies
’n Tegnologie-ooreenkoms word by die aankoop van Bt-saad onderteken. Daarin onderneem ’n produsent dat die saad volgens voorgeskrewe riglyne aangeplant sal word. Een van die belangrikste riglyne sluit die plant van ’n toevlugsarea in. Daar is twee opsies wat gevolg kan word: Óf ‘n 5%-aanplanting van nie-Bt-saad waar stronkboorders nie chemies beheer mag word nie, óf ‘n 20%-aanplanting van nie-Bt-saad waar die chemiese beheer van stronkboorders wel toegepas kan word.

Waar die 5%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies aangeplant, uit 5 ha nie-Bt-mielies en 95 ha Bt-mielies bestaan. Sou die 20%-opsie uitgeoefen word, moet elke 100 ha mielies derhalwe uit 20 ha nie-Bt-mielies en 80 ha Bt-mielies bestaan. Bykomend tot die vereiste persentasie nie-Bt-mielies, is daar ook spesifieke maatreëls wat by die aanplanting van ‘n toevlugsarea geld. 

Toevlugsareas moet onder andere só geposisioneer word dat Bt-mielies nie verder as 400 m vanaf ’n toevlugsarea aangeplant word nie, dat ten minste twee buitegrense van die Bt-aanplanting gedek word, dit mag nie uit minder as ses rye bestaan nie en toe­vlugplante mag nie tussen Bt-plante geposisioneer wees nie.

Mielies wat in die toevlugsarea geplant word, moet ook dieselfde groeitempo as die Bt-mielies hê en moet ook binne sewe dae van mekaar geplant word. 

Saadbehandeling
Indien saadbehandeling nie deur die saadmaatskappy self of deur ‘n geregistreerde chemiese verskaffer, wat toerusting en prosesse gebruik wat ISO-geakkrediteer is, gedoen word nie, staan saadmaatskappye nie in vir die kwaliteit van saad nie. In die geval waar ‘n chemiese verskaffer die behandeling doen, moet hy kan verseker dat die behandeling nie die kieming beïnvloed nie. 

Die chemiese middel wat gebruik word, moet ingevolge Wet 36 van 1947 geregistreer wees en verkieslik deur die saadmaatskappy vir die spesifieke kultivar aanbeveel word. Behandeling van Rhizobium is uitgesluit.

Dit word dus aanbeveel dat produsente wat nie saad aankoop wat reeds behandel is nie en dit later wil laat behandel, dit in samewerking met die saadmaatskappy moet doen.

Pryse 
Vir die 2018/2019-produksieseisoen het mieliesaadpryse met gemiddeld 1,8% gestyg. Op ‘n gemiddelde basis het sonneblom met 4,7% gestyg, graansorghum met 7,5% en sojaboonsaadpryse met 0,5%.

Die produsenteprysindeks (PPI) is ‘n goeie barometer waarteen prysstygings gemeet kan word. Vir 2018 tot dusver was die gemiddelde PPI-styging 4,4%. Dit wil sê, op ‘n gemiddelde basis, het sonneblom- en graan­sorghumsaadpryse die produksiekoste-inflasie van die land oorskry. Volgens die Produksie/Insetwerkgroep se barometer, het pryse van gewilde mieliekultivars met 2,4% toegeneem. 

Prysvergelykings tussen verskillende maatskappye kan in Tabel 1 tot Tabel 4 gevind word. Daar is hierdie jaar vir die eerste keer saadpryse van maatskappye soos Seed Co, Agri-Seed, Delta Saad en United Seed ingesluit. 

Let wel dat pryse kan verskil afhangende van pitgroottes en saadbehandelings.

Onthou die volgende as jy saad koop
Met die aankoop van saad is daar ‘n aantal faktore waarop produsente moet ag slaan:

  • Die nuwe kultivars is merendeels die duurder kultivars. Verseker dat die kultivars onafhanklik getoets is en dat die prestasie bewese is. Moet nie onnodig groot risiko’s met ‘n nuwe kultivar loop nie.
  • Neem kennis van die agronomiese eienskappe, aanpasbaarheid, opbrengsprestasie en -stabiliteit, kwaliteitseienskappe en siekte- en plaagweerstand van ‘n spesifieke kultivar voor dit aangekoop word. Raadpleeg die LNR-Graangewasse se 2018 Mielie-inligtingsgids (MIG) of die betrokke kundiges.
  • Wanneer GM-kultivars (Bt- of RR- of dubbelgeen-kultivars) aangekoop word, maak seker dat die tegnologiefooi by die pryslys ingesluit is en dat konvensionele mielies vir die toevlugsarea bykomend aangekoop word. Maak ook seker dat almal wat die saad hanteer, GM-eienskappe op saadsakke kan uitken en ook van konvensionele kultivars kan onderskei. 
  • Sekere saadlotte word met middels behandel wat ‘n verskil aan die prys maak. 
  • Met aankope, maak seker dat die kwaliteit van die saad aan al die vereistes, ook aan dit wat op die sakkie staan, voldoen – veral ten opsigte van die eenvormigheid van pitgrootte en pitvorm. 
  • Wees daarop bedag dat pryse vir verskillende verpakkings geld, naamlik in 15 kg-, 20 kg- en 25 kg-sakkies of in pitverpakkings van 60 000 of 80 000 pitte per sakkie. By sonneblomsaad is daar ook 150 000 en 180 000 pitte per sakkie-verpakkings en sojabone 140 000 pitte beskikbaar. 
  • Kontak saadmaatskappye en hul verteenwoordigers vir meer volledige besonderhede rakende pryse en verskillende verpakkings.
  • Beding vir kortings waar moontlik. Verskeie maatskappye het kortingstrukture vir volume aankope, bevestiging van bestelling, vroeë lewering en vroeë betaling.
     

Publication: July 2018

Section: On farm level

Search